GEE ONS 'N REIN HART
  “Gee ons ‘n rein hart,
sodat ons U kan sien.
‘n Nederige hart,
sodat ons U kan hoor.
‘n Hart vol liefde,
sodat ons U kan dien.
‘n Hart vol geloof,
sodat ons U karakter- eienskappe kan uitleef...”

- Dag Hammarskjöld

Die gebed van ‘n hart wat aan God toegewy is, is om Hom al beter te leer ken, en om al hoe meer met Sy liefde gevul te word.

Dié wat voor God verskyn met skoon hande en ‘n rein hart, sal geseën word, want hulle sal God sien (Matt. 5:8; Ps. 24:3-4).

Namate ons ‘n pad saam met God stap, word ons hart gereinig en vorm Sy heiligheid nie meer ‘n skeidsmuur tussen ons nie.

Wanneer ons hart nederig is, is ons ontvanklik vir die fluistering van Sy Woord, omdat ons nie meer op ons eie wil en begeertes aandring nie.
Ons rus in die wete dat Hy weet wat die beste vir ons is, en daarom wag ons geduldig om te hoor wat Hy sê, eerder as om voort te storm en blindelings ons eie kop te volg.

Om God doeltreffend te dien - op só ‘n manier dat Hy dit goedkeur - moet ons hart vol liefde wees. Hy wil hê dat ons Hom moet gehoorsaam omdat ons Hom liefhet, nie uit dwang of omdat ons bang is dat ons gestraf sal word nie.

As Sy liefde in ons hart toeneem, sal dít wat ons vir Hom doen, ook in waarde toeneem. Dan kan ons meer doeltreffend in Sy diens staan, omdat liefde in ons harte klop.

Deur gebed vernuwe God ons hart, vul dit met die vrug van die Heilige Gees, en versterk Hy ons om ‘n lewe te lei wat in alle opsigte vir Hom aanneemlik is.

Uit: Gebede en Oordenkings, Christian Art Gifts, 2003.


Indeks     Index