|
Get alone with God. Be quiet enough for Him to talk. Pray until you are prayed through and prayed out, until you have prayed about every problem. Then when God has settled your problems, let Him give you a new vision. Stay in His Presence until you can see things through His eyes, until you can see what He wants you to see. He will speak to you about hindrances and obstacles that you never dreamt existed. He will show you what is the matter if you wait long enough. Therefore, don't be impatient at the delay, but pray on and on and on. Delay is not denial (Oswald Smith).
"Die vurige gebed van 'n (een) regverdige het groot krag" (Jakobus 5:16).
Dit gebeur dikwels dat voorbidders wat alleen moet bid omdat hulle nie by 'n gebedsgroep kan inskakel nie, moedeloos raak en ophou met bid omdat hulle dink dat hulle gebede nie eintlik 'n verskil maak nie. Die teendeel is egter waar. Die verhale oor gebed in die Bybel is die verhale van individue wat God vasgegryp het en God het wonderwerke gedoen in antwoord op hulle gebede. Dink aan Abraham wat gebid het vir 'n nageslag, Hanna wat gebid het vir 'n seun, Moses wat 'n pad deur die Rooi See gebid het, Daniël wat in die leeukuil gebid het, Dawid wat gebid het toe Saul hom agtervolg het, Elia wat vir vuur uit die hemel gebid het, koning Hiskia wat vir nog vyftien lewensjare gebid het en Nehemia wat gebid het dat die koning hom sou toelaat om sy volk te gaan help. Die oë van die Here beweeg oor die hele aarde om enige persoon wie se hart onverdeeld op Hom gerig is, kragtig te steun.
Let op die volgende voorbeelde. Mag dit jou geloof opbou!
- William Carey het sewe jaar gewerk en gebid voordat hy die eerste bekeerling in Indië gedoop het.
- Adoniram Judson was sewe jaar in Burma voordat hy die eerste dissipel vir Christus gewen het. Judson het 7 vaste gebedstye per dag gehad en sy gebede het 'n volk vir God geskud! Bykans 20% van Burma (Myanmar) is vandag gekersten.
- Morrison het sewe jaar gearbei en gebid voordat die eerste Chinees tot bekering gekom het.
- Robert Moffatt moes sewe jaar bid en werk en wag voordat hy die eerste tekens van die beweging van die Heilige Gees in Betsjoeanaland (Botswana) kon sien.
- Henry Richards het sewe jaar in die Kongo (Zaïre) gewerk en gebid voordat die eerste persoon tot bekering gekom het.
- George Müller het vir vyf van sy vriende begin bid. Vir een het hy vyf jaar gebid voordat hy tot bekering gekom het, vir die volgende tien jaar, vir die derde een vyf-en-twintig jaar, vir die vierde een byna vyftig jaar. Die laaste een van die vyf het na twee-en-vyftig jaar, toe George Müller al dood was, tot bekering gekom!
- George Müller het gebid sonder om ooit een van sy behoeftes aan mense bekend te maak. Hy het 50 000 antwoorde op gebed aangeteken. Hy het gesê dat God al die gebede wat hy gebid het, geantwoord het. Hy het 4 000 weeskinders onderhou deur slegs aan God sy behoeftes bekend te maak.
- Elia het gebid en God het dit vir drie jaar en ses maande nie laat reën nie. Hy het weer gebid en God het reën gegee. Elia het gebid en God het sy
offer met 'n vuur vanuit die hemel aangesteek. Elia het gebid en die volk het tot God teruggekeer. Hy het teen honderde Baälprofete gestaan en oorwin.
- Savanarola het gebid en 'n stad is vir God gewen.
- George Whitefield het gebid en meer as 1 000 mense het op een dag tot bekering gekom.
- Hanna het gebid dat God vir haar 'n seun sou gee, en Hy het Samuel vir haar gegee.
- Koning Asa het God aangeroep toe daar 'n halfmiljoen Kusiete teen hom opgetrek het en die Here het die vyand verslaan.
- John Knox het gebid en daar word gesê dat die koningin van Skotland drie keer per dag in angssweet uitgeslaan het. Dit het gebeur tydens John Knox se gebedstye. As gevolg van sy gebed en lewe het bykans die hele destydse Skotland hulle tot God bekeer. Dit is een van die gevalle in die geskiedenis waar bykans 'n hele volk in 'n kort rukkie tot inkeer gekom het.
- Marianne Adlard was 'n bedlêende meisietjie. Sy het 'n las vir haar gemeente gehad en tot die Here gebid om iets in die gemeente te doen. Sy het in 'n koerant van D.L. Moody van Chicago gelees en gebid dat die Here hom na die gemeente moet stuur. Moody het gekom, gepreek en in die volgende dae is 400 nuwe lidmate in daardie kerk opgeneem. Die geheim? Iemand het gebid - Marianne Adlard.
- 'n Invalide dame. In die jaar 1909 ervaar die evangelis Jonathan Goforth 'n merkwaardige werking van die Heilige Gees in Mantsjoerye. Die geheim? Iemand was besig om te bid. Dieselfde jaar besoek Goforth Londen. Hy word na 'n invalide dame geneem wat op 'n besondere wyse gebruik is om vir ander in te tree. Terwyl hulle gesels, versoek sy vir Goforth om na haar notaboek te kyk. Daarin het sy van drie dae aantekeninge gemaak waartydens sy 'n spesiale gebedslas ondervind het om vir sy byeenkomste te bid.'n Gevoel van ontsag het oor mnr. Goforth gekom toe hy besef dat daardie datums presies die dae was waartydens hy bewus geword het van die kragtige werking van die Heilige Gees in Mantsjoerye!
- Hudson Taylor het gebid en die China Inland Mission het tot stand gekom. Deur hierdie Sendingorganisasie is miljoene mense in die binneland van China vir die eerste keer met die Evangelie bereik.
"Moenie moedeloos word nie. God antwoord die vurige gebed van 'n regverdige" (Jak. 5:16).
- Verander jou Wêreld deur Gebed, Bennie Mostert, Kratos Uitgewers, Suid-Afrika, 1994.
|