HY RUIL PLEKKE MET MY | |
  |
Daar word vertel dat 'n gevangene uit die gevreesde Auschwitz-konsentrasiekamp probeer ontsnap het. As straf hiervoor moes tien ander mans 'n hongerdood in die sogenaamde “doodsbarak 11” sterf. Die kampkommandant het al die mans van barak nommer 14 eers vir 'n dag lank onder die gloeiende son op die paradegrond laat staan. Toe kies hy na willekeur die tien uit wat in die doodsbarak opgesluit sou word, totdat hulle van honger en dors omkom. Een van hulle was Franz Gajowniczek, 'n Poolse vader van drie kinders. Toe hy vorentoe gepluk word, roep hy uit: “Ag, my arme vrou en kinders! Ek sal hulle nooit weer sien nie!” Toe gebeur die ondenkbare. 'n Ander gevangene, 'n Poolse priester genaamd Maksimilian Kolbe, tree na vore en sê: “Ek wil in die plek van hierdie veroordeelde gaan sterf.” Daar was 'n doodse, geskokte stilte. Niemand het nog ooit só iets gewaag nie. Tot almal se verbasing stem die brutale kamp-kommandant in, en vader Kolbe word saam met die nege ander in die doodsbarak opgesluit. Daar het hy tot die einde toe sy medeveroordeeldes bemoedig en die Evangelie aan hulle bedien. Meer as twintig jaar daarna het Franz Gajowniczek, wat die konsentrasiekamp oorleef het, aan 'n verslaggewer gesê: “As ek vandag terugdink aan daardie dag toe vader Kolbe my plek ingeneem het, kan ek dit nog steeds nie verstaan nie… Watter soort mens gee sy lewe vir 'n vreemdeling!” Hierdie verhaal het my laat dink aan 'n ander, baie groter offer wat gebring is. Vir jou. Vir my. Vir ons almal. Die Ou Testament druk dit in 'n aangrypende teks só uit: Oor óns oortredings is Hy deurboor, oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur Sý wonde het daar vir ons genesing gekom (Jes. 63:5). 'n Mens kan beswaarlik woorde soos hierdie aanhoor sonder dat daar iets in jou begin roer, of wie weet, dalk in opstand kom. Jy kan óf in dankbare vreugde jou hande daaroor saamslaan, óf jy kan jou verskriklik daaroor vererg en vra: Is ons sonde dan werklik só erg? Regverdig ons oortredinge regtig só 'n aftakeling, só 'n verguising, só 'n veragting? Is daar nie ander maniere waarop ons op ons tekortkominge gewys kon word, en as dit dan nou wérklik nodig moes wees, verlos kon word nie? Moes iemand regtig só misvorm word dat Hy nie eers meer soos 'n mens lyk nie, nie eers meer die voorkoms van 'n mens het nie; so gekasty word, dat jy jou gesig van Hom af wil wegdraai? (Jes. 52:14; 53:3). Ja, die Evangelie kan vir jou 'n struikelblok word, kan jou met weersin vervul. Soos vir Goethe. Dis bekend dat hy die mooiste woorde oor godsdiens kon skrywe. En tog het hy ook gesê die reuk van vier dinge vind hy afstootlik: dié van tabak, weeluise, knoffel… en die kruis. Dit moet ons nie verbaas nie, want die kruis pas nie in by ons siening van onsself nie, ook nie by ons samelewing nie. In die samelewing is daar nie plek vir swakkes nie. Net vir dit wat mooi en blink en nuut is, soos die advertensies sê. Verloorders is uit. Wie wil nou verbind word met 'n verloorder? Wie wil gesien word saam met iemand wat nie “in” is nie? En hier in Jesaja 53 word duidelik Iemand geskets wat allermins “in” is. Nee, Hy is totáál uit! Op die oog af 'n verloorder. Een wat alles behalwe blink. Inteen-deel… Maar as 'n mens dit 'n bietjie langer met hierdie teksvers uithou, en as jy regtig daarna luister, slaan jou ergernis al hoe meer oor in verstomming. Dan ontdek jy: dis presies die manier waarop die Here gekies het om by ons teenwoordig te wees. Trouens, die Here is op geen ander manier by ons as in die gedaante van Sy lydende Kneg nie. Daar is natuurlik al baie gespekuleer oor wie dié kneg of dienaar van die Here (vgl. Jes. 52:13; 53:11) dan nou eintlik sou wees? Sommige reken dat dit op Israel self dui, wat al telkemale in hulle geskiedenis soos slagskape na die slagpale gebring is en dikwels al onnoembare lyding moes verduur. Ander meen weer dat dit op een of ander profeet dui, miskien Jesaja, of Jeremia, wat soms die lydende knegte van die Here genoem word. Party uitlêers is oortuig daarvan dat Moses die oorspronklike dienaar van die Here was, van wie die boek Jesaja ook hier getuig. Die vroeë Christelike Kerk het egter van die begin af hierdie woorde verstaan as verwysend na die groot lydende Kneg van die Here, as niemand minder nie as Jesus Christus. In die beskrywing van hierdie