BEGIN IN JOU EIE HUIS... | |
  |
'n Bekende geestelike leier wat reeds in meer as 100 lande die Woord bedien het, het ontdek dat sy vyftienjarige dogter gekies het om nie die Here te dien nie. Toe hierdie man van God besef dat sy nie van plan is om om te draai nie, het hy al sy uitnodigings en afsprake gekanselleer. Hy het hom in 'n kamer toegesluit en aan sy vrou opdrag gegee dat niemand hom mag sien nie. Hier het hy met God geworstel. Met heilige geweld en heilige gedetermineerdheid het hy die duiwel teëgestaan en by God gepleit. Na 'n ruk wou sy dogter hom sien, maar hy het geweier. Na drie dae het sy tot inkeer gekom en by haar ma gepleit om haar pa te roep. Haar keuse was gemaak: sy sou omdraai en het voor God onderneem om geen ander pad as God se pad te loop nie. Hierdie man het geen kompromie gemaak nie en God het hom die begeerte van sy hart gegee! 'n Vrou met drie dogters het gesien hoedat haar kinders al verder van God af wegraak en Hom later openlik bespot het. Sy het haar in haar kamer toegesluit en gebid, niemand gesien en niks geëet nie. Na drie dae het die eerste dogter na God teruggekeer. Die volgende dag het die tweede dogter gekom en aan die einde van die vyfde dag die laaste een. Die redding van een van haar dogters was vir hierdie vrou nie genoeg nie. Sy het van God al drie se redding gevra en dit van Hom gekry: sy het haar kragtig ingespan en die koninkryk in besit geneem (Vergelyk Matt. 11:12). Nog 'n vrou het jare vir haar man se redding gebid. Een aand het 'n besoekende evangelis 'n kragtige bekeringsboodskap gehad en 'n uitnodiging gemaak. Soos voorheen het die vrou haar man aangemoedig om sy saak met God reg te maak. Hy het maar net weer soos in die verlede gesê: "Ek sal dit later doen." Sy het genoeg gehad. Toe haar man wou huis toe ry het sy gesê hy kan gaan, sy sal by die kerk bly tot hy sy saak reggemaak het. Haar man het gedreig, gepleit, gesoebat, maar sy vrou het voet by stuk gehou. Laat daardie nag het die man uit pure radeloosheid ingegee, sy saak met God reggemaak en daarna 'n godvresende lewe gelei. Wat was die rede vir sy redding? Heilige gedetermineerdheid, geheiligde desperaatheid! Dit is waarvan Matteus 11: 12 praat. Laat ons God ook in gebed vasgryp! - TEEN DIE GETY, Bennie Mostert, CUM, 2001. |