WANNEER DIE HEILIGE GEES IN ONS KOM WOON
  Vanaf die vroegste jare was dit die kenmerk van die Kerk van Jesus Christus dat die Heilige Gees 'n prominente plek gevul het in die lewe van elke individu asook korporatief in die Kerk as geheel.
Reeds in die eerste algemene vergadering van die gelowiges het hulle tot die slotsom gekom: "…die Heilige Gees en ons het besluit…" (Hand. 15:28). Let op die orde: "Die Heilige Gees en ons…" As die Kerk maar altyd kan voortbou hierop vir al sy besluite! Jesus het immers die Trooster (Parakletos) belowe (Joh. 14-16) en gestuur (Hand. 2).
Dit is die uitsluitlike voorrreg van die gelowiges om deur die Heilige Gees bewoon te word. Hy is die Trooster, "die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees" (Joh. 14:17).
Daar is dus mense in ons samelewing wat die Heilige Gees in hulle het, asook mense wat die Heilige Gees nie in hulle het nie. Die mense wat Hom nie het nie, word deur Jesus "die wêreld" (Grieks = kosmos) genoem.
Die begrip 'kosmos' word in verskillende betekenisskakerings in die Nuwe Testament gebruik. In Joh. 14:17 handel dit oor die gelowiges wat die Parakleet kan ontvang in teenstelling met die wêreld (kosmos) wat Hom nie kan ontvang nie. Die wêreld of 'kosmos' in hierdie verband kan dus slegs dui op die sondige mensdom.
Die rede hoekom die wêreld Hom nie kan ontvang nie, is omdat dit in vyandskap met God staan (Rom. 8:7; Jak. 4:4; 1 Joh. 2:15-17). Ons hoor dikwels ydele uitsprake, ydele grappe en lastering oor God en Jesus Christus. Dan weet ons: diesulkes ken Hom nie, en kan Hom nie ontvang terwyl hulle in vyandskap met God is nie.
Jesus het immers gesê: "…elke boom word geken aan sy eie vrugte…" (Luk. 6:44). Die feit dat die wêreld die Gees van die waar-heid nie kan ontvang nie, beteken geensins dat die ongelowige nie 'n gelowige kan word nie. Dit dui eerder op die kontras tussen die gelowige en die ongelowige. Die rede waarom die wêreld Hom nie kan ontvang nie, word in vers 17 gegee: "...omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie..." en die teenstelling: "...maar julle ken Hom omdat Hy by julle bly en in julle sal wees."
Voordat die wêreld nie sy natuur (van vyandskap met God) prysgee nie, kan hy die Trooster (die Heilige Gees) nie ontvang nie. Die individu in die wêreld is onderhewig aan geestelike magte wat die groep beheers. As hy sou wegbreek, is hy 'n verstoteling. Hy word ontwortel.
Om die Gees te ontvang, beteken dat die wêreld, of die ongelowige individu wat lid is van die wêreld, hom moet oorgee aan Christus. Dán kan hy ook die Gees ontvang en ervaar. Die weiering om afstand te doen van sy natuur het tot gevolg dat die wêreld Hom nie kan ontvang nie.
Twee koninkryke staan dus teen-oor mekaar: Die Koninkryk van Christus teenoor die koninkryk van die wêreld. Slegs 'n hartsverandering maak van die "wêreldling" 'n "Christusling" wat die Heilige Gees (Trooster) kan ken. Hierdie hartsverandering is slegs moontlik deur die werk van die Heilige Gees. Hy is aktief besig in die wêreld (Joh. 16:9-11).
Die vraag is: Aan watter koninkryk behoort jy? Is dit aan die Koninkryk van Christus en staan jy onder leiding en beheer van die Heilige Gees? Of behoort jy aan die koninkryk van die wêreld?
Waarom gee jy jou nie nou oor aan Jesus Christus nie? Hy roep jou tot volle oorgawe. Kom tot inkeer en vra Jesus om in jou hart te kom woon deur die Heilige Gees. Dan sal jy ook met reg "kind van God" genoem kan word. Joh. 1:12 verklaar: "Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo…" Mag HY ons help om waarlik kinders van God te wees!
© Dr. JJ Venter

Indeks     Index