LIEFDE... HOU NIE BOEK VAN DIE KWAAD NIE | |
  |
Op 'n koue wintersaand het 'n sekere man 'n hartaanval gehad en nadat hy in die hospitaal opgeneem is, het hy die verpleegster gevra om sy dogter te laat kom. Hy het verduidelik dat hy alleen woon en dat sy sy enigste familielid was. Die verpleegster het die dogter geskakel. Sy was baie ontsteld om die nuus te verneem en het geskreeu: “Moet hom asseblief nie laat sterf nie! Pappie en ek het omtrent 'n jaar gelede 'n hewige argument gehad. Ek het hom sedertdien nog nie weer gesien nie. Al hierdie maande wou ek hom om vergifnis vra. Die laaste woorde wat ek hom toegevoeg het, was: Ek haat jou!” Sy het gesê dat sy dadelik op pad was. Die pasiënt se toestand het egter versleg en die verpleegster het gebid: “O, Here, sy dogter kom. Moenie dat dit op hierdie wyse eindig nie.” Die pogings van die dokters kon egter nie die pasiënt se lewe red nie. Die verpleegster het gesien hoedat een van die dokters met die dogter praat. Sy kon die verdriet op haar gesig sien. Sy het haar eenkant geneem en gesê: “Ek is so jammer!” Die dogter het gesê: “Ek het hom nie regtig gehaat nie, weet jy. Ek het hom liefgehad. Mag ek hom nou sien?” Die verpleegster het gedink: Hoekom nog meer verdriet ondervind? Maar sy het haar na die kamer geneem waar haar vader gelê het. Die dogter het na die bed geloop en haar gesig teen haar vader gedruk en tot siens gesê. Die verpleegster het 'n stukkie papier op die tafeltjie langs die bed opgemerk. Sy het dit opgetel en gelees: “My liefste Janie, ek vergewe jou. Ek bid dat jy my ook sal vergewe. Ek weet dat jy my liefhet. Ek is ook lief vir jou. Pappie.” Die onnodige hartseer wat die gevolg is van onvergewens-gesindheid, is hartverskeurend! Om aan 'n grief vas te hou, is 'n geweldige las. Het u al ooit gesê: Ek sal jou vergewe, maar ek sal nooit vergeet nie? Is dít werklik vergifnis? Ander het u verkeerd behandel. Dit was onregverdig, ongevraagd, onverskoonbaar en laakbaar. Dis miskien geen vertroosting nie, maar almal van ons het dit al op een of ander stadium van ons lewens ondervind. Maar wat doen ek nou omtrent hierdie saak? Ons het almal vyande, maar die grootste vyand is Satan self. Hy sal sy bes probeer om jou só te laat kwes dat jy nie bereid is om te vergewe nie. Weiering om te vergeet, is die hoeksteen in die oprigting van monumente wat 'n gees van wraaksug huisves! Dink 'n bietjie… Hoeveel kerke is al gestig omdat daar meningsverskille oor sekere sake was? In my geboortedorp het 'n kerk in twee geskeur omdat hulle nie ooreen kon kom oor kleredrag nie! Is dit moontlik om werklik te vergeet? Word hierdie data nie in ons geheue ingeprent nie? Dr. Earl Radmacher skryf: Die menslike brein is 'n fantastiese rekenaar. Niemand kon nog 'n rekenaar ontwerp wat so ingewikkeld en effektief is soos die mens se brein nie. U brein is in staat om 800 indrukke per sekonde vir vyf en sewentig jaar te stoor sonder om ooit moeg te word… Die punt is, die brein is in staat tot 'n ongelooflike hoeveelheid werk en alles wat dit registreer, bly behoue. Jy vergeet nie werklik iets nie. Jy herroep dit net nie. Alles is op 'n permanente lêer in jou brein. Geskiedenis is eintlik 'n lang reeks van mense wat geweier het om dít wat hulle aangedoen is, te vergeet. Daar was 'n jong Joodse seun wat in Duitsland gebore en getoë is en 'n groot bewondering vir sy vader gekoester het. Die belangrikste in hulle lewe was hul godsdiens. Die vader was 'n ywerige kerkganger en hy het dieselfde van sy kinders verwag. Toe die seun 'n tiener was, het die familie na 'n ander dorp in Duits-land verhuis. In hierdie dorp was geen sinagoge nie en die gemeenskap se leiers het almal die Lutherse Kerk besoek. Die vader het aangekondig dat hulle by die Lutherse Kerk gaan aan-sluit en hul Joodse tradisies prysgee. Die tienerseun was verward en seergemaak. Sy teleurstelling het tot woede gegroei en in bitterheid verander. Dit het hom vir die res van sy lewe bygebly. Om in staat te wees om te vergeet, verg meer as 'n natuurlike reaksie. Dit verg 'n bonatuurlike aksie. Toe hy oud genoeg was, het hy Duitsland verlaat en na Engeland verhuis waar hy gaan studeer het. Hy het baie tyd in die Britse Museum deurgebring en sy geformuleerde gedagtes in 'n boek gepubliseer. In hierdie boek het hy 'n denkrigting geskep wat die moderne wêreld ingrypend sou verander. Hy het geboorte gegee aan die gedagte dat godsdiens “opium vir die massas” is. Sy veronderstelling was dat alles ingevolge ekonomiese terme verklaar kon word. Miljoene mense het gelewe en gesterwe en baie sal nog lewe onder die stelsel wat hierdie man, wat nie wou afstand doen van sy verwonding nie, ontwerp het. U het seker sy naam geraai - Karl Marx. Sal dit baie vergesog wees om te sê dat Kommunistiese onder-drukking tot stand gekom het omdat een man geweier het om te vergewe en te vergeet? Ek dink nie so nie. Paulus het geskryf: “(Die liefde) hou nie boek van die kwaad nie” (NV) en “is nie bly oor die ongeregtigheid nie” (1 Kor. 13:5,6). As ons waarlik liefhet, sal ons ophou om al die seermaakdinge op te skryf. Om te vergeet, is om buite rekening te laat, om op te hou onthou en nie eers verder daaraan aandag te skenk nie. Kom ons luister weer na Paulus: “... As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer: ek is besny op die agste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër; wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik” (Fil. 3:4-6). Wat 'n getuigskrif! Maar die volgende verse bring die regte perspektief: “Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van Wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry” (Fil. 3:7-8). Paulus het hom dus losgemaak van die verlede, en dit is wat elke kind van God ook behoort te doen. Verder het hy ook tot die gevolgtrekking gekom dat selfs alle prestasies in die lewe maar vaal is in vergelyking met ‘n verhouding met Jesus Christus, ons Saligmaker! Uit: Geen Groter Liefde, Robert Strand, VG Uitgewers, 1996. |