- 15 - | |
  |
Op verskeie maniere en by verskeie geleenthede het die Here met ons gepraat oor die publikasie van 'n Christelike koerant. Die aanhaling “One drop of ink makes thousands, perhaps millions think,” het ons aangegryp omdat ons besef het dat die geskrewe woord mense bereik en in huise kom waar predikante nie altyd kan kom nie. Verder is die geskrewe woord ook nie vlietend van aard soos die gesproke woord nie en kan dit by herhaling gelees en bepeins word. Aangesien ons albei na 17 jaar van gemeentelike bediening uitgebrand het en geen vaste beroep beoefen het nie, maar deeltyds op allerlei maniere moes probeer “om die pot aan die kook te hou,” was daar géén manier waarop ons soiets kon aanpak nie. Op 7 Nov. 1996 het die Here ons uitgedaag om “op die water te loop” (Matt. 14:28-32). Hoewel ons baie gebid en hierdie visie met medegelowiges gedeel het, het daar niks gebeur voordat 'n persoon die Stem van die Here gehoor het, gehoorsaam was en op 7 Maart 1998 aan ons die nodige rekenaartoerusting van ongeveer R12 000 geskenk het nie! Kort hierna was daar nog twee persone gehoorsaam aan die Stem van God en het ons verdere programmatuur bekom teen R5 000. Met ywer en groot genade van die Heer het ons die programme begin leer en 'n koerant, “Goeie Nuus” / “Good News” het gedurende April 1998 verskyn. En hóé absoluut verheug en dankbaar was ons om reeds vóór die tweede koerant kon verskyn, 'n getuienis te ontvang dat 'n persoon se lewe aangeraak en omgekeer is deur die lees van die eerste “Goeie Nuus”! Ds. Wesley Lamprecht het aan ons geskryf: “Ek sit een Woensdagmiddag in my studeerkamer, besig met my Belydenisklas, toe 'n atleties-geboude jongman aan my deur klop. Hy vra of hy 'n paar oomblikke met my kan praat en ons spreek af op half nege dieselfde aand. Toe Mattys (skuilnaam) die aand by my aankom, ontvou die volgende verhaal: Hy is 'n professionele sportman wat van elders af na Potchefstroom verhuis het op soek na groener weivelde. 'n Onverantwoordelike lewenstyl het hom finansieel geruïneer en hy was hoog in die nood. Op soek na antwoorde, blaai hy een aand in 'n populêre tydskrif rond en kom hy op Die Sterre Voorspel af. Hy lees sy sterrebeeld se voorspelling gretig met die verwagting om iets beduidend daarin te vind - iets wat aan sy lewe sin en betekenis sou gee. Hy was egter baie bewus van 'n innerlike worsteling - die Here was besig om met hom te praat, hom te bring op 'n punt van oorgawe - maar hy soek steeds by die geluksgodin om hulp en raad. Dan lees hy: Oor 'n dag of wat gaan jy GOEIE NUUS kry… Wat sou dít tog kon beteken? Dalk 'n sportkontrak? Of 'n beduidende “wen” om op te maak vir al die duisende rande wat hy al uitgemors het? Dalk meer geluk as wat hy die afgelope tyd in sy gesinslewe ervaar het? Mattys was onseker wat hierdie goeie nuus kon wees. Die volgende dag maak hy sy posbus oop en daar staan dit lewensgroot: GOEIE NUUS / GOOD NEWS! Hy was só stomgeslaan dat hy dadelik begin lees aan die koerantjie wat hy in sy posbus gekry het en die Gees van die Here werk in hom deur dít wat daarin geskryf staan en hy maak 'n oorgawe aan die Here! Toe hy by my aanmeld, was dit enersyds om my te vertel van die Goeie Nuus (van Christus se redding!) wat hy ontvang het en andersyds om vir my te vra of hy dalk nog moet wag en waag op ánder goeie nuus (die soort waarna die sterrewiggelaar eintlik verwys het?). Hoe het hy in die eerste plek by my uitgekom? Hy het pluimbal by die kerksaal kom speel. My antwoord aan hom was eenvoudig: Kom na My toe… en Ek sal julle rus gee, en die brood van die lewe, en die water wat julle dors vir goed sal les… (Vergelyk Matt. 11; Joh. 4 en Openbaring 21). Mag die Here gee dat baie deur die lees van hierdie Christelike koerant, die WARE GOEIE NUUS sal verneem wat hulle lewens onherroeplik sal verander!” Hierdie seënbede wat ds. Wesley uitgespreek het, het die afgelope 15 jaar male sonder tal waar geword. Baie mense het tot redding gekom, baie huwelike is herstel, baie verhoudings wat skade gely het, is wonderbaarlik vernuwe en selfs finansiële probleme is reggestel. Selfmoordpogings is afgeweer en die betrokke mense is onder die Here se liefde toegevou en heelgemaak. Om van al die kosbare getuienisse te skryf, sal 'n paar koerante volmaak! Ons is net oorstelp oor God se deernis, genade en liefde, Sy ingrype in menselewens deur die nederige instrument, die “Goeie Nuus” / “Good News”. Ons dank en eer HOM daarvoor! Ons wil ook aan al ons adverteerders, voorbidders en gewers baie dankie sê wat “Goeie Nuus” / “Good News” die afgelope 15 jaar so getrou ondersteun het. Ons kon van 10 000 koerante die oplaag vermeerder tot 40 000, en versprei die “Goeie Nuus” / “Good News” nou reeds in 12 dorpe in veral die Noordwes. Van 'n baie klein begin is daar groot vordering gemaak deur die Heer se onbeskryflike genade en hierdie maand kon ons reeds 5 768 900 gratis koerante aan mense verskaf. (Sien onderstaande grafiek.) Indien enige persoon deur die Heilige Gees gelei word om ons te help om nog méér dorpe en mense te bereik met die boodskap van GOD se liefde, kan u ons skakel by 018 293 1996 of 074 254 2319. - Redaksie ![]() |