VOLHARDING
  Volharding, standvastigheid en vasbeslotenheid spreek uit Paulus se volgende stelling: “Ek strek my uit na wat voor is en jaag na die doel om die prys te verkry ..” (Fil. 3:14).
Moenie gekniehalter word deur die dinge van die verlede nie. Vergeet en “jaag” met volharding om die einddoel te bereik! Wees positief en produktief!
Het dit gewerk in Paulus se lewe en bediening? Hy sê, “Want ek word alreeds as ‘n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby. Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat Sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:6-8).
U mag dink: dit was Paulus, maar my situasie is anders. Om eerlik te wees, ek ken u of u omstandighede nie... maar God ken u, en Sy genade is só oorvloedig dat Hy u in staat sal stel om al die seer van die verlede te vergeet.
Is daar iets of iemand uit u verlede wat u nie kan vergeet of vergewe nie? Doen nou iets daaraan! Wees eerlik teenoor God en vra Hom om u te help met die emosionele pyn.
Die volgende ware verhaal van John Edmund Haggai illustreer hoe ‘n mens jou verlede kan oorkom:
“Die Here het ons geseën met 'n kosbare seuntjie. Hy was verlam en kon slegs in sy rystoel sit met behulp van stutte. Een van die land se mees gerespek-teerde ginekoloë en verloskundiges het hom in die wêreld gebring. Ongelukkig het hierdie man, deur smart geteister, die antwoord eerder in 'n drankbottel as in die Bybel gesoek.
Aangesien hy ten tye van die bevalling onder die invloed van drank was, het hy op onverantwoordelike wyse te werk gegaan. Verskeie van die bene in die baba se liggaam is gebreek. Die een beentjie is uit die potjie geruk. Onnodige mishandeling, wat breinskade tot gevolg gehad het, was hom toegedien. (Laat my vir 'n wyle hier stilstaan om te beklem-toon dat ek my nie uitspreek teen dokters in die algemeen nie. Ek dank God vir dokters. Hierdie man was 'n tragiese uitsondering. Hy is in sommige hospitale uitgeban en het uiteindelik selfmoord gepleeg.)
Gedurende die eerste jaar van die klein kindjie se lewe, het agt dokters gesê dat hy onmoontlik kon oorleef. Vir die eerste twee jaar van sy lewe moes my vrou hom elke drie ure voed met 'n spesiale voedingsapparaat.
Dit het 'n halfuur geneem om die voeding voor te berei en nog 'n halfuur om op te ruim en hom in die bed te sit. Gedurende daardie tydperk het sy nooit uit die huis gegaan om aandag aan enigiets anders te skenk nie. Sy het nooit meer as twee ure slaap per keer gekry nie.
My vrou, voorheen Christine Barker van Bristol, Virginia, is met tye deur sommige van die land se voorste musici aangewys as een van die mees uitstaande vroulike vokaliste van haar tyd in Amerika. Sedert haar dertiende jaar was sy al populêr en voortdurend in die openbare oog. Sy het aantreklike aanbiedinge met aantreklike inkomste afgewys om met 'n aspi-rerende Baptiste-predikant, met geen gemeente nie, te trou.
Na ongeveer vyf jaar van getroude lewe, het hierdie tragedie toegeslaan. Die hele episode was so onnodig! Van 'n lewe van openbare diens, was sy nou ingekluister binne die mure van ons huis. Haar pragtige stem het nie meer die gehore in ekstase meegevoer met die storie van Jesus nie, maar het stil geword of gedemp geraak in die onderdrukte geneurie van wiegeliedjies.
As dit nie was vir haar geestelike volwassenheid waardeur sy beslag gelê het op die voorsiening van God en daardeur een dag op 'n keer geleef het nie, kon hierdie hartverskeurende ondervinding lankal 'n emosionele ineenstorting teweeggebring het.
John Edmund jr., ons klein seuntjie, het vir meer as twintig jaar geleef. Ons is verheug dat hy sy hart en lewe aan die Here gewy het. Ek skryf sy toewyding aan Jesus Christus toe aan 'n volwasse, Christus-gesentreerde moeder wat die kuns bemeester het om gedissiplineerd elke dag op sy eie te neem en voluit te leef.
Nooit het ek, of enigiemand anders, gehoor dat sy kla nie. Mense wat haar ken, is dit eens dat sy nou, op middeljarige leeftyd, steeds sprankel, ten spyte van al die verdriet wat sy moes deurmaak.”
Gryp vandag en leef! Gebruik elke geleentheid wat die lewe bied!
Uit: Geen Groter Liefde, Robert Strand, VGU, 1996.

Indeks     Index