GELOOFSVERVAL NEEM TOE | |
  |
Prof. Johan Malan, Middelburg www.bibleguidance.co.za Geloofsverval is 'n algemene kenmerk van die eindtyd. Die Gees van die waarheid Self waarsku ons teen die verskerpte en verwoestende werking van Satan se gees van dwaling: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). 'n Persoon moet eers in die ware geloof bevestig wees voordat hy daarvan afvallig kan raak. Hierdie teks verwys dus na Christene wat die spoor byster raak. Die King James-vertaling sê: “...some shall depart from the faith, giving heed to seducing spirits and doctrines of devils” (1 Tim. 4:1). In hierdie vers word twee ernstige probleme genoem: Eerstens word dit duidelik gestel dat mense toenemend in die eindtyd hulle geloof in die God van die Bybel én in Sy Woord sal versaak. Hier word dus van gelowiges gepraat wat verval. Tweedens word die rede vir die wydverspreide geloofsverval genoem, naamlik misleiding deur Satan en sy demone. Dit is uit die konteks duidelik dat hulle deur menslike tussengangers werk om bedrieglike leerstellings te verkon-dig waardeur 'n Bybelse geloof bevraagteken en uiteindelik heel-temal verwerp word. In 1 Tim. 4:2 word die valse leraars as leuenaars beskryf wat 'n toegeskroeide gewete het. Wat is die aard van die onbybelse leerstellings waardeur die egtheid van God en Sy Woord verloën word? Die volgende is die mees algemene van hierdie valse leerstellings: DIE UNIVERSELE GOD 'n Leerstelling wat vandag al hoe meer verkondig word, is dat daar nie 'n Drie-enige God is wat slegs tot die Christendom beperk is nie, maar 'n universele "God" van alle gelowe. Hierdie God is Jahweh vir die Christene en Jode, Allah vir die Moslems en Brahman vir die Hindoes. Hy het nie 'n seun nie en het homself deur 'n groot aantal profete geopenbaar, soos Boed-dha, Krisjna, Jesus en Mohammed. Wanneer Christene wat vroeër in die Drie-enige God geglo het, hierdie onbybelse godsbegrip aanvaar, verval hulle vanuit 'n ware geloof tot 'n valse geloof. Daar is wél sulke gevalle - ook onder teoloë. 'N JESUS WAT NIE GOD OF GOD SE SEUN IS NIE, MAAR SLEGS 'N PROFEET Dit word nou algemeen, ook in die Protestantse wêreld, verkondig dat Jesus nie maagdelik gebore is nie, dat Hy nie God of God se Seun is nie, dat Sy kruisdood niks met die vergifnis van sonde te doen het nie, en dat Hy nie uit die dood opge-staan en na die hemel opgevaar het nie. Hy word slegs as 'n profeet beskou wat nie net met die Christendom geassosieer word nie, maar ook met Islam, Boed-dhisme, Hindoeïsme en ander gelowe. Hierdie vreemde "Jesus" wat inderdaad volgens die Bybel in die eindtyd Sy verskyning sal maak en deur alle gelowe aanvaar en aanbid sal word (Matt. 24:4-5; Op. 13:3-4), sal die Antichris wees. Alle voormalige Christene wat só mislei is dat hulle in hóm glo, het van 'n Bybelse geloof afvallig geraak en hang nou leerstellings van duiwels aan. 'N GEES WAT TEKENS EN WONDERS DOEN MET DIE OOG OP GROOTSKAALSE MISLEIDING Daar is duidelike waarskuwings in die Bybel dat verleidende geeste van Satan die Heilige Gees sal naboots om aan mense vreemde ervarings te gee, hulle geestelik op 'n dwaalspoor te plaas en uiteindelik die Antichris en valse profeet te laat navolg en aanbid (Matt. 24:11,24; 2 Kor. 11:3-4; 2 Thess. 2:7-12; Op 13:11-15). Die gees van dwaling sal die Antichris verheerlik en mense oortuig om in hom te glo. Alle Christene wat hulself vir hierdie verleidende geeste oopstel, bedroef die Heilige Gees, sondig teen Hom en blus Hom uit (Ef. 4:30; 1 Thess. 