teksverse het hulle die verskriklike gebeure op Golgota herken, sodat ons sou kon sê dat, alhoewel die teksverse moontlik al verskillende historiese vervullings gehad het, dit sy uiteindelike vervulling vind in ons Verlosser, Jesus Christus. Jesaja 53 bevestig dat God 'n God-in-diepte is, dat Hy by ons is, in ons lyding en ellende. Dit getuig: God is by ons in die krisisse wat ons van buite bedreig en die sondeskuld wat ons van binne verskeur. Dit laat 'n mens dink aan die skildery wat die kunstenaar Matthias Grunewald op die altaar in die kloosterhospitaal van Isenheim geskilder het. Toe hy gevra is om iets te skilder wat die siek mense daar sou vertroos, het hy nie tonele geskilder van blakend gesonde mense wat in wuiwende graslande rondhardloop terwyl harpmusiek speel nie, maar van Een wat 'n doringkroon op het, wat bleek aan 'n kruis hang onder die bedreiging van die dood. Dís ons troos. God staan nie ver weg wanneer ons swaarkry nie. Hy het medelye met ons in die diepste sin van die woord. Hy huil saam met ons. Hy huil wanneer 'n kind honger in 'n plakkerskamp gaan slaap, en Hy huil wanneer 'n boer in 'n angsnag op 'n besette plaas om die lewe gebring word. Hy huil wanneer die waarheid verdraai word vir eie gewin, en wanneer ongeregtigheid hoogty vier. Hy huil wanneer die aarde afgetakel word, en wanneer iemand in eensaamheid wanhoop aan die lewe. Waarlik, hierdie aarde is deurdronge, deurnat van die trane van God. Daarvan getuig Jesaja 53 in alle tale. Moet daarom nie dink dat jy van God verlate is wanneer jou vriende of familie jou verlaat het, of wanneer jou lewe anders verloop as wat jy jou dit voorgestel het, of wanneer die dokter se diagnose presies die teenoorgestelde is as dit waarop jy gehoop het nie. Moenie glo dat God ver weg staan wanneer jy niks van Sy nabyheid voel of sien, of wanneer jy moet sterf en die deur van die dood donker voor jou oopswaai nie. Moet dit nié glo nie! Want jy is nié van God verlate nie. Jesus, die uitgestote, verlate, sterwende Een aan die kruis, is één met die uitgestotenes en verlatenes en sterwendes, één met ons in die diepste vorme van ons menslike ellende en nood. God is nie 'n abstraksie nie. Hy is so konkreet soos die kruis! En tog is ook dít nie al nie. As jy die teks toelaat om nóg 'n bietjie langer op jou in te werk, slaan jou verstomming oor in aanbidding! Want God is nie net by ons in ons lyding nie, hoe troosryk dít ook al klaar mag wees. Hy is by ons om ons te red! So seker as wat God Sy lydende Kneg gestuur het om Israel uit ballingskap te red, so seker stuur Hy Sy Seun om ook óns uit die ballingskap van ons sonde te verlos. O, op die oog af lyk die optrede van die lydende Kneg van die Here na 'n verlore saak, asof dit géén verskil kan maak nie. Immers: …Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na Hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van Hom sou hou nie. Hy was verag en deur die mense verstoot, 'n Man van lyding wat pyn geken het, Iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het Hom nie gereken nie (Jes. 53:2,3). Maar dan staan die Evangelie in die enkele woordjie tog dwarsoor dit alles: Tog het Hy óns lyding op Hom geneem, óns siektes het Hy gedra… (vs. 4). O, dankie tog vir hierdie tog! Dis God se groot tog, Sy genadige ten spyte van, Sy reddende maar. Dit sê: Presies in die lydende Kneg se vernedering lê ons verlossing. Sy verguising ís ons verlossing! Ja, ons weet: God huil nou nog saam met ons, maar Hy huil só dat Hy eendag saam met ons sal kan lag (Moltmann). Die aarde wat nou nog deurnat is van die trane van God word 'n nuwe aarde waar God al die trane van ons oë sal afdroog. Waarom? Wat is ons waarborg dat dit só sal wees? Dit: die lydende Kneg van die Here het ons oortredings en sondes op Hóm geneem. Soos 'n refrein klink dit dwarsdeur hierdie teks-verse op: oor óns, vir óns, ter wille van óns het Hy gesterf! In óns plek. Die doodsbarak wat ons moes betree, het Hy betree; waar ons moes sterf, het Hy gesterf. Dít is die hart van die Evangelie! O, sommige hou nie van die reuk daarvan nie. Vir sommige is dié Evangelie 'n doodsreuk wat dood bring. Maar vir dié wat gered word, is dit 'n lewensgeur wat lewe wek, hierdie reuk van die kruis (2 Kor. 2:16). Neem diep teue daarvan, en lééf! [Uit: Het God 'n Handvatsel? Deur Johan Cilliers, CUM, 2003]. |