VOORTDURENDE KRITIEK | |
  |
Om van tyd tot tyd onder kritiek deur te loop, is onvermydelik. Enige persoon sal gekritiseer word indien hy konsekwent die waarheid praat, met integriteit leef, God dien, sonder kompromie vir Jesus Christus kies en leef, en die Bybel as enigste riglyn vir sy lewe gebruik. Daarmee moet ons vrede maak. Dit sal nodig wees om weer en weer voor God te gaan staan en 'n keuse te maak om Hóm en Hóm alleen te dien. Paulus skryf: Dit is vir my nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur 'n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie. Dit is die Here wat my beoordeel (1 Korintiërs 4:3-4). Dit is net die Heilige Gees wat ons kan wys wat in ons lewe verkeerd is. Die druk van kritiek maak 'n mens geestelik moeg. Kritiek is 'n vorm van verwerping. Dit is negatief, afbrekend en vernederend. Enige persoon wat op 'n voortdurende basis daaraan blootgestel word, begin onver-mydelik aan homself twyfel en het bemoediging nodig. Ons het 'n voorbeeld uit Daniël se lewe. In Daniël 6 lees ons dat daar van hom gesê is: Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kry in verband met sy godsdiens (Daniël 6:5b). Daniël het egter voort-gegaan om drie maal per dag voor God te gaan kniel en die Here te prys en te dank. Let op dat sy gebede vol lofprysing en dank-baarheid was. In Matteus 5:11-12 sê Jesus: Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug julle. Ons lees verder in Daniël 6:12 dat Daniël God aanbid en Hom vir uitkoms gesmeek het. Let op die vier woorde 'prys', 'dank', 'aanbid', 'smeek'. Dit is die pad om te loop wanneer ons onder kritiek deur-loop: om God te prys, te dank, te aanbid en vir uitkoms te smeek aangaande die situasie waarin ons ons bevind. Wanneer ons onder kritiek deur-loop, is dit in die tweede plek nodig dat ons aan onsself moet sterf. Daar is geen alternatief vir die “sterf aan die self” nie. “Sterf aan die self” beteken dat ons God bo alles kies en dat ons nie toelaat dat mense se goed- of afkeur van dit wat ons doen, of wie ons is, ons beïnvloed nie. Dit is ook 'n dag-tot-dag-proses dat ons hierdie keuse moet maak. Dit is in gebed dat ons telkens kies om die wil van God te doen en ons nie deur kritiek te laat beheer nie. Dit is ook nodig om die Heilige Gees te vra om vir ons wysheid te gee om elke situasie te hanteer. Ons moet die Heilige Gees vra om vir ons Skrif te gee wat ons sal versterk, bemoedig en wys hoe om so op te tree dat ons vir ander mense tot seën sal wees. Om onder voortdurende kritiek te leef, gaan in die derde plek van ons vra om voortdurend te ver-gewe en te kies om lief te hê. Jesus se sewentig-maal-sewe-beginsel vir vergifnis sal tot die uiterste getoets word. Ons kan dit nie doen deur nét 'n wilsbesluit te neem nie. Ons sal telkens na God toe moet gaan, hierdie saak aan Hom moet oorgee, die mense ver-gewe en vra dat die Heilige Gees ons met liefde sal vul vir die persone wat ons kritiseer. In Romeine 5:5 lees ons dat dit die Heilige Gees is wat die liefde van God in ons harte uitstort. Slegs deur die liefde wat God deur die Heilige Gees vir jou gee, is jy in staat om die oorwinning te behaal. In die vierde plek is dit belangrik dat ons seker maak dat daar nie wettige redes is op grond waarvan mense ons kan kritiseer nie. As Christene moet ons nie vir mense redes gee om kritiek te lewer nie. Ons moet só leef dat niemand rede het om ons te kritiseer nie. Een van die belangrikste dinge is dat ons nie onsself altyd moet verdedig nie. As Christene moet ons bereid wees om onreg te verdra (1 Korintiërs 6:7) en wanneer ons dit doen, bewys God Self ons onskuld op die regte tyd (Lukas 18:8). So dikwels is ons kwaad en voel ons verontreg omdat ons gekritiseer word en besef nie dat daar dinge in ons lewens is wat aanstoot gee of ander seermaak nie. Ons moet op 'n gereelde basis na God toe gaan en Hom vra om deur die Heilige Gees vir ons te wys watter dinge daar in ons lewens is wat aanstoot gee, ander mense seermaak, of ons integriteit ondermyn. Laastens moet ons God toelaat om deur Sy Gees vir ons te wys wat HY van ons dink en hoe HY oor ons voel. Dit is wanneer ons Sy onbegryplike Vader-liefde en aanvaarding beleef, dat ons krag ontvang om voort te gaan met ons lewe, 'n getuie vir Hom te wees, en die werk te doen wat Hy vir ons gegee het om te doen. [Uit: Jerigo Mure, Des. 2012 / Jan. / Feb. 2013]. |