'N STILLE AVONTUUR
 

Dele van sy liggaam was verlam en terwyl hy besig was om in sy eie speeksel te verdrink, het Willem Nel besef hy sal moet veg om aan die lewe te bly. Hy kon nie praat, eet of self asemhaal nie, maar hy het wel die Een wat alles reeds oorwin het, geken.
Wat beteken die woord “avontuur” vir jou? Vir die meer bedeesde mense onder ons mag dit dalk die uitleef van 'n ontspannende stokperdjie beteken, maar die adrenalienvrate sal saamstem dat dit altyd 'n mate van risiko bevat - byvoorbeeld rekspring (bungee jumping), hangsweef of bergklim.
Avontuur is iets waarvoor 'n mens beplan en wat 'n mens veronderstel is om te geniet. Die avontuurverhaal wat Willem Nel vertel, verskil egter van die normale... Sy avontuur was beslis nie beplan nie en ook nie iets wat hy uit vrye keuse graag sou wou beleef nie. God het die ervarings wat Willem beleef het, gebruik om hom op 'n avontuur van genade te neem - 'n unieke ontdekkingsreis van God se goedheid. Dit was ook 'n stille avontuur waarin Willem ontdek het wat dit is om in die Gees in plaas van in die vlees te leef, om God se liefde te kommunikeer sonder om woorde te gebruik.
“For those who live according to the flesh set their minds on the things of the flesh, but those who live according to the Spirit, to the things of the Spirit” (Romans 8:5).

NET NOG 'N DAG?
Sondag, 22 Maart 2009. Terwyl hy voorberei het om die oggend vir sy Potchefstroom-gemeente te preek, het Willem agtergekom dat daar iets ernstig verkeerd was. Hy het dubbel begin sien, sy spraak was sleurend en hy het gevoel in sy gesig begin verloor. Later die dag is hy opgeneem in die hospitaal en die volgende dag oorgeplaas na die inten-siewesorgeenheid (ISE). Teen Dinsdag kon hy nie meer self asem gehaal het nie.
Gedurende 'n MRI-skandering is Willem gevra om plat op sy rug te lê terwyl hy deur die skanderingstonnel beweeg het, maar in die proses het hy in sy eie speeksel begin verdrink. Die hospitaalpersoneel was onbewus daarvan dat hy nie asem kon kry nie en in daardie donker spasie het Willem besef dat hy gaan doodgaan. Hy het probeer om die personeel se aandag te trek, maar omdat hy in sy bolyf verlam was en nie kon praat nie, het hulle nie verstaan wat hy vir hulle probeer sê het nie.
Hy onthou hoe hy vir die hospitaalpersoneel probeer wys het dat hy besig is om te verdrink, terwyl hy gedink het: “Dit is so 'n dom manier om dood te gaan!” Hy sê: “Wetende dat jy besig is om dood te gaan en dat jy niks daaraan kan doen nie, laat jou magteloos voel. Teen die tyd dat ek terug in ISE was, was my gesig blou, my hart het ophou klop en ek het vir 20 minute nie 'n asemteug geneem nie. Die personeel en dokters het dit reggekry om my weer lewendig te kry en die verpleegsters het my later vertel dat dit 'n groot wonderwerk is dat ek geen breinskade opgedoen het as gevolg van die tekort aan suurstof nie. Hierdie gebeurtenis het my 'n kans op 'n tweede lewe gegee en ek weet dat die ou Willem Nel daardie dag dood is en dat dit 'n nuwe Willem is wat lewend geword het”.
Sommige mense glo dat hierdie siekte God se manier was om Willem sover te kry om af te skaal en te rus, maar Willem stem nie saam nie. “God is 'n God van lewe en nie 'n God van dood nie, van gesondheid en nie van siekte nie. God het my nie siek gemaak nie, maar Hy gebruik beslis hierdie omstandighede om meer van Sy karakter aan my te openbaar - Sy goedheid wat niemand kan ontken nie.

BESLUIT OM TE LEWE
Willem is gediagnoseer met die Guillain-Barré Sindroom, 'n virus wat die senuweestelsel aantas. Normaalweg begin dit by die voete en werk dan sy pad op totdat die hele liggaam geaffekteer is, maar in Willem se geval was sy tong en gesigspiere eerste geaffekteer. Sy bolyf het verlam geraak en hy kon nie praat, eet of asemhaal sonder lewensondersteunende apparaat nie. Hy was slegs in staat om met familie en vriende te kommunikeer toe sy armspiere sterk genoeg was om 'n paar woorde te skryf. Gedurende die 26 dae in die ISE het Willem en sy familie 'n besluit geneem om nie negatief te wees oor sy toestand nie (makliker gesê as gedaan!), maar om op God en Sy Woord te fokus. Sy vrou, Celesté, en hulle vier kinders het aangehou om woorde van lewe te spreek en nie toe te laat dat negatiewe woorde of verslae van die dokters hulle geloof beïnvloed nie.
Celesté sê: “Ons prys God en dank Hom vir Sy getrouheid en vir Sy beloftes - dat Willem sou lewe en heeltemal sou herstel.
Die resultaat van hulle besluit om vol vreugde te bly en God te vertrou, het die familie in staat gestel om ander mense in die hospitaal te kon bedien. God het onder andere vir Willem 'n woord van kennis vir een van die verpleegsters in die ISE gegee wat hy neergeskryf het. “Dit was deel van die stille avontuur - om vir mense te bid sonder om te praat!” sê hy. Sy het later in trane vir Celesté gebel en vertel van die impak wat dié woord op haar en haar familie gehad het. “Oomblikke soos hierdie het my laat besef dat God se krag nie deur ons swakhede beperk word nie, maar eerder sterker is,” sê Willem. “My grace is sufficient for you, for My strength is made perfect in weakness” (2 Corinthians 12:9).
Ten spyte van die familie se wonderlike gesindheid regdeur hierdie ervaring, was dit nie altyd maklik nie. Dit was veral moeilik gewees vir hulle jongste seun, D'Ianrew, (twee jaar). Hy was bang vir Willem omdat die verlamming in sy gesig sy spiere laat hang het en sy gesig uitdrukkingloos gelaat het. Hy het geweier om in dieselfde vertrek as Willem te wees as Celesté of sy ouer broers nie by hom was nie. Dit was eers na drie maande dat hy sy Pa weer begin herken het en bereid was om na hom toe te gaan.
Willem moedig almal aan met die woorde: “God is goed. Dit maak nie saak hoe hopeloos 'n situasie vir ons fisiese oë lyk nie. God is die God van die onmoontlike en Sy genadewerk aan die kruis het die prys vir ons ten volle betaal”.
Vandag is Willem feitlik heeltemal genees en is hy weer voltyds terug in die bediening. “Hoewel hierdie avontuur met tye moeilik was om te hanteer, het ons as familie soveel genade ervaar en ons neem dit tans dag vir dag”.
Willem is die visionêre leier van His People Kerk in Potchefstroom. Sedert sy siekte het hy 'n nuwe Bediening op die been gebring wat bekend staan as Faith Story. Die doel van hierdie Bediening is om die goedheid van God deur enige moontlike mediavorm te verkondig. Hy het so pas 'n boek, 'n Stille Avontuur, wat oor sy ervaringe handel, geskryf, wat nou vir die publiek beskikbaar is. Sy webblad, www.faithstory.co.za, kan gerus besoek word indien jy die boek wil bestel of selfs net iets meer oor sy Bediening wil weet.
Past. Willem Nel (083 648 3676)


Indeks     Index