"DANKIE HERE, HOE GROOT IS U!"
  Dit was net na 'n aanskoulike vertoning op 30 Oktober 2013, dat 'n Hercules C130 van die Lugmag byna voor 'n skare toeskouers neergestort het.

Die niksvermoedende toeskouers het gedink die vreemde bewegings van die Hercules is deel van die vertoning.

Binne die vliegtuig het die 8 lede wat gesorg het vir die suksesvolle valskermneerlatings van die vrag, in 'n gewiglose toestand teen die dak beland, voordat hulle op die vloer neergeslinger is.

Op Vrydag 1 Nov. om 16:00 het ons 'n oproep ontvang van Pastoor De Klerk van Centurion. Hy het ons meegedeel dat ons dogter, Tersia Maartens, in die vliegtuigongeluk was, en 3 rugwerwels vergruis het. 'n Gereedskapkas het haar teen die rug getref. Ons het ons na Pretoria gehaas. Sy was toe reeds in 1 Militêre Hospitaal opgeneem.

Ons het nie geweet wat ons gaan sien as ons daar arriveer nie! Tog het die Here ons kalm gehou! Ek het SMS’e gestuur om te vra vir gebede.

Die lugmagvlieëniers het gesê: “We are very lucky, we got a second chance”. Tydens die ongeluk kon die loods daarin slaag om die vliegtuig weer in 'n horisontale posisie, 200 voet bokant die grond, te bring en sodoende 'n gru ongeluk te voorkom.

Ons weet dat dit die Here was wat beheer van die vliegtuig oorgeneem het. Ons as ouers het elke dag vir 2 weke by haar bed gewaak, en gesien hoe die Here haar pyn verlig en ons ook elke oomblik emosioneel bystaan.

Om jou kind se blou ogies te sien wat smekend vra, “Help my, asseblief, die pyn is ondraaglik,” is verskriklik! Die wonderlike personeel van saal 15 het ook saamgebid! Baie dankie! Beter versorging kon sy nie kry nie!

Die dag van die operasie het ons in spanning gewag: Is sy verlam, of het die Here weer eens uitkoms gebring?

Dankie Vader vir die genesing wat u aan Tersia se liggaam geskenk het. Sy stap normaal, en het in Maart 2014 met ligte dienswerk begin. Aan elkeen wat saamgebid het, baie, baie dankie! AL DIE LOF EN EER KOM U TOE, HERE!
Johan + Rita Maartens

Indeks     Index