-12-
  Die opdrag was baie duidelik: 'n gratis Christelike koerant. Oor alle taal-, kleur-, en kerkgrense heen. Beskikbaar vir gelowiges en ongelowiges. Die GOEIE NUUS van Jesus Christus se reddende genade en verlossing vir elke mens wat na Hom toe wil kom. Die gratis verspreiding van God se Woord, asook getuienisse van Sy wonderdade en ingryping in die lewens van mense sodat lesers aangeraak, opgebou, gestig, versterk en bemoedig kan word.
'n Onbegonne taak vir 'n uitgebrande, werklose egpaar! MAAR GOD het laag neergebuig en hierdie swak, nietige instrumente opgehelp, hul geringe mate van geloof en gehoorsaamheid raak-gesien en op wonderbare wyse voorsien sodat die eerste uitgawe van GOEIE NUUS/GOOD NEWS middel April 1998 die lig gesien het. PRESIES 12 JAAR GELEDE!
Dit was die vrug van 3 persone se gehoorsaamheid aan die STEM van die HERE wat onafhanklik van mekaar aan ons bedrae geld ('n somtotaal van R21 000!) geskenk het, waarmee ons al die nodige rekenaartoerusting en programmatuur kon bekom, asook die drukkoste wat nodig was om die eerste koerant die lig te laat sien, kon betaal… Potchefstroom was eerste aan die beurt met 10 000 koerante wat gratis van huis tot huis afgelewer is. Hierna volg Klerksdorp (1999), Stilfontein en Hartbeesfontein (2000), Orkney (2001), Parys (2004), Ottosdal, Tosca en Ventersdorp (2005), Molopo-omgewing (2006), Delareyville (2007) en Fochville (Jan. 2009).
Ons het soveel getuienisse van bekering, genesing, versoening tussen huwelikspare en/of kinders en ouers, voorsiening in nood en beskerming deur die Here, van mense ontvang a.g.v. die lees van Skrifgedeeltes of artikels en getuienisse in GOEIE NUUS/GOOD NEWS gedurende die afgelope 12 jaar. Daarom loop ons harte oor van dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader dat Hy hierdie Koerant gebruik om mense se lewens aan te raak! Ons noem net graag enkele getuienisse vir u kennisname:
1. 'n Man het by sy lessenaar gesit met 'n rewolwer waarmee hy sy vrou en kinders wou uitwis en homself om die lewe wou bring, toe sy oog val op 'n advertensie op die voorblad van GOEIE NUUS/GOOD NEWS van iemand wat bid vir mense wat in nood verkeer. Hy het die betrokke persoon geskakel en die uiteinde van die gebeure was dat hierdie gesin versoen is en die Here gevind het.
2. 'n Christendame wie se man oorlede is, het so baie na hom verlang dat sy dit sterk oorweeg het om 'n “medium” te kontak sodat sy in aanraking kon kom met haar oorlede man. Sy lees toe in die GOEIE NUUS/GOOD NEWS 'n artikel deur Pastoor Bill Marks hoe gevaarlik hierdie gebruik is en dat dit in wese satanies is. Sy het hom geskakel en hy kon haar met raad bedien en versterk sodat sy heeltemal van haar voorneme afgesien het.
3. 'n Persoon uit een van die kleiner dorpe waar GOEIE NUUS/GOOD NEWS versprei word, skakel een oggend (Julie 2007) onverwags die kantoor van Goeie Nuus-uitgewers. Hy sê dat hy deur Delareyville gery het en dat die Heilige Gees vir hom gesê het dat die “GOEIE NUUS” ook hier versprei moet word. Aangesien daar nie straataflewering is nie, het hy by die Poskantoor navraag gedoen en uitgevind dat daar 1 200 posbusse is. Hy het hom bereid verklaar om in gehoorsaamheid aan die Here se opdrag die nodige fondse te borg vir die verspreiding van die Koerant en sedertdien borg hy elke maand die nodige fondse sodat die inwoners van Delareyville die GOEIE NUUS/GOOD NEWS kan ontvang!
