SUNDAR SINGH EN DIE KOUE NAG... | |
  |
Sundar Singh was 'n bekende figuur in die Oosters-Ortodokse Kerk. Van hom word die volgende ware verhaal vertel: Singh en een van sy volgelinge was eenkeer op reis deur 'n onherbergsame, sneeubedekte winterlandskap. Half verkluim en feitlik aan die einde van hul kragte het hulle voortgestrompel teen die snerpende stormwind in, toe Singh oor 'n voorwerp in die voetpaadjie struikel. Hy sien dat dit 'n mede-reisiger is wat daar lê - bewusteloos en yskoud. “Ons sal hom moet saamneem,” sê hy vir sy metgesel. “Die man sal binne ure sterf as ons hom hier laat lê en eers hulp uitstuur wanneer ons ons bestemming bereik het.” “Maar jy is gek,” antwoord sy reismaat vererg. “Hy is 'n dooie gewig. As ons twee hom moet dra, gaan dit ons só uitput en vertraag dat ons langs die pad sal omkom! Hy is in elk geval byna dood. Ek loop nou. As jy jou lewe wil waag vir iemand wat jy nie eens ken nie, is dit jou saak.” Toe stap hy vinnig en kwaad daar weg. Singh het die bewustelose man sukkelend op sy skouers gelaai en met hom teen die stormwind in voortgebeur. Sy metgesel wat alleen verder geloop het, het nooit sy bestemming bereik nie. Iewers langs die pad het hy ineengestort en van die koue gesterf. Sundar Singh het met uiterste kraginspanning die einde van sy pad bereik en kon die bewustelose man net betyds by 'n dokter kry. Later het hy vertel die enigste rede waarom hy oorleef het, was dat hy hom liggaamlik so gewel-dig moes inspan om die ander man te dra. Die inspanning het sy liggaamstemperatuur laat styg en daarom het hy nie verkluim nie. Sy onselfsugtige daad was sy behoud! In die omgewing waar Sundar Singh gewoon het, het in later jare 'n spreekwoord ontstaan: Mense wat net met hulself besig is, gaan dood van geestelike verkluiming. [Uit: Stories vir die Lewe Omnibus, Piet Naudé, Lux Verbi. 2002]. “Watter waarde het jou liefde vir God, jou godsdiens, as jy nie kans sien om die voorwerp van dié liefde, jou naaste, in jou arms vas te druk nie?” - Antoine de Saint-Exupéry |