5:19). Wanneer die Gees van genade aanhoudend gesmaad en weerstaan word, verlaat Hy 'n persoon. DIE BYBEL WORD AS UNIEKE OPENBARING VAN GOD BEVRAAGTEKEN EN VERWERP Een van die vorms van geloofsverval is die verwerping van God se Woord. Dit maak die pad oop vir allerlei vreemde godsdienstige boeke waardeur die Here nie Homself openbaar nie, omdat hulle almal die produk van verleidende geeste is. Ons moet multi-godsdiens-tige denke verwerp en konsekwent by die Bybel as God se geïnspireerde en foutlose Woord bly en sorg dat ons nie regs of links daarvan afwyk nie (Jos. 1:7-8). Die psalmis het gesê: “Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van U gebooie nie. Ek het U woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie... Laat my wandel op die pad van U gebooie, want daarin het ek 'n behae” (Ps. 119:10-11,35). Die afvallige eerbiedig egter nie die Woord van die Here nie, en verander dit deur sy eie interpretasies én ook in nuwe vertalings wat van die oorspronklike teks afwyk. Totale geloofsverval is die uiteindelike gevolg hiervan: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Op. 22:18-19). 'n Persoon wat reeds deel in God se Koninkryk gehad het, met sy naam in die Boek van die Lewe, kan hierdie groot voorregte as gevolg van geestelike afvalligheid verloor. Wanneer hy die leerstellings van duiwels aanvaar, verval sy Christelike getuienis omdat hy dit verloën het. 'N LEWE VOLGENS MENSLIK-BEPAALDE REËLS EN WETTE Baie van die mense wat van die Here en Sy Woord afvallig raak, wend hulle tot menslik-bepaalde waardes en lewensreëls. Dit is gewoonlik humanisties van aard en dus nie op Christus se geregtigheid gebaseer nie. Wanneer Christene hulle hieraan skuldig maak, draai hulle die rug op 'n evangeliese lewenswyse wat net in die Bybel gefundeer is. Hulle wyk af van die pad van die Here en verval in geestelike duisternis. Daar is tans ook 'n wêreldwye neiging om 'n suiwer Christelike lewens-wyse deur 'n Ou Testamentiese, wettiese lewenswyse te vervang. Sulke mense keer na Israel se feeste, sabbatsonderhouding en ander wettiese gebruike terug, onder die misleidende idee dat hulle God daar-deur sal behaag. Hulle doen egter hierdeur afbreuk aan die kruis-evangelie van Jesus Christus en maak hulleself verwerplik in God se oë. Paulus sê vir sulke mense: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). DIE DWALING VAN DIE VOORSPOED-EVANGELIE Een van die groot redes waarom baie mense heeltemal van die geloof verval, is materialisme en geldgierig-heid. Rykdom word dikwels deur wêreldgesindes as 'n seën van die Here voorgehou, terwyl liefde vir geld in die Bybel as 'n kanker van die siel beskryf word: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (1 Tim. 6:9-10). Hulle was dus aanvanklik in die geloof, maar het weens die najaag van rykdom van die geloofslewe “afgedwaal” en in Mammon se mag beland. Al was hulle in 'n stadium volgelinge van Christus, verwerp Hy hulle dan omdat hulle in hulself en hulle rykdom roem, eerder as in Sy versoeningswerk. Dit veroorsaak dat hulle geestelik heeltemal afkoel tot op die punt dat hul geloof vernietig word. Die Here Jesus sê: “Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:16-17). Hulle is geestelik bankrot en roem net in hulle rykdom. Naas verval tot hierdie toestand, is daar ook vorm-godsdienstige geldgieriges wat nog nooit gered was nie, maar nogtans met die Koninkryk van God identifi-seer omdat hulle eendag hemel toe wil gaan. Hulle beskou dan hulle rykdom as 'n seën van die Here, gee groot bydraes vir die kerk en verklaar hulleself gereg-verdig voor God. Die Here Jesus aanvaar hulle egter glad nie as dissipels van Hom nie: “En die Fariseërs, wat geldgierig was, het ook al hierdie dinge gehoor en Hom beskimp. En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is 'n gruwel voor God” (Luk. 16:14-15). Hulle rykdom en hoogmoed wat van hulle sulke gesiene mense in die samelewing gemaak het, was 'n gruwel in die oë van die Here. Hulle wil die beste van twee wêrelde hê, maar besef nie dat hulle 'n keuse tussen die ware God van die Bybel en Mammon (die geldgod) sal moet maak nie, en tot 'n volle oorgawe sal moet kom om vir die wêreld, rykdom en eer te sterf en eerder skatte in die hemel te versamel. 