GAAN VERTEL DAT JESUS LEWE! | ||
  |
Jim Elliot was 'n sendeling wat gesterf het terwyl hy die Evangelie na die Inka-Indiane van Ecuador geneem het. Hy skryf: “He is no fool who gives what he cannot keep, to gain what he cannot lose.” Wanneer iemand Jesus Christus as Verlosser aangeneem het en Sy majesteit aanskou, is dit 'n natuurlike reaksie om Hom uit dankbaarheid as dissipel te volg. Dit is nie 'n heldedaad nie, dit is ook nie 'n spesiale lewenstyl nie. Dit is die normale Christelike lewe! Daar is géén groter vreugde as om in 'n innige verhouding met God te wandel en die doel waarvoor Hy ons geskep het, te vervul nie! Paulus skryf in Gal. 2:20 - “Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God, wat Sy liefde vir my bewys het deur Sy lewe vir my af te lê.” Daar is verskillende maniere waarop ons die Evangelie kan uitdra. Om die Evangelie uit te dra, is nie gereserveer vir 'n klein groepie spesiale mense soos predikante, sendelinge, ouderlinge of ander geestelike leiers nie. Dit is die hele Kerk (almal) wat die hele Evangelie na die hele wêreld (nie net die naby en maklik bereikbare nie), moet neem (Rom.10:12-15). Christene is dus almal gestuurdes. God het ons van die begin af gered en met die Heilige Gees toegerus om as gestuurdes die Evangelie uit te dra na elkeen wat dit nog nie genoegsaam gehoor het om 'n ingeligte besluit te neem nie. Die sendingtema is die hoofboodskap van die Bybel en loop van die eerste boek van die Bybel, regdeur tot die laaste hoofstuk (Noag, Abraham, Isak en Jakob, die uittog uit Egipte, Jesus, die dissipels). Die opgestane Jesus het die opdrag oorgedra aan elke gelowige. Ons roeping is om as gestuurde dissipels te lewe, oral waar God ons plaas. Die boodskap van die kruis is lewensveranderend. Sending is baie meer as net die redding van mense. Dit is om nuut te lewe, om gemeenskappe en families te transformeer na die Beeld van Christus. Om mense met God en met mekaar te versoen. Om God te aanbid en met ons lewens te verheerlik. Hierdie nuwe lewe kan alleen in die krag van die Heilige Gees gelewe word. Hierdie nuwe lewe kan in die markplein (elke dag by die werk), in ons huise, binne die kerk, en tot aan die uithoeke van die wêreld gelééf word! Sommige sal kruiskultureel na ander nasies uitreik (binne hul eie werk en beroep), maar ander sal ook doelbewus na ander lande en volke reis om dáár die nuwe lewe uit te leef. Sommige sal ekstra geld en hulpmiddels gee om die wat ver moet reis, te bemagtig om nog verder te gaan. Ander sal, terwyl hulle tuis die nuwe leefstyl leef, ook bid vir die wat ver gaan arbei. Hoewel die Kerk in sommige wêrelddele vinnig uitbrei, is hierdie opdrag om as gestuurdes te leef, vandag nie minder belangrik nie. Inteendeel, die wat nog nooit van Jesus gehoor het nie, verminder nie, want die wêreldbevolking brei elke dag snel uit. Groot dele van die wêreld bly vandag steeds onbereik. Hierdie dele van die wêreld het kruiskulturele sendelinge nodig, wat bereid is om ander volke se taal en kultuur aan te leer en baie op te offer om die liefde van Jesus ook daar te gaan leef. In ander dele van die wêreld soos Europa, het die Kerk ophou bestaan, omdat die Kerk ophou leef het soos ware dissipels. Daarheen sal ons ook wéér moet gaan. Die uitdaging is om vandag nie net kopkennis van die Bybel te hê nie, maar waarlik in 'n liefdesverhouding met God te leef en die Christelike waardes en leefstyl van Jesus af te vryf op diegene wat saam met ons werk en saam met ons woon. In ons gedrag en in ons optrede moet die omgee-liefde van Christus sigbaar word. Die roeping om dissipels te wees, is ook die roeping om vissers van mense te wees. Dink vir een oomblik na: Wat is jou betrokkenheid in die uitdra van hierdie Paasfees-boodskap? Met wie is jy tans besig om 'n pad van omgee-liefde te loop deur jou Christelike waardes prakties te demonstreer en in liefde oor te dra? Watter persoon wat daar ver kruiskultureel uitreik waar jy nie kan kom nie, ondersteun jy finansieel en in gebed? [Artikel deur ds. Willem Louw, 082 340 7549]. |