OM "JA" TE Sê OP GOD SE ROEPSTEM!
 

Miskien sal u Jaap en Linda Human herken (sien foto), 'n egpaar wat al diep spore in Potchefstroom getrap het. September verlede jaar het die twee besluit om die laaste deel van hul “afgetrede” lewe as sendelinge vir die Here te gaan werk. Sedertdien het daar reeds baie voorbereiding gevolg.
Linda is alombekend as die “Tannie by Garden Pavilion Kwekery in Paryslaan, Potchefstroom.” Jaap was jare lank in die militêre lewe. Hy het in Potch as “gunner” begin, sy loopbaan in Pretoria, Walvisbaai en later op die grens by Rundu voortgesit. Aan die einde van sy loopbaan, weer in Pretoria, het hy uitgetree as luitenant-kolonel. Na sy aftrede was hy ? grasbaan-bestuurder by verskeie gholfbane en daarna het hy sy swaer uitgehelp as voorman op die bouterrein.
Jaap lag lekker terwyl hy gesels. Hy weet mense wat hom vroeërjare geken het, sal nie kan glo dat hy sendingwerk wil gaan doen nie! Toe was hy kort van draad en lekker nukkerig. Vandat hy egter die Here as Verlosser aangeneem het, is hy 'n ANDER mens. Die liefde en vrede van Jesus straal uit hom uit.
Ek het vir Linda gevra: “Waarom wil julle sendingwerk gaan doen?” Haar antwoord was: “Ek kan nie die Evangelie vir myself hou nie. Ek moet dit gaan deel, anders is ek selfsugtig! Ek het 'n rustige lewe gehad en wil ander nou help ophef.”
As jy met die tweetjies gesels, kom jy agter dat hulle die Here werklik baie liefhet. Dat geen opoffering vir hulle te groot is nie. Hulle het geen erg aan aardse besittings nie, en wil graag hierdie Sendingpad in eenvoud en geloof loop. Aanvanklik het hulle gedink dit is sommer maklik om “sendeling” te word. Algaande het hulle egter geleer dat daar heelwat “slaggate” is en dat deeglike voorbereiding vir die nuwe bediening nodig is.
Die NG Kerk Miederpark het hulle as sendelinge aanvaar en is verantwoordelik vir hul voortge-sette opleiding. Linda word ook pragtig ondersteun deur die Gereformeerde Gemeente Potch-Oos (Oos-doppers) waar sy al jare lank lidmaat is. Jaap en Linda het reeds verskeie kursusse gedoen. Een van die interessante stukkies toerusting wat hulle moes deurloop, was die kruiskulturele opleiding wat hulle aan die begin van die jaar by dr. Ryk van Velden deurloop het. Hulle kan nie uitgepraat raak oor die gasvryheid wat hulle beleef het toe hulle elkeen afsonderlik in Ikageng by verskillende gashere moes gaan oorslaap nie. Hulle het met ander oë begin kyk na die mense rondom hulle. Jaap en Linda is albei praktiese mense. Sy is lief vir plante en tuinbou, en Jaap het baie bou- ervaring en is ? nutsman wat kan raakvat. Jaap het reeds die Veritas Bybelskool Kursusmateriaal en EE3 deurloop, en is nou ook besig met verdere opleiding. Beide Linda en Jaap beplan om DV gedurende April 2009 saam met 'n uitreikspan van Miederpark na die Suide van Angola te gaan. Hierdie blootstelling is 'n verdere deel van hul voorbereiding vir hul nuwe roeping.
Wat die egpaar egter nou nodig het, is die gebede en ondersteuning van hul vriende. Jaap en Linda besef dat hulle nie kan waag om sendingveld toe te gaan as hulle nie die nodige gebedsondersteuning ontvang nie. Hulle wil graag soveel voorbidders moontlik werf.
As u bereid is om vir hulle te bid en graag hul Gebedsbrief wil ontvang, of dalk die foto herken en weer met hulle kontak wil maak, kan u gerus skakel. (Jaap se selno. is 082 679 6562 of Linda s'n is 083 621 5500).
U kan ook u e-posadres en selfoonnommer stuur na sending@ngkmiederpark.co.za met die versoek om Jaap en Linda se Gebedsbrief te ontvang.

Indeks     Index