'N BOODSKAP VIR DIE KERK | |
  |
AnnaLee le Roux 082 572 6423 God woon onder die lofsange van Sy volk. Toe die Israeliete om die stad Jerigo geloop het, het hulle die Here geprys. En hulle het die oorwinning oor die vyand behaal! Toe Salomo die tempel ingewy het, was die Here teenwoordig en Sy heerlikheid was oorweldigend! Ons hoor dikwels dat mense sê sulke dinge gebeur nie vandag meer nie. Ons geestelike oë is egter net gesluit. Ons leef te haastig en “sien” nie meer die onsienlike nie. Ons herderspaar het geweldig baie gebid en gevra dat die Here Sy heerlikheid sal openbaar wanneer die nuwe kerk toegewy word aan die Here. Oënskynlik het daardie dag niks gebeur nie, maar die Here laat Hom nie voorskryf wanneer Hy iets moet doen of wat Hy moet doen nie. Hy maak soos Hy wil wanneer Hy wil. Die volgende dag, met die Nag-maalviering, toe mense gesing het en God geloof en geprys het, het die Gees van God vaardig geword. Terwyl ons herder begin met die verrigtinge, sien ek agter hom 'n gestalte. Ek knip-knip my oë en kyk weer. Ek sien iemand agter ons pastoor. Eers dink ek dis 'n engel, maar toe sien ek dis die Here Jesus! Hy is 'n vreeslike Groot Man en Sy twee hande is uitgestrek na die gehoor. Ek sien die groot en lang moue. Spierwit hare tot op Sy skouers. Rondom Hom skyn 'n skerp lig. Ek kan dit nie beskryf nie. Die glans is te geweldig! Hy het 'n growwe oorkleed aangehad. Ek kon die plooie van die oorkleed sien; die growwe tekstuur van die materiaal. Maar Sy gesig kon ek nie duidelik sien nie (dit was wasig), maar die hare - alles het ek duidelik gesien. Ek was oorweldig. Die Heilige Gees het oor my gekom en ek het gehuil. Geweldig gehuil - die ervaring was só diep. Ons gaan huis toe, maar ek is nog so diep aangeraak dat ek dadelik slaapkamer toe gaan. Ek praat met die Here. Sê vir Hom daar is dinge wat ek nie mooi verstaan nie. Dinge wat my hinder. Hierdie gesig wat ek gesien het. Die growwe kleed wat Hy aangehad het. Hoekom was dit nie wit nie? Ons hoor altyd van Sy spierwit kleed. Oorkleed. Hoekom was dit nie wit nie? Naaswit. Maar nie spierwit nie. Die Here sê vir my daar is baie werk om te doen. Daarom het Hy 'n growwe, naaswit oorkleed aangehad. Hy stel die voorbeeld aan Sy kinders op aarde: Daar is nog baie werk wat vir Sy Koninkryk gedoen moet word! Hy herinner my aan die droom wat ek 'n paar dae vantevore gehad het. Hierdie droom en my gesig van die oggend vul mekaar aan. Daar is baie werk wat vir Hom gedoen moet word. Dit is nie nét die herders en leraars wat moet werk nie, maar élke lidmaat van elke gemeente moet werk! Van die kleinste tot die grootste. Hierdie kerk is klaar gebou met stene en sement. Dooie stene wat opme-kaar gestapel lê. Elke kind van die Here moet 'n lewende steen word in die geboue wat uit dooie stene opgerig is. Elke lidmaat het 'n taak. Nie een moet dink hy is te gering of hy is nie waardig nie. Die Here roep elke kind van hom op om werksklere aan te trek en Hom te help in die uitbouing van Sy Koninkryk. Die pad wat nog voorlê, is baie kort en daar is nog baie werk om te doen voordat die Here Jesus weer kom. Elke gelowige moet na homself kyk en introspeksie doen sodat hy/sy 'n lewende steen kan word. Die droom wat ek gehad het, is soos volg en dien as 'n waarskuwing dat elke kind van God sy/haar lewe in oënskou moet neem en gereed moet maak vir Jesus se wederkoms. Ek bevind my op 'n plek waar 'n klomp mense byeen is. Dis vroegoggend en almal moet kos kry. Van ons is besig om ontbyt voor