DIE SEWE KRUISWOORDE
  In Jesus se doodsaanvaarding (wat in Getsémané plaasgevind het), sien ons hoe Hy in 'n intieme verhouding met die Vader staan. Kort vantevore bid Hy: “Vader (Grieks = Pater), die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik...” (Joh. 17:1). Hy het ook vroeër Sy dissipels geleer om te bid: “Onse Vader...” (Matt. 6:9). Die woord “Vader” dui op 'n intieme, noue verhouding tussen 'n kind en sy vader. Die ver-heerliking waarvoor Hy bid, beteken nie dat die kruis Sy verheerliking is nie. Dit is slegs die deurgang na Sy verheerliking.

In Filippense 2:7-9 lees ons dat Jesus in die gestalte van God was, maar Hy “het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is…”

Kom ons ondersoek Jesus se 7 kruiswoorde. Met elk van hierdie kruiswoorde betree Hy die dood:

1. En Jesus sê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Luk. 23:34). Hierdie woorde verwys na die Romeine sowel as die Jode wat saamgewerk het om Hom te kruisig. Hy hou niks teen hulle nie; inteendeel, Hy het ook húlle skuld op die kruis gedra.

2. En Jesus antwoord hom: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Luk. 23:43). Dit sê Jesus vir die rower wat saam met Hom gekruisig is. Dit volg op die rower se woorde: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” Daar is selfs ruimte vir sterwen-des om na Jesus te keer. Ook vir hulle het Jesus die dood inge-gaan. Dit is nooit te laat om na Hom te roep nie!

3. En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, dáár is u seun!” (Joh 19:26). Daarop sê Hy vir die dissipel: “Dáár is jou moeder!” En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem (Joh. 19:27).
Hierdie is 'n afskeidsboodskap aan Jesus se moeder en Sy geliefde dissipel. Hy tref in liefde voorsorg vir Sy moeder voordat Hy sterf.

4. En die negende uur het Jesus met 'n groot stem uitgeroep en gesê: “Eloï, Eloï, lamma sabagtáni?” wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Markus 15:34).
Duisternis het vir drie ure (vanaf 12 - 3 nm.) op die aarde toegesak. Só afgryslik was die dood wat Hy moes sterf dat God in Sy heiligheid Sy gesig van Jesus weggedraai het.
Die woord “Dood” (Grieks = Thanatos) beteken “skeiding”. Die intieme verhouding met Sy Vader is verbreek vanweë die sonde wat Hy op Homself geneem het. Die liggaamlike pyn wat Hy moes verduur, was verskriklik, maar die skeiding van God was die ergste lyding van alles...
Jesus het hierdie letterlike skeiding van God die Vader tydelik beleef, sodat óns nooit van Hom geskei hoef te wees nie! Hy het LEWE vir ons bewerkstellig!

5. Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was - sodat die Skrif vervul sou word - het Jesus gesê: “Ek het dors!” (Joh. 19:28). Hierdie is woorde van 'n sterwende op die kruis, maar in Jesus se geval het dit óók geestelike betekenis: Hy het 'n ewige dors gehad dat alle mense tot redding sou kom!

6. En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: “Dit is volbring!” En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee (Joh. 19:30).
Die Griekse woord vir “volbring” is tetelestai, wat beteken “dit is afgehandel, dit is voltooi,” die volmaakte prys is vir eens en vir altyd betaal! Daar kan niks meer bygevoeg word nie. Dit is eenmaal in die menslike geskiedenis volmaak volbring!

7. En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit (Luk. 23:46). En só sterf die Seun van God vir die sonde van die ganse mensdom... “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16).

Hy het die dood ingegaan sodat ons die ewige lewe kan verkry! “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood (thanatos) in die lewe” (Joh. 5:24).
“Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood (thanatos) in die lewe omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood” (1 Joh. 3:14).

Laat ons Jesus opnuut dank en onsself opnuut aan Hom toewy uit waardering vir die onuitspreeklike prys wat Hy vir ons betaal het!
© Dr. JJ Venter

Indeks     Index