GEMOEDSKALMTE | |
  |
![]() Jesus is die Prins van Vrede, en Sy vrede oorspoel ons lewe wanneer ons al ons sorge, kommer en angs in gebed na Hom toe bring. Hy is by magte om enige probleem te hanteer wat oor ons pad kom, en meer nog, Hy is by magte om ons bekommerde gemoed te stil sodat ons perpektief op angsvolle situasies verander in ‘n hemelse perspektief. Ons bestee soveel tyd om ons omstandighede te probeer verander wanneer dit dikwels noodsaakliker is dat ons ons eie hart verander. Daar is al gesê dat gebed nie soseer die situasie verander nie, maar eerder die een wat bid. En deur gebed gee God ons die krag wat ons nodig het om te hanteer wat oor ons pad kom. Wat dan die nodigste is, is die krag en die vertroosting van die Here en Sy vrede wat ons hart en verstand bewaar. Daar is ander situasies wat ons tussentrede, of een of ander aksie, vereis. Maar voor ons trompop in ‘n situasie inloop en dit sodoende vererger vanweë ons gebrekkige begrip, moet ons eers bid en God om wysheid en insig vra. Wanneer ons dan ‘n duidelike begrip van die beste plan van aksie het, sal ons met vertroue en moed kan optree in die wete dat God met ons is. ‘n Gebedslewe wat deur intieme oomblikke met God gekoester en gekweek is, berei ons voor vir enige krisis of ramp, groot of klein, wat oor ons pad kom. En dan sal ons deur die lewe gaan sonder dat die dinge van die lewe ons kwel, seker van die kalmte wat Hy skenk. - Gebede en oordenkings, Christian Art Gifts, 2003. |