'N MENSLIKE KONINKRYK OP AARDE 'n Moderne toring van Babel word tans deur baie kerke gebou, en hierdie beweging word deur die motief van wêreldeenheid gedryf. Die deelnemers aan hierdie projek het die Bybelse beginsel van die selfbeskikkingsreg van nasies verwerp (vgl. Hand. 17:26). In die plek daarvan bevorder hulle d.m.v. die Ekumeniese Beweging 'n alliansie van wêreldgodsdienste, asook op staatkundige gebied 'n wêreldregering wat die mensdom moet verenig (godsdienstige en politieke globalisme). Die pous het al openlik gesê dat ons 'n wêreldregering nodig het om wêreldvraagstukke op te los, en dit is seker dat ander ekumeniesgesinde godsdiensleiers hom hierin sal navolg. Volgens die Bybel sal die hoof van hierdie wêreldregering en wêreldgodsdiens die Antichris wees (Op. 13:1-4). Wanneer enige persoon 'n medebouer aan die moderne toring van Babel word, verwerp hy die Bybelse Christendom, vat hande met ander gelowe en bou saam met hulle aan 'n antichristelike nuwe wêreldorde. Hulle wil heerskappy in hulle selfgemaakte koninkryk voer. Dit is duidelik 'n duiwelse leerstelling omdat net die koninkryk van die duisternis daarby sal baat. Sulke persone is kampvegters vir die “engel van die lig” se valse koninkryk, al was hulle ook vroeër volgelinge van die ware Christus (vgl. 2 Kor. 11:13-15). Die Koninkryk van Christus op aarde sal eers ná Sy wederkoms geopenbaar word - nie gedurende die kerkbedeling nie. 'N KULTUUR VAN ONBEPERKTE MENSLIKE VRYHEID Die moderne mens ag homself nie aan die beperkende morele norme van die Bybel gebonde nie. Hy wil vry wees om te leef net soos wat hy wil. 'n Permissiewe moraliteit in stryd met dié van die Bybel word deur die Here “sonde” genoem. Die moderne, bevryde mens neem glad nie die Bybel in ag nie en is besig om 'n sondekultuur in die wêreld te vestig. Daar gaan inderdaad in die eindtyd 'n proses van grootskaalse morele verval plaasvind (2 Tim. 3:1-5). Dit sal tot die openbaring van die Antichris lei, wat die verpersoonliking van sonde sal wees: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3-4). Die hele wêreld sal verwonderd agter hom aangaan en in sy verderflikheid deel (Op. 13:3). Hy sal homself ook vergoddelik en daardeur aan al sy volgelinge die reg gee om hulleself tot klein godjies te verklaar wat die reg het om hulle eie lewenstyl en lotgevalle te bepaal. Die noodwendige gevolg van 'n sondige lewenswyse is geloofsverval. Paulus het vir baie misleide Joodse “broeders” gesê dat geloof deur boosheid en ongeloof in hulle harte vervang sou word indien hulle slawe van die sonde word. Sulke mense is op 'n gevaarlike afdraandepad en moet ernstig teen die gevolge van hulle dade gewaarsku word: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle 'n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13). Diegene wat nie op die Here Jesus se pad volhard nie, verval geestelik en beland in sonde. In hierdie toestand het hulle geen deel meer aan Christus nie: “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). Afvalliges doen dit nie en draai af na die weg van ongeregtigheid. “Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr. 16:25). Paulus het vir Timoteus gewaarsku dat hy “aan die geloof en 'n goeie gewete moet vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:19). Wanneer iemand nie meer 'n goeie gewete het nie, het hy sonde in sy lewe toegelaat. Indien hy dit nie bely en laat staan nie, maar daarmee saamleef (vgl. 1 Joh. 1:7,9), sal dit 'n skeidsmuur tussen hom en die Here vorm en uiteindelik sy geloof vernietig, soos 'n skip wat op die rotse loop. GROOTSKAALSE VERVAL IN CHRISTELIKE KERKE Die gevolge van duiwelse leerstellings wat aan misleide Christene verkondig word, is vernietigend. Dit kan daartoe lei dat die Christelike kerk binne 'n geslag of wat heeltemal verdwyn. Dit is die mening van prof. Scott McKnight, Nuwe Testamentikus aan die North Park University in Chicago, VSA. Hy het op 11 Mei 2009 by die Universiteit van Pretoria gepraat oor redes waarom mense die Christelike geloof verlaat. Volgens McKnight is die stroom jongmense wat Amerikaanse kerke verlaat, nou só groot dat dit die voortbestaan van die Kerk bedreig. Hy het onderhoude met 'n groot aantal jongmense gevoer en bevind dat daar vyf faktore is waarom die meeste van hulle se Christelike oortuigings in 'n krisis beland het: 1. Die rigiede leer oor die Bybel as God se onfeilbare Woord wat aan mense gedikteer is, word nie meer aanvaar nie. Die menslikheid van Bybelskrywers blyk duidelik uit hulle geskrifte. 