DIE SKOOL VAN TELEURSTELLINGS
  Ek dink nie daar is 'n enkele mens wat nie êrens in die loop van sy lewe met teleurstelling te doen kry nie. Die belangrike vraag is egter nie of jy al teleurstellings ervaar het nie, maar wat jy daaruit geleer het.
Saul en Dawid het geweet wat teleurstelling, mislukking en ver-werping is. En ondanks Dawid se sonde, het hy sy “kursus” in die “skool van teleurstelling” geslaag. Dieselfde kan ongelukkig nie van Saul gesê word nie.
Albei konings het foute gemaak en verkeerde dinge gedoen. Waarom sê die Bybel dan dat Dawid - en nie Saul nie - na aan God se hart was?
Die profeet Natan het Dawid met sy sonde gekonfronteer, en hy het dit onmiddellik erken en voor God bely. Hy het met opregte berou na die Here toe gegaan en vir Hom gesê: “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in U oë” (Ps. 51:6). Daarop het hy gepleit dat God hom nie moes verlaat nie: “Verwerp my nie van U aangesig nie en neem U Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van U heil, en ondersteun my deur 'n gewillige gees” (Ps. 51:13, 14).
Saul het ook as jongman op God vertrou, maar sy posisie en suk-ses het hom stadig maar seker laat verander. Hy het begin glo dat die wette van gehoorsaamheid nie op hom van toepassing was nie, en hom nie net van sy volk vervreem nie, maar ook van God.
Die tragiese is egter dat hy homself deur dit alles steeds oortuig het dat hy gehoorsaam was. Ons sien dit waar Samuel hom konfronteer omdat hy nie, soos God beveel het, al die Amalekiete en al hulle besittings, vernietig het nie. Want hy antwoord dat hy wél God se bevel uitgevoer het. Hierdie selfmislei-ding het uiteindelik tot krank-sinnigheid gelei.
Hy was bitterlik jaloers op die jong Dawid, wat al hoe meer gewild geraak het onder die mense en het vir jare probeer om hom dood te maak. Dawid het egter geweet dat God Saul as koning laat salf het, en wou daarom niks doen wat hom kon benadeel nie. Dawid het wel later in sy lewe aan owerspel toegegee - maar Saul het aan bitterheid en haat toegegee.
Wat ook al in jou lewe gebeur, moenie toelaat dat bitterheid 'n houvas op jou kry nie. Daar is min dinge wat 'n mens so finaal kan vernietig as bitterheid. En neem jou voor om jou sonde - wat dit ook al mag wees - met berou voor God te bely en die pad enduit saam met Hom te loop.
Sommige mense moet elke dag met hulle teleurstellings en mislukkings saamleef. Dink maar aan die mens wat aan 'n rolstoel gekluister is, of elke dag saam met die een met wie hy getroud was, moet werk.
Ons glo dat die Here ons uit enige beproewinge kan verlos. Maar daar word nie genoeg klem gelê op die feit dat Sy genade ons ook midde-in die omstandighede kan versterk nie.
Paulus was 'n kragtige instrument in God se Hand. Hy het nie net verlore siele tot verlossing gelei nie, maar talle mense genees. En tog is hy nooit van die “doring in sy vlees” genees nie. Christene spekuleer al eeue lank oor wat Paulus makeer het. Ons weet nie wat dit was nie, maar ons weet wel dat dit iets ernstigs moes gewees het, anders sou hy nie so vuriglik gebid het om daarvan verlos te word nie. Dit was egter nie God se wil om dit weg te neem nie, maar dit het geensins afbreuk gedoen aan die groot werk wat die apostel vir God se Koninkryk gedoen het nie. Ons sien, inteendeel, dat die “doring in sy vlees” uiteindelik die simbool van 'n baie belangrike beginsel in sy lewe en bediening geword het.
“Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoud-hede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk” (2 Kor. 12:8-10).
Selfs die grootste probleme en die mees verpletterende omstandighede kan in geleenthede omskep word. Die duiwel is slim, maar hy is beslis nie alwetend nie en hy maak ook foute. Daarom moet hy dikwels toekyk hoe die omstandighede waardeur hy ons wou vernietig, deur God vir die gelowige omskep word in 'n geleentheid om waarlik in en deur Sy genade te leef.
Dit is dán wanneer die gelowige ondanks al sy probleme kan sê: “God is vir ons 'n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef” (Ps. 46:2). Die Christen wat waarlik oorwinning behaal het, ken die Here God ook op hierdie vlak. Hy weet dat Hy Sy kinders nie net uit hulle probleme verlos nie, maar dat Hy hulle ook in hulle probleme versterk en bystaan!
Uit: Die uitweg as ideale misluk, David Shibley, VGU, 1994.

Indeks     Index