te berei. Dan kom daar 'n man en vra my vir jellie en roomys. Ek sê vir hom “joe”, ons bedien eintlik nou net ontbyt, maar ek sal vir jou jellie en roomys gee. Hy neem 'n bordjie en ek wil vir hom inskep, maar sien en voel dat die bordjie vuil is. Ek wil dit sommer onder die kraan met my hande was, maar sover ek was, kom daar wurms uit. Ek draai die kraan nog groter oop en probeer alles wegwas. Ek merk op dat daar krakies is en onder die verf ook nog maaiers. Die man kom staan voor my en is baie haastig. Skielik besef ek dat hierdie man nie sien hoe ek sukkel om die wurms uit die bord te kry nie. Hoe meer ek was, hoe meer wurms is daar. Maar hy sien niks en wil sy bordjie hê! Geskok besef ek dat as ek nou sy roomys en jellie in die bordjie skep, hy wurms gaan eet saam met die nagereg. Ek besef hy is so blind dat hy nie kan sien daar is wurms in die bord nie. Die Here wys vir my dat hy só haastig en gejaagd is dat hy nie die wurms kan sien nie! Later kom daar 'n vrou met 'n baie mooi rok aan. Toe sy naby kom, lyk dit asof daar strepies in haar oë gesny is. Ek skrik, maar besef dat die vrou al die tyd 'n masker oor haar gesig het! Hierna kom ek by die kerk by 'n klein kamertjie waar my man besig is om skoon te maak. Hy haal al die meubels uit, neem 'n besem, vee en maak die kamertjie skoon. Maar die oomblik toe ek in die kamertjie kom, gril ek. Daar is iets in die kamertjie wat nog nie skoongemaak is nie. Dit lyk op die oog af skoon, maar dit is nog nie heeltemal skoon nie. Terwyl ek met die Here oor hierdie dinge praat, sê Hy vir my: My kinders moet werksklere aantrek en wérk; hulle moet ook introspeksie doen. Die man wat roomys en jellie wou gehad het, is 'n voorbeeld van mense wat sê hulle is Christene, maar hulle leef so haastig en lees en ondersoek nie My Woord elke dag nie. Hulle “eet” en “verteer” nie die Brood van die Lewe nie. Hulle soek net vinnige en “lekker” preke. Hulle “eet” baie wurms in die alledaagse lewe en kan nie die vrug van die Heilige Gees voortbring nie. Jesus sê vir Sy Kerk: “As julle My waarlik liefhet, sal julle My Woord ondersoek en My gebooie onderhou. Dooie stene moet lewende stene word. My volk gaan ten gronde weens 'n gebrek aan kennis van My Woord.” Die vrou met die masker is soos Christene wat voorgee om te wees wat hulle nie is nie. Jy sien hulle en besef nie hulle loop met 'n masker nie. Mense sien dit nie, maar God sien dit. Daarom moet elke Christen introspeksie doen en die sonde in sy/haar lewe aflê, m.a.w. 'n lewe van heiligmaking nastreef. Dit is deel van die “baie werk” waarvan Jesus gepraat het. Elkeen moet na homself/haarself kyk en die sonde aflê. Die kamertjie wat skoongemaak is, moes ook nog ontsmet word. Mense kom tot bekering, maar hulle besef nie dat die Heilige Gees nou intrek neem in die kamertjie wat nog nie skoon is nie. Alles (elke vorm van sonde en ongeregtigheid) wat nie vir die Here welbehaaglik is nie, moet die Heilige Gees uitvee. Hy sal ons oortuig van sonde en oordeel en ons in die volle waarheid lei. As Hy dan werklik in ons leef, sal Hy sê waar en hoe ons oortree. God verklaar aan ons: Wees heilig, want Ek is heilig. As ons nie almal Geesvervulde stene is nie, as ons skynheilig lewe, as ons mekaar aftakel, hoe kan ons doen wat die Here wil hê ons moet doen as Sy huis verdeeld en sondig is? Ons kan net almal biddend uitroep: Here, maak skoon wat nie skoon is nie. Neem weg alle laksheid en luiheid. Gee vir ons vuur, ywer en krag om U wil te doen en U te behaag! |