2. Geloofsleerstellings is in botsing met die wetenskap, veral die verhale in Genesis oor hoe die wêreld ontstaan het. Moderne mense verkies wetenskaplike verklarings soos die evolusieteorie. 3. Die bandelose wyse waarop sommige Christelike leiers in die Kerk leef, veral seksuele skandale van baie Roomse priesters in die VSA, laat baie mense voel dat hulle nie met integriteit deel van die Kerk kan bly nie. 4. Die beskouing oor die hel word nie aanvaar nie. Daar word geredeneer dat dit onbillik van God is om iemand vir sonde wat hy in 'n leeftyd van bv. 75 jaar gedoen het, vir ewig in 'n brandende poel van vuur te straf. Hulle vra of die straf nie by die oortreding moet pas nie. 5. Mense word ook deur die God van die Bybel afgeskrik. Daar word geredeneer dat indien Hy almagtig is, Hy nie goed kan wees nie, anders sou die wêreld nie so vol kwaad gewees het nie. As God goed is, kan Hy nie almagtig wees nie, want dan sou Hy die boosheid gekeer het. Prof. McKnight se aanbeveling vir die hantering van hierdie situasie was egter postmodern en feitlik ter ondersteuning van die agnostici. Hy is van mening dat die Kerk ruimte moet skep vir hierdie andersdenkendes en gesprek oor hulle besware moet voer. Volgens hom moet die Kerk nie so sterk op leerstellings staan deur bv. 'n sterk standpunt oor Jesus se opstanding uit die dood in te neem nie. In die onderhoude wat hy gevoer het, het verskillende standpunte oor die opstanding van Jesus nie 'n krisis veroorsaak nie. Die geloof van die nuwe geslag kerklidmate word op morele eerder as leerstellige sake gebaseer. DIE HERSTEL VAN TERUGGEVALLENES Die Bybel stel dit duidelik dat die meeste teruggevallenes geestelik herstel kan word. In Lukas 15 is daar drie gelykenisse waarin daar aan die Here Jesus se dissipels 'n bediening onder teruggevallenes opgedra word. In die eerste gelykenis word die kudde van die Here met 100 skape vergelyk, waarvan een afgedwaal het en “verlore” geraak het. Die herder van die kudde kry dan die opdrag om die verlore skaap te gaan soek en na die kudde terug te bring. Daar is groot dankbaarheid in die gehoorsame herder se hart, “want ek het my skaap gekry wat verlore was” (Luk. 15:6). Dit was aanvanklik sy skaap, wat later verlore geraak het. Die Here Jesus pas hierdie situasie dan geestelik toe: “Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer” (Luk. 15:7). Die afgedwaalde wat heeltemal kontak met die herder en die kudde verloor het moet, net soos enige ander ongeredde sondaar, van voor af tot bekering kom sodat hy weer met die Liggaam van Christus herenig kan word. Dieselfde beginsels geld ook in die geval van die verlore penning wat gesoek moet word totdat dit uiteindelik teruggevind is. Moenie die afgedwaaldes en teruggevallenes afskryf nie, maar bid vir hulle herstel en gaan roep hulle van hulle dwaalweë af terug. Uit die gelykenis van die verlore seun blyk dit baie duidelik dat hy aanvanklik in sy vaderhuis was en daarna aan die versoekings van 'n losbandige, rykmanslewe in die wêreld toegegee het. As gevolg daarvan het hy sy erfporsie opgeëis, sy rug op sy vader gedraai en homself totaal aan sondige genietinge oorgegee. In hierdie tyd was hy geestelik dood en verlore, en moes van voor af tot bekering kom indien hy weer met sy vader versoen wou word. Hy het dit inderdaad gedoen toe hy gesien het watter groot gemors hy van sy lewe gemaak het: “Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie” (Luk. 15:18-19). Weens sy berou en bekering het hy weer sy seunskap teruggekry. Dieselfde beginsel geld vir teruggevallenes wat hulle geloof en redding heeltemal verloor het. Hulle moet weer 'n tweede keer geestelik nuut gemaak word. Nadat die verlore seun ten volle herstel is, het sy vader gesê: “[hy] was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind” (Luk. 15:32). Hy was nie in die tyd toe hy die wêreld en die sonde gedien het, fisies dood nie, maar geestelik. Die begrip “lewe weer” is een woord in Grieks (soos “revive” in Engels) en dui daarop dat 'n persoon gelewe het, toe gesterf het, en daarna weer lewend gemaak is. Daar is net 'n baie beperkte groep teruggevallenes wat nie weer geestelik herstel kan word nie. Dit is diegene wat aanvanklik wel gered was, maar Christus doelbewus verwerp, die bloed van die versoening verag en die Heilige Gees belaster het. Die Hebreërskrywer sê dit is onmoontlik om hierdie afvalliges “weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Heb. 6:6). Hulle is nie net deur morele sondes oorkom en weggesleep nie, maar het geestelike hoogverraad teen Jesus Christus en Sy Koninkryk gepleeg. Hulle het dus die enigste Verlosser wat daar is, geminag en verwerp, daarom bly daar geen versoening vir hulle sondes oor nie. “Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:26-29). Wanneer die Heilige Gees 'n persoon verlaat, kan hy nooit weer onder sonde-oortuiging kom en dus nie weer geestelik lewend gemaak word nie. Hy is deur sy eie toedoen en rebellie vir ewig verlore. Esau was 'n onheilige wat die groot voorregte van sy eersgeboortereg vir 'n pot lensiesop verkoop het (Gen. 25:34). Daardeur het hy gewys hoe min hy van God se verbond met Abraham en Isak gedink het. Dit het baie ernstige gevolge vir hom ingehou: “Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer” (Heb. 12:17). Daar was wel selfbejammering by hom oor wat hy deur sy onbesonne daad verloor het, maar nie 'n God-gewerkte berou oor sonde nie omdat hy die Here van hom af verdryf het (vgl. 2 Kor. 7:10). Dieselfde situasie sal ook in die komende Verdrukking heers onder diegene wat 'n verbond met die Antichris sluit en sy nommer (666) aanvaar. Hulle sal vir hulleself die deur na geestelike herstel toemaak, omdat hulle willens en wetens die ware Christus en Sy genadewerk sal verwerp om 'n verbond met die grootste godslasteraar van alle tye te sluit (Op. 13:5-6). 'n Verbond met hom sal vereis dat 'n persoon sy rug op die lewende God en Sy Seun draai, daarna ter wille van finansiële voorregte 'n eed van getrouheid teenoor die Antichris aflê, en sodoende sy siel aan die duiwel self verkoop (vgl. Op. 13:16-18; 14:9-11). Al die ander teruggevallenes wat weens hulle sonde en lae geestelike standaarde nie die wegraping meegemaak het nie, sal egter nog gered kan word - dit is diegene wat nie vir Christus en Sy soendood verwerp en ook nog nie 'n verbond met die Antichris gesluit het nie. Die alomteenwoordige Heilige Gees word nie van die aarde af weggeneem nie. Daarom sal berouvolle sondaars nog steeds gered kan word. Daar is 'n baie algemene wanopvatting dat die Heilige Gees volgens 2 Thessalonicense 2:6-8 tydens die wegraping van die aarde af weggeneem sal word. Die “hy wat nou teëhou” dui egter op die gemeente as die Liggaam van Christus. Die gemeente is die tempel waarin die Heilige Gees woon (1 Kor. 6:19; 1 Joh. 4:4), maar die Gees van God is nie in Sy werkinge tot die gemeente beperk nie - Hy oortuig ook die ongeredde wêreld van hulle sonde én van Christus se geregtigheid. Sonder Sy toedoen is dit nie vir enige mens moontlik om gered te kan word nie. In Op. 7 lees ons van 'n ontelbare menigte uit alle volke en nasies, wat in die Verdrukking gered sal word en hulle klere wit sal maak in die Bloed van die Lam. Hulle sal wel as martelare sterf, maar die pad hemel toe is nie vir hulle gesluit nie. In Op. 6:9-11 word daar na hulle verwys, as bevestiging van die feit dat hulle beslis in die hemel sal uitkom nadat hulle as martelare gesterf het. Die vyf dwase maagde van Matt. 25:1-13 is ook onder die teruggevallenes en dié wat in hulle liefde verkoel het (Matt. 24:12; Op. 2:4-5). Ná die wegraping sal hulle die olie van die Heilige Gees wat in hulle lewens ontbreek, soek en vind. Maak liewer nóú jou saak met die Here reg, leef heilig en sorg dat jy onbevlek voor die hemelse Bruidegom sal kan verskyn. Gee jouself ten volle aan die leiding van die Heilige Gees oor, waak teen sonde en geestelike misleiding, en bid altyddeur (Luk. 21:36; 1 Thess. 5:23-24). |