DIE "PRAYER CAVE"-GEMEENTE IN KIAMBU, KENIA
 
Ek het by twee geleenthede die voorreg gehad om Pastoor Thomas Muthee van die "Prayer Cave"-gemeente in Kiambu, Kenia, te ontmoet. Kiambu, ongeveer 16 km noord-wes van Nairobi, was in die 1980's 'n berugte dorp. Hierdie dorp met ongeveer 70 000 inwoners was bekend as 'n begraafplaas vir predikante. Meer nog, die dorp was só korrup dat regeringsamptenare en polisiemanne mekaar omgekoop het om nie daarheen verplaas te word nie. Musiek en geraas was oorverdowend, toordery het hoogty gevier en dronkenskap, misdaad en moord (tot agt moorde per maand) was buitengewoon hoog.

In1988 het die Here vir Thomas en sy vrou geroep om 'n kerk in Kiambu te gaan plant. Dit was 'n baie moeilike taak. Daar was min kerke in Kiambu en die wat daar was, was klein en swak. Talle leraars het reeds deur die jare in Kiambu gaan werk, maar met min of geen sukses. Talle is na 'n paar maande dood, of het siek of moedeloos geword en die dorp verlaat. Na vyftien jaar se arbeid het die twee grootste gemeentes maar onderskeidelik iets soos 40 en 60 lidmate gehad.

Thomas en sy vrou het vir bykans sewe maande gevas en gebid totdat die Here vir hulle gewys het dat die demoniese mag wat oor die dorp heers, 'n gees van toordery ("witchcraft") is. Na byna sewe maande het hy 'n saal in die dorp gehuur en 'n reeks evangelisasiedienste gehou.

Binne 'n paar weke was daar 200 bekeerlinge. Daar was egter geweldige weerstand. Deur volhardende gebed is hierdie gees van toordery se mag gebreek en een van die leidende figure, "Mama Jane", wat met haar toordery duisende mense se lewens vernietig het, het uit die dorp gevlug.

Met sy groeiende gemeente het Thomas Muthee 'n winkelpakkamer gehuur waarin hulle kon kerk hou. Die stoor was onder grondoppervlak en het die naam "The Prayer Cave" gekry.

Die hele bestaan en ontwikkeling van hierdie gemeente is aan gebed gekoppel. Thomas het 'n gebeds- en vasketting begin waar hy en ses ander lidmate om die beurt een dag per week in 'n ketting begin vas en bid het. Meer bidders het mettertyd bygekom.

Vandag, twaalf jaar later, is daar meer as 600 intersessors wat in spanne van 40 elke dag van die week vas en bid. Onlangs het sy gemeente 'n periode van 120 dae vas en gebed voltooi.

Elke weeksoggend tussen 06:00 en 08:00 is daar 'n twee-uur-lange gebedsessie wat "Morning glory" genoem word. Alle Bybelskoolstudente moet elke dag vir twee ure bid. Deur die week is daar verskeie gebedsaksies in die gemeente. Die Mannebediening, die Vrouebediening, die Jeugbediening, die koor en die orkes het elk hulle afsonderlike vas- en gebedskettings om vir hulle werksaamhede te bid. 'n Groep van 25 gesoute intersessors wat Thomas sy "hit squad" noem, is altyd gereed om vir enige krisis of dringende saak in die gemeente te bid.

Die gemeente is 'n tipiese selgemeente waar selgroepe twee keer per week vergader; een keer vir Bybelstudie en onderlinge sorg en opbou, en die tweede keer vir gebed. Elke Vrydagaand is daar 'n deurnag van gebed in die gemeente waar honderde bidders kom saambid. Bo en behalwe dit huur die gemeente twintig verskillende kamers in verskillende dele van Kiambu wat as 24-uur-gebedskamers ingerig is.

Wat is die vrug van hierdie volhardende toegewyde gehoorsaamheid aan God se opdrag vir hulle? Thomas se gemeente het gegroei tot oor die 6 000 lidmate en meer as 93 ander gemeentes is reeds die afgelope twaalf jaar geplant, dertien daarvan in die afgelope elf maande. Sommige van die satellietgemeentes is reeds amper so groot soos die moedergemeente. Talle Bybelskoolstudente word elke jaar opgelei en sendelinge word uitgestuur na onbereikte groepe in Kenia.

Misdaad het dramaties afgeneem en daar is dikwels maande wat verbygaan sonder enige moorde. Alkoholmisbruik het afgeneem en die dorp het in geheel 'n veilige plek geword om in te woon. Geld word weer in die dorp geïnvesteer. Regeringsamptenare verkies tans 'n verplasing na Kiambu! Meer nog, ander gemeentes in die dorp het ook begin groei en daar is toenemende samewerking tussen die verskillende gemeentes.

Hier is 'n man en 'n vrou wat teen die gety ingegaan het. Dit het baie gebed gekos! Die geestelike stryd was lank en hewig, maar God het die oorwinning gegee! Die gety kan draai, want vir God is alles moontlik.

[TEEN DIE GETY, Bennie Mostert, CUM, 2001].


Indeks     Index