MY SIEL MAAK GROOT DIE HERE! | |||
  |
Op verskeie maniere en by verskillende geleenthede het die Here met ons gepraat oor die publikasie van 'n Christelike koerant. Aangesien ons albei na 17 jaar in voltydse gemeentelike bediening uitgebrand was, geen vaste beroep beoefen het nie, deeltyds op allerlei maniere moes probeer om die spreekwoordelike "pot aan die kook te hou", drie kinders op skool gehad het, maar geen fondse in die bank nie, was daar géén manier waarop ons so iets kon aanpak nie. Die Here het ons egter gedurig uitgedaag om 'n sprong in die geloof te waag. Die aanhaling: "One drop of ink makes thousands, perhaps millions, think" het ons aan die hart gegryp en ons het besef dat die geskrewe woord baie mense kon bereik en in huise kom waar predikante nie altyd toegang verkry nie. Die geskrewe woord is ook nie vlietend van aard soos die gesproke woord nie en kan by herhaling gelees en bepeins word. Op 7 Maart 1998 het 'n persoon, gehoorsaam aan die Stem van God, aan ons al die nodige rekenaartoerusting ter waarde van R12 000 geskenk! Kort hierna was nog twee persone gewillig om na God se Stem te luister en het een R4 000 en 'n ander een R1 000 aan ons gegee waarmee ons verdere programmatuur kon koop. Met veel vrees en bewing het ons gesin onsself tot beskikking van God gestel en gedurende April 1998 het die eerste beskeie uitgawe van "Goeie Nuus" / "Good News" die lig gesien. Tienduisend eksemplare is gratis van huis tot huis in Potchefstroom versprei. Dit het ons voltydse strewe en bedie-ning geword om die Blye Boodskap van Jesus Christus uit te dra. Ons bede is ook dat die inhoud mense sal aanspoor om hulle lewens opnuut aan God toe te wy, en hulle te bemoedig en te versterk sodat hulle met vol-harding die geestelike wedloop kan voltooi. MAAR GOD was nog nie klaar met ons nie! 'n Jaar later gee Hy opdrag dat ons ook uitbrei na Klerksdorp. En só het Hy telkens nog dorpe op ons lysie bygevoeg: 1998 - Potchefstroom 1999 - Klerksdorp 2000 - Stilfontein en Hartbeesfontein 2001 - Orkney 2004 - Parys 2005 - Ottosdal, Tosca, Ventersdorp 2006 - Molopo-omgewing 2007 - Delareyville 2009 - Fochville 2015 - Wolmaransstad, Schweizer-Reneke, Koster, Derby, Viljoenskroon, Vredefort, Sannieshof en Biesiesvlei |
||
![]() |
|||
  |
"Goeie Nuus" / "Good News" is 'n nie-winsgewende, onafhanklike gesinsbediening wat aan geen Kerkgenootskap of spesifieke gemeente gekoppel is nie. Ons poog om alle ware gelowiges, ongeag Kerkverband, te bedien en ook om die Blye Boodskap aan almal wat dit nog nie gehoor of hul eie gemaak het nie, oor te dra. "Goeie Nuus" / "Good News" se gratis verspreiding word moontlik gemaak deur advertensies en blymoedige gewers wat gehoor-saam is aan die Stem van die Here. Ons glo die Here sal elkeen ryklik beloon wat daartoe mee-help dat hierdie Koerant maandeliks gratis aan ongeveer 180 000 lesers beskikbaar gestel word. Ons druk- en verspreidingskoste verhoog egter jaarliks en dit gebeur byna maandeliks dat die advertensie-inkomste nie genoegsaam is nie. Dan moet ons telkens weer "op die water loop". MAAR GOD is getrou en het ons nog nooit in die steek gelaat nie! Telkemale verras Hy ons weer en kan ons voortgaan met die uitbouing van Sy Koninkryk. Die wonderlikste van alles is egter dat God hierdie Koerant gebruik om mense se lewens radikaal te verander! Hier volg slegs enkele getuienisse van mense wie se lewens aangeraak is... 1. Reeds met die eerste uitgawe van "Goeie Nuus" / "Good News" (April 1998), het God se Heilige Gees mense se lewens aangeraak. Ds. Wesley Lamprecht van Potchefstroom kon o.a. in die volgende uitgawe skryf van Mattys* se oorgawe aan die Here nadat hy hierdie Koerant in sy posbus ontvang het. Hierdie jongman, 'n professionele sportman, se onverantwoordelike lewenstyl het hom finansieel geruïneer en hy was hoog in die nood. Sy gesinslewe was ook ongelukkig en hy het innerlik geweldig geworstel oor die sin van die lewe. Toe hy artikels in die Koerant begin lees, het God se Gees in sy hart gewerk en het hy sy lewe aan God oorgegee en Jesus aangeneem as Saligmaker. Na hierdie gebeurtenis is hy na ds. Wesley vir verdere hulp en leiding. 