DIE GERESTOUREERDE MOTOR



 
As jongman het ek by die WNNR gewerk en het daar met verskillende beroepsmense te doen gehad. Dit was vir my 'n baie verrykende ervaring.

Daar was 'n man, 'n instrumentmaker, wie se stokperdjie dit was om ou motors te restoureer. Dit het hy met die grootste presisie en liefde uitgevoer. Hy sou geen moeite ontsien om onderdele in die hande te kry nie. Daarvoor sou hy oral rondreis om dit te bekom.

Hy het gesê dat as hy 'n onderdeel nie kon bekom nie, hy as instrumentmaker dit self gemaak het. Enige ou motor wat 'n wrak was en eerder op die skrootwerf gehoort het, het hy met groot sorg begin regmaak. Dit kon baie maande of selfs jare duur. Maar die eindproduk was 'n outydse motor wat herstel is tot sy eertydse roemryke glorie. Jy kan maar sê dit was splinternuut!

Die gevolg was dat hy oral motorskoue kon bywoon met sy 'ou' motors en dit met trots kon tentoonstel. En daarby was dit sy trots en hy kon vervulling vind in sy wonderlike handewerk! Ek glo nie daar kan regtig 'n prys op so 'n motor geplaas word nie.

As ek hieroor nadink, kan ek nie anders as om te dink aan die Groot Restoureerder van alle tye nie. Dit is ons God en Vader wat aldeur besig is om stukkende mense te restoureer. Mense in nood, mense wat smarte ly en mense wat verbysterd gelaat is vanweë omstandighede buite hul beheer.

Dawid het reeds gesê: "Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!" (Ps. 51: 19). En ook: "Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees" (Ps. 34:19).

Elke noodbehoewende mens is 'n individu wat God baie kosbaar ag. Trouens, die objek van God se restourasiewerk is prysloos! Wanneer ander bloot 'n wrak sien wat langs die lewenspad lê en as't ware in sy bloed versmoor, sien God 'n glorieryke, gerestoureerde eindproduk van onskatbare waarde!

Daar staan immers geskryf: "En Ek het by jou verbygegaan en jou sien spartel in jou bloed; toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!" (Eseg. 16:6). Dít is hoe God voel oor stukkende mense.

Hy het hierdie mense só lief! Sy Woord verklaar: "Want so lief het God die wêreld (die mense op die aarde) gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê" (Joh 3:16). Jesus het vir stukkende mense gesterf, Sy bloed gegee op die kruis sodat Hy met waarheid kan sê: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want My juk is sag en My las is lig" (Matt. 11:28-30).

Is jy een van hierdie stukkende mense? Jesus kan jou heelmaak! Hy roep jou! Sal jy kom en voor Hom neerbuig? Hy sal jou met liefde tot jou volle glorie herstel! Jy sal nóg mooier en beter wees as 'n gerestoureerde motor!

© Dr. J J Venter


Indeks     Index