ELKE LAMP MOET GENOEG OLIE Hê
  In Matt. 25 vind ons die gelykenis van die tien maagde wat gewag het op die koms van die bruidegom. Daar was vyf wyse en vyf dwase maagde. Let op: almal was maagde, die wyse sowel as die dwase. Albei partye se paaie het vir 'n baie lang tyd saamgeloop. Dus het dit geskyn asof almal van dieselfde gesindheid was. Geen onderskeid kon tussen die twee groepe getref word nie, behalwe aan die heel einde, met die uur van beslissing. Hulle het saamgeloop, was gedurig in mekaar se geselskap, het saam gelag en gesing en as kamerade saam verkeer. Hulle het immers ook vir dieselfde doel bymekaar gekom - om te wag op die koms van die bruidegom. Hulle het dieselfde belange gehad. Die dwaasheid van die dwase maagde lê nie daarin dat hulle geen olie gehad het nie, want hulle het genoeg olie gehad tot kort voor die koms van die bruidegom. Hulle dwaasheid lê daarin dat hulle nie voorsiening gemaak het vir ekstra olie nie. Hulle het die vertraging van die koms van die bruidegom onderskat en was dáárom nie gereed vir sy koms nie.
Matt. 25:7 sê: “Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed.” Die Griekse woord vir “gereedmaak” is kosmeo, wat o.a. beteken “gereedmaak, in orde bring, om te versier.” Dink bv. aan woorde wat hiervan afgelei is, soos “kosmetiek”, “kosmeties”. En omdat dit hier gaan oor die gereed-maak van die maagde om die bruidegom te ontmoet, strek die gedagte wyer as net bloot lampe wat reggemaak moet word. Die bruid (al die gelowiges wat in 'n intieme verhouding met die hemelse Bruidegom verkeer) moet gereedmaak vir Sy koms: Die sentrale gedagte van die gelykenis is gereedheid! Dit beteken dat ons nie by die verklaring van die gelykenis, verstrengeld moet raak in die fynere detail van die gelyke-nis nie. Die gelowige kan gevra word: Is jy gereed vir die koms van die Bruidegom? Is jou lamp aan die brand? Of is jy in sóveel dinge verstrengeld dat jy nie 'n intieme verhouding met Jesus het nie? In Grieks staan daar dat elkeen haar eie (eauton) lamp gereedgemaak het. Elke gelowige moet sorg dat hy/sy sélf gereed is vir die koms van Jesus Christus!
In Luk. 12:35 staan geskryf: “Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand.” En in 2 Pet. 3:14 - “Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.” Die Amplified Bible verklaar: So, beloved, since you are expecting these things, be eager to be found by Him [at His coming] without spot or blemish and at peace [in serene confidence, free from fears and agitating passions and moral conflicts].
Die bruid moet haar gereedmaak vir die Bruidegom. Sy moet haar skoonheid, wat voortvloei uit 'n intieme verhouding met Hom, aan Hom kan vertoon. Sy moet haarself m.a.w. kosmeo (gereedmaak, mooimaak, soos 'n bruid vir haar bruidegom) om op haar beste te lyk vir Hom! In Openbaring 19:7 staan daar: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlik-heid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en Sy vrou het haar gereedgemaak.” Jesus Sélf verklaar in Openbaring 2:5: “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.” Kom ons waak en bid, en kry ons lewens gereed, jaag die goeie en edele na, en lê elke sonde en elke las af wat ons verhouding met Jesus skaad. Jesus Kom! Maranata! (Die Here kom - 1 Kor. 16:22).
Dr. JJ Venter

Indeks     Index