2. In Januarie 2005 het 'n gedig "Aan Sy Hand" in die "Goeie Nuus" verskyn. 'n Jong meisie van Klerksdorp het dit uitgeknip en aan die binnekant van haar Bybel geplak en daarby geskryf dat sy haar lewe opnuut aan die Here toewy. Sy is kort daarna oorlede en vir haar geliefdes was dit 'n wonderlike troos om te weet dat haar saak met God reg was en dat sy na Hom toe is. 3. Gedurende Maart 2005 ontvang ons 'n brief van 'n dame wat na aanleiding van 'n getuienis in 'n vorige Koerant die betrokkenes gebel het en deur hulle skakeling met mekaar en gebede vir mekaar is haar gesin, en veral haar seun oor wie sy baie bekommerd was, se hele lewe verander. 4. Ons het oor 'n aantal jare verneem van meer as een bedelaar wat die Koerant op 'n wonderbaarlike manier in die hande gekry het. Een man het net 'n gedeelte van die Koerant waarop die nommer van 'n Huis vir Haweloses was, langs die Mooirivier gekry. 'n Paar bede-laars het toe daarheen gegaan en die Here gevind as Saligmaker. Een is later deur 'n motor raakgery en het gesterf, maar die dame in beheer van hierdie Skuiling het geweet dat hy gered en gereed was om die ewigheid tegemoet te gaan. 5. Ons het per geleentheid 'n e-pos uit Australië ontvang om dankie te sê aan "Goeie Nuus" se lesers wat op 'n vorige brief van haar wat in die Koerant geplaas is, gereageer het en geestelike leesstof en musiek aan haar gestuur het vir die biblioteek wat hulle Afrikaanse gemeente aldaar begin het. 6. 'n Leerder van Klerksdorp het ons gekontak en gesê dat sy van Gr.10-12 op die VCSV-Bestuur gedien het en dat sy talle van die artikels en getuienisse in die "Goeie Nuus" gebruik het om God se LIG en ALMAG te verkondig. Talle ander kinders asook selfs onderwysers uit die onderskeie dorpe waar die Koerant versprei word, het laat weet dat hulle van die leesstof gebruik maak wanneer hulle openingsgeleent-hede moet waarneem. 7. 'n Dame, Azarel*, wie se gedigte al 'n paar keer in die "Goeie Nuus" verskyn het, het laat weet dat baie mense haar ná die lees daarvan geskakel het en dat sy hulle kon help met hul probleme. Ons het ook oproepe ontvang van mense wat wou selfmoord pleeg en wat deur artikels en getuienise verhoed is om tot die daad oor te gaan. So was daar ook 'n hooggeplaaste in 'n Staats-departement wat van plan was om sy gesin uit te wis en dan ook homself. Sy oog het op 'n telefoonnommer in die "Goeie Nuus" geval en hy het daardie persoon ('n voorbidder) geskakel. Die man kon mooi met hom praat en dit het baie dae van volharding gekos, maar die betrokke persoon het die Here aangeneem en 'n verskriklike tragedie is afgewend! 8. 'n Ander geval is dié van 'n ouerige man wat só diep deur 'n sekere artikel getref is dat hy na sy getroude kinders gegaan en hulle om vergifnis gaan vra het omdat hy nie toe hulle jonk was die nodige aandag aan hulle gegee het nie. Wonderlike versoening het plaasgevind en almal was vol vreugde. 9. Johan Zerwick wat die Tswana-artikels behartig wat in "Goeie Nuus" verskyn, getuig dat hy gewoonlik maandeliks nie minder nie as 20 briewe ontvang van mense wat graag Bybels wil hê en wat getuig van hoe die lees van hierdie Koerant hulle lewens verander het! Hy het sedertdien 30 van hierdie artikels in 'n Tswana-oordenkingsboek gepubliseer. 