4. Dr. C Venter was gedurende 2009 by NASA buite Washington, VSA, werksaam. Hy het 'n aantal kopieë van GOEIE NUUS/GOOD NEWS saamgeneem en uitgedeel aan sy nuwe kennisse. Een dame het na hom toe gekom en vertel dat 'n bepaalde artikel haar baie diep getref het en dat die woorde net vir haar bedoel was. Hierdie vrou het etlike jare gelede verwerping en diep pyn in haar gemeente ervaar en het van die Here af weggedryf. Sy kon haar hart uitpraat. Hulle het saamgebid, sy het vergewe en hierna het sy weer by 'n gemeente ingeskakel en het ook weer haar verhouding met die Here vernuwe.
5. Johan Zerwick wat die Tswana-artikels behartig wat in GOEIE NUUS/GOOD NEWS verskyn, getuig dat hy maandeliks nie minder nie as 20 briewe ontvang van mense wat graag Bybels wil hê en wat getuig van hoe die lees van hierdie Koerant hulle lewens verander het. Hy publiseer sedertdien 30 van hierdie artikels in 'n Tswana-oordenkingsboek.
Die “klein begin” het dus gegroei van 1 dorp (10 000 koerante p.m.) in 1998 tot 12 dorpe (40 000 koerante p.m.) in 2009. Tot op datum is daar reeds 4 369 200 eksemplare gratis versprei! Maar die GROOTSTE van alles is dat mense se lewens gedurende die afgelope 12 jaar onherroeplik verander en aangeraak is!
Verdere vooruitgang is dat GOEIE NUUS/GOOD NEWS nou ook op Internet gelees kan word! U kan dus ons webtuiste se adres www.goodnewsmessage.co.za aan u familie, vriende en kennisse in ons eie land en ook oorsee deurgee sodat hulle die artikels en getuienisse op die Net kan lees. Ons sien met reikhalsende verwagting uit na wat God nóg in 2010 gaan doen!
LIEWE LESER, wil u meehelp om die GOEIE NUUS van JESUS se LIEFDE en REDDING aan nog méér mense uit te dra en deelgenoot te word van die uitbouing van God se Koninkryk op aarde? U wonder dalk hoe u betrokke kan raak. Kom ons noem vir u 'n paar voorbeelde:
1. BID asb. elke dag in u stiltetyd vir die uitgewers, verspreiders, adverteerders en borge van GOEIE NUUS/GOOD NEWS.
2. OORWEEG DIT BIDDEND om maandeliks 'n bedraggie te bewillig (sien debietordervorm hiernaas) sodat die GOEIE NUUS/GOOD NEWS nog verder kan uitbrei. 3. ENIGE INDIVIDU, SEL, GROEPIE GELOWIGES OF GEMEENTE kan dit biddend oorweeg om 'n dorp/ie “aan te neem” en die druk- en verspreidingskoste te borg. Skakel ons vir verdere besonderhede by 018 293 1996. Die totale koste beloop ongeveer R1 per koerant. (Dink aan DELAREYVILLE waar EEN PERSOON gehoorsaam was aan die HERE se STEM!)
4. NOOI DIE UITGEWERS VAN GOEIE NUUS uit na u sel, gemeente of een of ander byeenkoms sodat ons aan u die getuienisse kan voorhou van wat God reeds die afgelope 12 jaar in mense se lewens gedoen het. Neem dan vir GOEIE NUUS/GOOD NEWS 'n offerande op wat sal help om hierdie werk in stand te hou en uit te brei.
BAIE DANKIE dat u bg. met aandag deurgelees het en biddend die Heilige Gees vra hoe u betrokke kan raak. Mag die Here u en u gesin ryklik seën en bewaar van die Bose!



Indeks     Index