MOENIE KLIPPE OPTEL NIE...
  Die verhaal van die owerspelige vrou vind ons in Joh. 8:1-11. Die Skrifgeleerdes en die Fariseërs het die vrou na Jesus gebring met die woorde: “Meester, hierdie vrou is op 'n daad van egbreuk betrap; en Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig; maar U, wat sê U?” Dit was in werklikheid 'n strikvraag, 'n vraag om Hom te versoek, omdat hulle rede gesoek het om Hom te beskuldig (vs. 6). Maar ons lees dat Hy neergebuk en met Sy vinger op die grond geskryf het. Tog het hulle daarop aangedring dat Hy uitspraak moes gee. Sou Hy vir Moses getuig, of teen hom?
As Hy sê dat Moses reg is en sy gestenig moet word, sou Hy in die moeilikheid by die Romeinse regering wees, want die Jode het nie volmag gehad om die doodstraf te voltrek nie. Sou Hy sê dat sy nie gestenig moet word nie, dan oortree Hy die Wet van Moses, en dan is Hy skuldig aan Wetsverbreking. In ieder geval sou Hy skuldig wees, het hulle gereken. Hy was vas.
Maar Sy antwoord kom duidelik. 'n Antwoord wat hulle nie kon voorsien nie: “Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste 'n klip op haar gooi. En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe.”
Wat het Hy geskryf? Daaroor kan ons maar net spekuleer. En tog staan dit in die lig van Sy antwoord dat die een wat sonder sonde is, die eerste klip moet gooi. Dit kan dus 'n logiese afleiding wees dat Hy hulle sondes neergeskryf het. Een vir een het hulle oor Sy skouer gekyk wat Hy neergeskryf het. Elkeen het voor God se spieël kom staan, en homself in sy eie vodde gesien. Daarop het hy woordeloos weggegaan.
Net die vrou het oorgebly saam met Jesus - die enigste Een wat die reg gehad het om haar te stenig, want Hy alleen was sonder sonde. Maar wat doen Hy? Hy vra: “Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”
Die boodskap is duidelik - tot vandag toe: Moenie klippe optel nie! Hoe duidelik spreek Sy Woord. As óns mense oordeel, dan dryf die oordeel die liefde uit. Maar as ons ons naaste liefhet, dan dryf die liefde die oordeel uit. Daar is nie plek vir albei in ons harte nie. Jakobus sê: “'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie? 'n Vyeboom, my broeders, kan tog nie olywe voortbring, of 'n wingerdstok vye nie? So kan geen fontein brak en vars water voortbring nie” (Jak. 3:11-12).
Laat ons ons dan hartgrondig bekeer van ons veroordeling en hardvogtige haat, en vir God vra dat Sy liefde oorvloedig in ons harte sal woon!
© Dr. JJ Venter

Indeks     Index