WANNEER GOD 'N DROOM IN JOU HART PLAAS... | |
  |
Wanneer God 'n droom in 'n mens se hart plaas, kan dit 'n oorweldigende gedagte wees! Onmiddellik wil 'n mens dit deurdink en al die uitdagings en hekkies in die pad identi-fiseer. Die enormiteit daarvan kan 'n mens selfs magteloos en radeloos laat voel. Jy wonder selfs vlugtig of jy God se opdrag reg gehoor en verstaan het… Maar dan dink 'n mens terug aan God se getrouheid in jou eie lewe; hoe Hy jou al soveel male deurgedra het ten spyte van omstandighede wat geblyk het of dit jou kan verswelg. 'n Mens dink na oor God se karakter en besef dat Hy dáár is vir die wat by Hom skuil. Hy is onveranderlik en betroubaar. “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb. 13:8). Hy kan jou voet nie laat wankel nie (Ps. 121:3). Hy kan Homself nie verloën nie (2 Tim. 2:13). Trouens, dit is eintlik goed om jou eie ontoereikendheid en afhanklikheid te besef, want dán kan Hy intree en wonders verrig. Paulus skryf: “Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk” (2 Kor. 12:10). Jesus Self noem ons geseënd wanneer ons besef hoe afhanklik ons van God is (Matt. 5:3). Hy verlang om ons by te staan, maar sal dit nie sonder ons toestemming doen nie. Die Here het bykans 20 jaar gelede 'n droom in ons harte geplaas. Menslik gesproke was dit geheel en al onmoontlik. Na 17 jaar van voltydse gemeentelike bediening en gevolglike uit-branding moes ons 'n Christelike koerant op die been bring. Geen finansies; geen toerusting; geen helpers; onbekende terrein. Dit was 'n geweldige geloofstoets - sou hierdie onderneming hoege-naamd slaag en volhoubaar wees? Maar God het mense op ons pad gebring om ons te ondersteun. Stukkie vir stukkie het dinge in plek begin val toe ons besluit het om God te vertrou en in geloof die eerste tree te gee. Hy was by ons om ons uit te red (Jer. 1:8). Hy het ons gedurigdeur gelei (Jes. 58:11). “En tog was ek altyd by U; U het my regterhand vasgehou. Deur die raad wat U gee, lei U my…” (Ps. 73:23,24a). Vandag is dit 17 jaar later, en 'n wonderlike siklus is voltooi: ons Media-bediening is nou net so oud soos ons voltydse gemeentelike bediening! Ons kan die Here nie genoeg dank vir Sy troue sorg en liefde deur al hierdie jare heen nie! Dag vir dag en maand na maand het Hy ons gedra en vir ons voorsien. Hy het die onmoontlike vermag! Bykans 7 miljoen kopieë van die Goeie Nuus / Good News is die afgelope 17 jaar gratis na 12 dorpe versprei. Ons kan ons vereenselwig met Jesus se woorde: “So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diens-knegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen” (Luk. 17:10). Ons is verheug oor die vrug wat ons reeds op hierdie Bediening sien. Deur die jare heen het ons getuienisse ontvang van talle mense. Selfmoorde en gesinsmoorde is afgeweer, huwelike is herstel en verryk, ouers en kinders is versoen, en mense is bemoedig en versterk. Talle persone het 'n oorgawe aan die Here gemaak en Hom as hul Verlosser aanvaar. Ander het hulle lewens opnuut aan die Here toegewy. Mense is aangespoor tot milde gawes vir die Koninkryk, en lidmate uit verskeie agtergronde is aangemoedig om bande te smee, saam te staan, en saam te werk tot eer van die Here! Dit is dan ook ons begeerte om enduit vol te hou en getrou bevind te word in hierdie Goddelike opdrag. Paulus het vir Argippus aangemoedig: “Let op die bedieningstaak wat jy van die Here ontvang het, sodat jy dit uitvoer” (Kol. 4:17). Jesus het egter die grootste voorbeeld vir ons nagelaat en Hy kon met oortuiging sê, “Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U aan My gegee het om te doen” (Joh. 17:4). Laat ons ons ook beywer om in onderdanigheid God se Stem te gehoorsaam, al is dit soms moeilik en kos dit 'n prys. Hy het ons eerste liefgehad en die grootste prys - Jesus Christus se lewe, sterwe en opstanding - vir ons betaal, sodat ons Hom in vryheid en vreugde kan dien, en deur dit te doen, baie mense tot Sy eer te kan aanraak! - Uitgewers van Goeie Nuus / Good News |