U WOORD IS 'N LAMP VIR MY VOET... | |
  |
By Geopende Deure is ons daartoe verbind om die Here se Woord te bring aan daardie gelowiges wat nie in 'n posisie is om hulle eie eksemplaar van die Bybel in die hande te kry nie. Waarom? Die Woord van die Here is 'n krag van God tot redding. Dit is ook die lamp vir ons voet en die lig vir ons pad. 'n Integrale deel van ons Bediening is dus om Bybels in die hande van gelowiges te plaas. Wat 'n wonderlike voorreg om deel van hierdie onderneming te wees en getuienisse aan te hoor wat bevestig dat Sy Woord lewens verander, leiding gee en gelowiges help om in tye van vervolging sterk te staan! Daniël*, 'n Sjinese gelowige wat tans in die buiteland woon, het die volgende na 'n uitgebreide besoek aan die Sjinese vasteland, gedeel: "Ek het een huiskerk met 'n paar honderd gelowiges besoek. Baie van hulle is die afgelope jare erg vervolg. Ek het gevra hoe hulle kon oorwin en selfs in sulke moeilike tye in getalle kon groei. Hulle antwoord was eerlik, naamlik deur gehoorsaamheid aan die Woord van God, kommunikasie met God, gebed en liefde vir die broers en susters. Hierdie groep het elke week een hoofstuk uit die Bybel gememoriseer. Hulle het dit aanvanklik gedoen omdat hulle nie genoeg Bybels gehad het nie, maar daarmee voortgegaan toe hulle besef hoe hulle lewens hierdeur geseen is." Deur God se Woord hulle eie te maak, het hulle geestelike groei en kerkgroei ondervind. Prys die Here vir elke Bybel wat ons aan hierdie groep kon bring! Die beste manier waarop die Kerk vir vervolging en moeilike tye kan voorberei, is om die Bybel ernstig te bestudeer en die Woord van God te leer. Wang Ming-dao, een van Sjina se bekendste pastore, was 20 jaar lank in die gevangenis. Gedurende hierdie tyd is hy nie toegelaat om 'n Bybel te hê nie. Tussen die ouderdom 21-24 het hy baie tyd aan die studie van die Skrif bestee. In die gevangenis het daardie gedeeltes in sy hart een vir een opgekom om hom te versterk. Hy gee toe dat as dit nie vir daardie woorde van die Here was nie, nie net hy nie, maar baie ander wat saam met hom in die gevangenis was, verslaan en verslae sou wees. Die Woord van God het hom sterk gemaak en was sy enigste bron van krag en bemoediging. Pastoor Lamb, wat ook baie jare in Sjina in die gevangenis was, het groot dele van die Woord gememoriseer terwyl hy in die Bybelskool was. Deur Bybelversies oor en oor te herhaal het hy by sy volle verstand gebly. Die Here se Woord is'n lamp vir sy voet. Jesus Self is ons beste voorbeeld van afhanklikheid van die geskrewe Woord van God. Hy het telke-male uit die Skrif aangehaal, soos toe Satan Hom in die woestyn versoek het. Hy het baie na die Ou Testament verwys wanneer hy die skare en individue onderrig het. My gebed is dat ons die Woord van God sal bestudeer en nie 'n onverskillige houding daarteenoor sal hê nie. Ongebruikte Bybels op Christene se boekrakke is waardeloos. Ons moet die Bybel erken vir wat dit is - God se Woord aan verlore mans en vroue! - Gerrit Coetzee, Geopende Deure, Apr. 2008. |