'N VOLLE 13 JAAR OUD! | |
  |
Met hierdie uitgawe is daar nou reeds byna vyf miljoen gratis eksemplare van “Goeie Nuus / Good News” (verwys grafiek langsaan) van huis tot huis in 12 dorpe versprei! Dit is slegs toe te skryf aan die getrouheid en goedertierenheid van ons wonderbare Hemelse Vader! Ons is só dankbaar vir elke lewe wat aangeraak word deur die lewegewende en ewige Woord van God! “Goeie Nuus / Good News” is 'n nie-winsgewende, onafhanklike gesinsbediening wat aan geen Kerkgenootskap of spesifieke gemeente gekoppel is nie. Ons poog om alle ware gelowiges, ongeag Kerkverband, te bedien en ook om die Blye Boodskap aan almal wat dit nog nie gehoor of hulle eie gemaak het nie, oor te dra. Die Koerant se gratis versprei-ding word moontlik gemaak deur advertensies en blymoedige gewers wat gehoorsaam is aan die Stem van God. Ons glo dat die Here elkeen sal beloon wat daar-toe meehelp dat hierdie Koerant maandeliks aan ongeveer 160 000 lesers beskikbaar gestel kan word. Hy, die goeie Gewer, se seëninge en barmhartighede is elke dag nuut en ons bede is dat u elkeen dit daagliks sal ondervind! Dikwels gebeur dit nog dat ons "op die water moet loop" om 'n spesifieke uitgawe die lig te laat sien, maar ons bring aan God al die eer wat getrou is en ons nog nooit in die steek gelaat het nie. Daarom is dit met groot jubeling dat ons kan getuig dat ons sedert April 1998 reeds 4 848 900 koerante gratis versprei het! Diegene wat na aan ons leef en bewus is van ons omstandighede, kan saam met ons net in alle ootmoed sê: Dit is nét die HERE wat dit kon bewerkstellig! “Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind, laat ons na Hom toe gaan met lof, laat ons Hom toejuig met lofsange, want die Here is die magtige God, die groot Koning oor al die gode. Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!” (Ps. 95:1-3,6 NV). - Redaksie ![]() |