10. 'n Dame van Tosca het gedurende 2013 geskakel en vertel hoedat sy maandeliks die Tswana-artikels uitknip, lamineer en aan 'n groot boomstomp wat sy en haar man naby die poskantoor in sement "geplant" het, ophang. Die Tswana-mense van die omgewing kan nie wag vir elke nuwe maand se "Goeie Nuus" nie. Hulle staan tou om die artikels te lees! 11. 'n Christendame wie se man kort vantevore oorlede is, het so baie na hom verlang dat sy dit sterk oorweeg het om 'n medium te kontak sodat sy in aanraking kon kom met haar oorlede man. Sy lees toe in die "Goeie Nuus" 'n artikel deur Pastoor Bill Marks hoe gevaarlik hierdie gebruik is en dat dit in wese satanies is. Sy het hom geskakel en hy kon haar met raad bedien en versterk sodat sy heeltemal van haar voorneme afgesien het! 12. Prof. C Venter was gedurende 2009 by NASA buite Washington, DC in die VSA, werksaam. Hy het 'n aantal kopieë van "Goeie Nuus" saamgeneem en uitgedeel aan sy nuwe kennisse. Een dame het na hom toe gekom en vertel dat 'n bepaalde artikel haar baie diep getref het en dat die woorde net vir haar bedoel was. Hierdie vrou het etlike jare gelede verwerping en diep pyn in haar gemeente ervaar en het van die Here af weggedryf. Sy kon haar hart uitpraat. Hulle het saamgebid, sy het almal vergewe en hierna het sy weer by 'n gemeente inge-skakel en haar verhouding met die Here vernuwe. Ons kry voortdurend steeds meer oproepe en korrespondensie van persone wat gered, gehelp, vertroos, versterk en bemoedig word deur die lees van "Goeie Nuus". Die ruimte ontbreek egter om van almal te vertel en sal 'n paar koerante volmaak, maar ons weet dat die Here hierdie Koerant as instrument gebruik om talle mense se lewens aan te raak. Dit verbly ons dat ons instrumenteel kan wees om mense na God te rig en Hom voor te hou as Verlosser, Geneesheer, Vriend, Raadsman en Vredevors en ons is oorstelp oor God se deernis, genade en liefde wat Hy aan mense bewys! Die klein begin het dus gegroei van 1 dorp (10 000 koerante p.m.) in 1998 tot 20 dorpe (45 000 koerante p.m.) in 2015. Tot op datum is daar reeds 7.6 miljoen eksemplare GRATIS versprei! Verwys na die grafiek. MAAR DIE GROOTSTE EN KOSBAARSTE VAN ALLES IS DAT MENSE SE LEWENS GEDU-RENDE DIE AFGELOPE 19 JAAR ONHERROEPLIK VERANDER EN AANGERAAK IS! LIEWE LESER, help ons asb. om die GOEIE NUUS van JESUS se LIEFDE en REDDING aan nog méér mense uit te dra en word 'n deelgenoot aan die uitbouing van God se Koninkryk. U kan op die volgende maniere betrokke raak: 1. BID asb. elke dag in u stiltetyd vir die uitgewers, verspreiders, adverteerders en borge van "Goeie Nuus". 2. OORWEEG DIT BIDDEND om maandeliks 'n bedrag te bewillig sodat "Goeie Nuus" nog verder kan uitbrei. Gebruik die debietordervorm hieronder. Ons beoog om binnekort na o.a. Lichtenburg, Coligny, en Christiana uit te brei. Help ons asb. om hierdie dorpe ook te bereik. 3. ENIGE INDIVIDU, SEL, GROEPIE GELOWIGES OF GEMEENTE kan dit biddend oorweeg om 'n dorp aan te neem en die druk- en verspreidingskoste te borg. Skakel ons vir verdere besonderhede by 018 293 1996. 4. NOOI DIE UITGEWERS VAN "Goeie Nuus" uit na u sel, gemeente of een of ander byeenkoms sodat ons aan u getuienisse kan voorhou van wat God reeds die afgelope 19 jaar in mense se lewens gedoen het. Neem dan vir "Goeie Nuus" 'n offerande op wat sal help om hierdie werk in stand te hou en uit te brei! Ons bankbesonderhede is soos volg: Goeie Nuus, Nedbank, Potchefstroom, Tjekrekeningnr. 1713336251, takkode 171-338. Pos u tjek / posorder/ debietorder-vorm, uitgemaak aan Goeie Nuus aan: Posbus 1957, Potchef-stroom, 2520. Baie dankie! Die Here sal u ryklik seën!
|
![]() |