WONDERWERKE GEBEUR NOG VANDAG | |
  |
![]() Gerrit en Lenie Hough (018 297 2092) Hoe die Here Gideon geroep het, het Gideon 'n teken van Hom gevra. Hy het gesê hy sal 'n stukkie vlieswol op die dorsvloer plaas en as daar die volgende oggend dou op die wol is terwyl die grond droog is, sal hy weet die roepstem is van God. Die volgende oggend was die wol nat. Hy kon 'n hele kom water uitdruk. Toe vra hy weer as die vlieswol droog is terwyl die grond nat is, sal hy glo. Dit het toe so gebeur en hy het die roeping aanvaar. Ons lees daarvan in Rigters 6:36-40. My eerste vrou, Kitty, is in Junie 1994 oorlede. Januarie 2000 het ek een Sondagoggend vroeg opgestaan, geëet en begin gereed maak om kerk toe te gaan. Ek was 'n ouderling in Miederparkgemeente en ons het donker pakke met 'n wit das gedra. Ek het die kasdeur oopgemaak en toe ek my regterhand uitsteek om my swart pak uit te haal, sê 'n stem vir my: "Moenie jou swart pak aantrek nie, haal jou somerspak uit en gaan na die Moedergemeente." (Dit is die kerk wat Julie verlede jaar afgebrand het). Ek het dadelik besef dat dit die Stem van die Heilige Gees moes wees en ek dink toe as Gideon 'n teken van die Here kon vra, dan mag ek ook. Ek maak my oë toe en bid: "Here, as dit U wil is dat ek vandag my vrou moet ontmoet, gee dat sy alleen in die kerk sal inkom, dat sy by my verby moet stap en voor my gaan sit." Ek trek toe haastig aan en gaan na die Moedergemeente. Gelukkig was ek van die eerste kerkgangers en wag toe geduldig. En daar kom my droomvrou alleen die kerk binne, stap verby my en gaan sit voor my. Ek weet toe dat dit my toekomstige vrou is, maar ek weet nie wat haar naam is of waar sy bly nie. 'n Paar weke later stap ek by "Tuisgenot" in en daar sien ek haar! Saam met haar werk Lenie Visser wat ek wel ken. Ek vra haar toe later wie die dame is wat saam met haar werk en sy sê, "mev. Snyman." Terug by die huis raadpleeg ek die Telefoongids, maar daar is te veel Snymans. Hierna ry ek na ds. Jurie Wessels, die plaaslike leraar, maar hy is met verlof tot Februarie. Na sy terugkeer, maak ek met hom 'n afspraak en sê vir hom van die dame wat ek graag wil ontmoet. Al wat ek van haar weet, is dat haar van Snyman is en dat sy vir "Tuisgenot" bak. Hy ken haar toe baie goed en sê dat haar naam Lenie is en dat sy getroud was met Flip Snyman wat in Junie 1994 oorlede is. Hy gee haar telefoonnommer en woonstelnaam aan my. Terug by die huis, skakel ek haar en vra of ek haar mag kom spreek. Sy wou weet in verband waarmee, maar ek sê ek sal verduidelik as ek daar kom. Daar aangekom, nooi ek haar vir 'n ete (3 Maart) by Miederparkgemeente. Twee dae later het sy hierdie afspraak bevestig en 6 maande later bevestig ds. Willem Louw ons in die huwelik. Hy lees uit Genesis 24 waar Abraham sy slaaf, Eliëser, na die stad waar sy broer gewoon het, stuur om vir sy seun Isak, 'n vrou te soek. Toe die slaaf by 'n put kom waar al die meisies water kom skep het, bid hy tot die Here en vra Hom vir 'n teken. Hy vra dat die meisie wat hom sou antwoord: "Drink gerus en ek sal vir jou kamele ook water gee," die regte een sal wees. Toe hy vir Rebekka water vra, antwoord sy die presiese woorde wat hy gebid het. Daarna het die slaaf die Here verheerlik: "Aan die Here God kom al die lof toe! Die Here het nie Sy troue liefde weerhou nie." Daarom wil ons ook vandag al die eer en lof aan die Here bring en wil ons Hom verheerlik! Ons is baie gelukkig en lief vir mekaar. Lenie stel my altyd eerste en vir haar wil ek blomme koop totdat my geld opraak! |