VADERS WAT WAAK OOR HULLE GESINNE...
  'Dit is vaders se voorreg en verantwoordelikheid om oor hul gesinne te waak en vir hulle te bid. Vaders het 'n priesterlike verantwoordelikheid: As hoof van die huis het God die man as priester aangestel om vir sy gesin te bid. Deur gebed moet hy sy gesin voor God verteenwoordig. Dit beteken geensins dat die vader enige van die gesinslede se verantwoordelikheid om ook te bid, oorneem nie.

Vaders moet bid vir die beskerming van hulle gesinne. As man moet hy bid vir sy vrou se veiligheid, beskerming teen die indringing van 'n derde party in die huwelik, vir haar fisiese veiligheid (teen verkragting, ongelukke, aanvalle, diefstalle). Die man moet bid vir sy vrou se gesondheid, haar emosies, daaglikse besluite wat sy moet neem en geestelik en emosioneel vir haar 'n veilige plek skep. 'n Man moet bid dat sy vrou in die Waarheid sal wandel, want wanneer sy in die wáár-heid leef, sal sy in geestelike vryheid lewe. So moet die man ook as vader vir sy kinders bid: vir hulle verhoudings, gedagtes, fisiese beskerming, dwaalleringe en blootstelling aan perversiteit en onreinheid.

Die vader moet verantwoordelikheid neem en omsien na sy gesin se geestelike lewe, hul verhouding met God en hulle geestelike groei. Hy moet bid dat sy vrou en kinders God onvoorwaardelik sal volg en met Sy Gees vervul sal wees. Hy moet bid vir dieper insig in die Woord, dat hulle lewende getuies vir God sal wees en in Hom sal glo en Hom sal vertrou met elke aspek van hulle lewens.

Vaders het die verantwoordelikheid om die wil van God oor hulle gesinne te bid: dat God Sy skeppingsdoel met elkeen sal bereik en dat hulle gewillig sal wees om te doen wat God van hulle verlang. Vaders moet bid dat die Heilige Gees die wil van God en Sy groter plan met hulle lewens aan hulle sal openbaar. Wanneer 'n vader bid, moet hy God vra om vir hom te wys wat daar is wat die Heilige Gees wil hê sy gesin moet leer.

'n Vader moet tyd spandeer om na God te luister sodat hy God se wil vir sy gesin kan bid (Markus 13:33, 35, 37). Wanneer ons na God luister, openbaar Hy waaroor ons moet bid. Soms kan die Heilige Gees bv. vir ons wys dat 'n spesifieke gesinslid in gevaar verkeer, innerlike konflik beleef, moedeloos is, of twyfel wat die wil van God vir sy / haar lewe is. In sulke tye moet die vader die leiding van die Heilige Gees vra en daarvolgens bid. As daar dalk 'n verhoudingsprobleem met iemand is, kan die Heilige Gees vir die pa wys om oor selfsug of jaloesie te bid. Op 'n ander keer kan hy bid dat sy kind onderskeidingsvermoë aan die dag sal lê, en by 'n volgende geleent-heid dat die kind nie 'n kompromie sal aangaan wat sy getuienis sal skaad nie.

Demoniese aanvalle is 'n geweldige werklikheid en dit is die vader se verant-woordelikheid om te bid en die Bose te weerstaan. Die vader moet sensitief wees vir die Stem van die Heilige Gees vir wanneer dit die Bose is wat iemand in sy gesin aanval en hy moet dan in die Naam van die Here Jesus die Bose weerstaan (Jakobus 4:7; 1 Petrus 5:8).

Vaders moet vanuit die Woord vir hulle gesinne bid. Vaders moet bid dat hulle gesinne God se bevele sal gehoorsaam en God dank dat Hy getrou sal wees aan Sy beloftes. Dit is goed om deur die Psalms te lees en sensitief te wees oor wat God se bevele en beloftes is en daarvolgens vir hulle gesinne te bid.

Laastens moet vaders hulle kinders op 'n daaglikse basis seën. Gebruik Numeri 6:23-27 en ook Efésiërs 1:3 om God se seën oor jou gesin af te bid. Min dinge is belangriker as om daagliks vir jou gesin se beskerming te bid en hulle te seën in die Naam van die Here.
[Uit: Jerigo Mure, Sept./Okt./Nov. 2013].

Indeks     Index