'N DUBBELJUK
 
“My juk is sag en My las is lig” (Matt. 11:30).
Hoe kan dit wees? ‘n Sagte juk en ‘n ligte las? Dis mos ‘n teenstrydigheid! Maar onthou: hierdie is ‘n dubbeljuk. Jy wat sê dat jou las so swaar is, kyk ‘n slag mooi na die Jukgenoot aan jou sy: Jesus Christus Self! Hy lê nie soos die Fariseërs ‘n juk op ons en dryf ons dan met ‘n sweep nie. Hy het die juk van die Wet volledig gedra en dit volbring. Daarom is dit ‘n sagte juk. Die splinters is af. Die juk van die wêreld se skuld het op Sy skouers gerus. Hierdie juk het Sy dood gekos, maar daarmee het Hy die juk van die dood finaal van óns skouers gelig. Ja, ons dra nog elkeen ons kruis. Maar hierdie kruis is ‘n juk wat spesiaal deur die Timmerman van Nasaret vir my skouers gevorm is. Dit is handgemaak vir elkeen. Nog wonderliker: ons dra nie alléén daaraan nie. As jy op hierdie oomblik handdoek wil ingooi, moeg gestry is teen die bose, moeg gebid, moeg gewag, dan sê jou Jukgenoot, jou Vriend en Verlosser: “Jy kan nie nou wegstap nie. Ek en jy moet hierdie wa deur die drif kry. Ons is medewerkers, juk-genote van mekaar.” Bind nou met nuwe begrip hierdie woorde aan jou hart: “Kom dan na My toe,” sê Jesus, “almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal vir jou rus gee. Neem My juk op jou en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en My las is lig” (Matt. 11:28-29).

Indeks     Index