SO IN DIE VERBYGAAN... | |
  |
Die son het Joppe wakker gemaak net soos enige ander dag. Die huisies het hulle verkneukel in sy strale en die rustigheid het nog oor alles toegevou gelê. Stelselmatig is die stilte egter deur die alledaagse geluide verbreek en almal het hulle begin gereed maak vir die pligte van die dag. Net in die huis van Dorkas het 'n verslae groepie mense byeengekom. Dit was asof hulle denke benewel was. Hulle wou nie aanvaar dat sy nie meer daar was nie! Tabita, Dorkas, wildsbokkie vol vreugde en skoonheid en deernis wat vir hulle soos 'n moeder gesorg het, was weg. Vir altyd weg! Oor en oor het hulle die woorde van haar getuigskrif uit Handelinge 9:36 vir mekaar herhaal: "Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het." Ja. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. Stuur dadelik na Petrus in Lidda! Hy móét net help! Hulle het van die wonderwerke gehoor wat hy daar verrig het. En sonder Dorkas kon hulle net nie klaarkom nie! Hulle oorval Petrus met bewyse van Dorkas se liefde en diens. Die klere wat sy vir hulle gemaak het. Petrus raadpleeg God en draai hom dan na die liggaam: "Tabita, staan op!" God het die snikkende vroue raakgesien en hulle innig jammer gekry. Hy het die onmisbare Dorkas aan hulle teruggegee. VANDAG is daar steeds 'n sugtende mensdom. 'n Wêreld woes en bar, gestroop en geplunder deur die vyand. Neergeboë en lewensmoeë kinders wat deur volwassenes mishandel en misbruik word. Hongeriges en soekendes... Skraal, honger vingers krap in asblikke rond Krap op soek na stukkies kos vir die mond Menige siel vroetelvinger in lewensdoolhowe rond Soekend na een enkel volmaakte stond... Sal ons dan nie vandag gehoor gee aan Jesus se Roepstem nie: "Gee julle vir hulle iets om te eet..." Dorkas het. En haar lewe het betekenisvol en onmisbaar geword in Joppe. Elke kind van God het iets om aan hierdie wêreld te gee. Laat ons dan barmhartig wees en instrumenteel in die Hande van God om die hongeriges en noodlydendes te voed - liggaamlik en geestelik! © Huegene Venter |