MET WIE PRAAT GOD? | |
  |
Coenie Burger vertel 'n baie mooi storie. Hy vertel dat hulle naby 'n kanaal in die Boland grootgeword het. As kinders het hulle papierbootjies gemaak waarmee hulle in die kanaal gespeel het. Die speletjie het daaroor gegaan dat jou bootjie sonder jou hulp die vinnigste van punt A na punt B moes vaar. Daar was een groot probleem: Hoe hou jy jou hande van jou bootjie af as hy iewers in die riete of agter 'n stuk hout vashaak? Wie ook al sy bootjie losmaak, word gediskwalifiseer. Dan vertel hy hoe jy dan maar 'n rukkie gewag het totdat almal vooruit gehardloop het, en dan stilletjies jou vasgevalde bootjie teruggehelp het in die stroom. 'n Mens kan eenvoudig nie jou hande van jou bootjie afhou nie. Dit is dan jou eie skepping, gemaak met jou eie hande! En dan vra hy die vraag: Hoe moet God dit regkry om Sy hande van ons af te hou wanneer ons iewers vasval? Hy kry dit nie reg nie! Hy't ons aanmekaargeweef in die moederskoot. Hy het ons gemaak. Hy gee so baie vir ons om dat Hy ons nie kan uitlos nie; ook nie as ons vasgehaak het in sonde nie! Dis God se hart om ons te help om heeltyd op die stroom van Sy wil te vaar. In ons harte moet daar egter 'n soortgelyke begeerte wees. En dit wil vir my voorkom asof die intensiteit van daardie begeerte bepaal hoe suksesvol ons op die stroom van God se wil sal bly, al dan nie. Oral Roberts is nie 'n bekende in Suid-Afrika nie, maar in die VSA is hy 'n alombekende evangelis. Hy is nou al in sy tagtigs en steeds besig om die Evangelie van kus-lyn tot kuslyn en van staat tot staat te verkondig. Hy is 'n merkwaardige man wat in geloof 'n Christelike Universiteit tot stand gebring het waar studente in 58 beroepsrigtings opgelei word om vanuit hulle verhouding met God en vanuit die Woord hul beroep te beoefen. Oral Roberts se bedienings-verhaal gryp 'n mens aan die hart. As jong man het hy 'n mentor gesoek; iemand wat hom kon begelei om sy roeping met verant-woordelikheid uit te leef. Hy vra toe 'n man vir wie hy baie respek gehad het om hom op sy geloofspad te begelei. Die persoon stem toe in op voorwaarde dat hulle eers saam gaan swem. Hy het dit nogal vreemd gevind, maar ingestem. Hulle het 'n rukkie geswem toe hy naby sy mentor kom en dié hom gryp en sy kop onder die water druk. Oral Roberts het geskop, gespartel en gespook. Sy longe het begin brand en eers toe hy slap word, het die ouer man hom toegelaat om asem te skep. Toe hy opkom en hygend na asem snak, was hy so kwaad dat hy nie geweet het of hy moet asemhaal, hoes of raas nie! Rustig vra die ouer man: “Het jy na asem gesmag?” “Natuurlik het ek na asem gesmag, wat dink jy?” het hy geantwoord. “Wel,” het die man geantwoord, “ek sal jou mentor wees as jy bereid is om vir die res van jou lewe só na God te smag soos jy nou na asem gesmag het. Dan sal niks jou ontbreek nie.” 'n Mens lees iets van hierdie verlange na God in Psalm 63. Dawid is in die woestyn van Juda, waar hy na God se teenwoordigheid smag: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in 'n dor en droë land, 'n land sonder water” (v. 2). Min mense het 'n smagting na God. 'n Mens kan so maklik voel jy faal omdat jy nie 'n smagting na God het nie. Dit is egter nie iets wat jy uit jouself tot stand kan bring nie. 'n Mens kan nie 'n smagting na God opklits nie. Daar is ook nie 'n resep vir 'n verlange na God nie. Jy kan nie 'n klomp goed bymekaargooi en dan het jy hierdie smagting na God nie. Ons moet vir Gód vra om ons hierdie smagting na Hom te gee. Indien jy een of twee maal gebid het vir 'n diep verlange na God en daar het nog niks in jou geesteslewe verander nie, verwys ek jou graag na die weduwee in Lukas 18:1-8. Jesus vertel Self van die weduwee wat by die regter kom en dan vir hom vra om in haar saak aan haar reg te doen. Die regter steur hom egter nie aan haar nie. Dag vir dag kom sy terug om keer op keer te vra dat hy aan haar reg betoon. Uiteindelik dink die regter by homself: “Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan 'n mens steur ek my nie, maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog” (v. 4-5). Dan beklemtoon Jesus dat as 'n onregverdige regter uiteindelik toegee aan die versoek van 'n kermende weduwee, hoeveel te meer sal God aan Sy kinders reg doen as hulle dag en nag tot Hom roep. Moenie ophou vra vir 'n smagting na God en die vermoë om Sy Stem te onderskei voordat Hy dit aan jou gegee het nie. God sal Hom nie onttrek aan mense wat graag in voortdurende kommunikasie met Hom wil leef nie. Jy hoef nie geleerd, groot of belangrik te wees om te kwalifiseer vir 'n besoek van die Almagtige nie. Miskien het dit tyd geword om jouself te dissiplineer om heel eerste aan God te dink wanneer jy wakker word in die oggend. Kry vir jou 'n item, 'n deuntjie wat jou wakker lui of enige ander vorm van assosiasie wat jou aan God sal laat dink. Voordat jou kop in hoogste versnelling wegtrek om jou besige skedule vir die dag deur te werk, lê nog vir 'n oomblik stil en sê: “Goeiemôre, Here, vandag wil ek graag in U Teenwoordigheid funksioneer. Hou my heeltyd bewus van U Teenwoordigheid. Stel my in staat om heeldag van U bewus te bly, ongeag omstandighede en gebeure.” Bid 'n soortgelyke gebed elke dag! Uit: Hoe Hoor Ons God Se Stem? - Elza Meyer, CUM, 2007. |