DIE KRUIS DWING ONS TOT 'N KEUSE! | |
![]() |
|
  |
In die middel van tyd en ewigheid staan daar 'n houtkruis op 'n heuwel geplant. Om hierdie houtkruis sentreer die geskiedenis van die ganse mensdom. Die houtkruis waaraan Jesus as Gekruisigde gehang het, het die hele verloop van die geskiedenis van die mensdom verander! Daardie stuk hout, bevlek met bloed, het die fokuspunt van die geskiedenis geword. Die wêreld sal deur God geoordeel word op grond van wat hulle gemaak het met die kruis en met die Een wat aan die kruis gehang het. Hierdie kruis is vir sommige 'n struikelblok, vir ander 'n skande en verleentheid, en vir nog ander 'n twispunt. Maar vir miljoene is hierdie kruis die begin van nuwe lewe, die begin van die ewigheid, die weg tot God, die sekerheid dat hulle sonde vergewe is omdat hulle in die Gekruisigde glo. Wat het mense nie alles met hierdie stuk hout al gedoen nie! Sommige het begin om die kruis self te aanbid in plaas van die Gekruisigde. Ander het oorloë in die naam van die kruis begin sonder 'n opdrag van die Gekruisigde. Sommige dra kruisies van goud of hout om hulle nek - omdat hulle die Gekruisigde aanbid en liefhet. Ander verbrand die kruis, breek dit, vervloek dit, onteer en verag dit - omdat hulle die Gekruisigde haat. Ons kan enigiets met hierdie houtkruis doen, behalwe om dit te ignoreer. Die kruis waaraan Jesus Christus gesterf het, kan nie geïgnoreer word nie. Die kruis dwing ons tot 'n keuse. Die Skrif maak dit duidelik dat die kruis sentraal tot die mensdom en die boodskap van God aan die mens staan: "God het besluit en vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak" (Handelinge 2:23). "Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God" (1 Korintiërs 1:18). "Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die Gekruisigde" (1 Korintiërs 2:2). "Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus" (Galasiërs 6:14). "Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem" (Kolossense 2:l4-15). - Uit: 'n Kruis vir 'n Kroon deur Bennie Mostert, Carpe Diem Boeke, 1999. |