GOD VERSKYN OP DIE TONEEL... | |
  |
In die Sendbrief van Paulus aan Filémon kom die genade van God met betrekking tot geestelike groei pragtig na vore. Ons het hier te doen met verskillende karakters - mense net soos elkeen van ons. Die fokus val hier op drie hoofkarakters: Paulus, die Apostel, Filémon, die gelowige aan wie Paulus hierdie Sendbrief rig, en Onésimus, die wegloopslaaf. Wie was elkeen van hulle? Wat was elkeen se verhouding met God? En hoe was God in elkeen se lewe betrokke om hulle na hoër hoogtes in hulle geestelike lewens te begelei? Hierdie Sendbrief, wat maar net uit een hoofstuk met 18 verse bestaan, begin met die woorde: "Paulus, 'n gevangene van Christus Jesus..." Paulus kon maklik geskryf het: "Paulus, 'n Apostel van Jesus Christus" (soos ook in ander Sendbriewe). Dan sou hy vanuit sy Godgegewe gesagsposisie met Filémon kon spreek en hom sodoende kon beveel om sy opdragte uit te voer. Maar Paulus het nie aanspraak gemaak op sy titel (of enige ander titels) nie; inteendeel, hy pleit ter wille van die Christelike deugde van liefde en medelye. "Daarom, al het ek baie vrymoedigheid in Christus om jou te beveel wat betaamlik is, pleit ek liewer ter wille van die liefde. Ek, Paulus, as 'n ou man en nou ook 'n gevangene van Jesus Christus" (Filémon 1:8-9). Paulus het dus aan Filémon geskryf toe hy in die gevangenis was en reeds 'n hoë ouderdom bereik het. Dit beteken dat hy met die jare van bediening sélf ook nog gegroei het in sy geestelike lewe. Hierdie geestelike ontwikkeling kan gesien word regdeur sy lewe in sy sendingreise, soos beskryf in Handelinge asook in sy Sendbriewe. Let maar op waar hy begin het: Hy spring weg as 'n "vuurvreter" (Hand. 9). Dit is egter hy, en ironies genoeg nie die Apostel van Liefde (Johannes), wat deur die Here gebruik word om 1 Kor. 13 oor die liefde te skryf nie! Terloops, Johannes sélf, en sy broer Jakobus, is vroeër deur Jesus "die seuns van die donder" genoem, maar láter word hı die Apostel van Liefde - nog 'n wonderlike getuienis van geestelike groei! Paulus moes sélf ook groei in sy verhouding met medegelowiges. In vers 24 skryf hy o.a. van Markus en Démas wat sy medewerkers is. Markus het hom op sy eerste sendingreis verlaat om na Jerusalem terug te gaan. Daarom wou hy nie vir Markus op sy tweede sendingreis saamneem nie! Sy besluit het 'n twispunt en skeiding met Barnabas teweeggebring. Later is hulle egter weer versoen. En van Démas sê hy in 2 Tim. 4:10 "Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het." En nou is hulle ook weer versoen! Hierdie gegewens bemoedig ons! Ons hoef nie eers volmaak te word om vir God te gaan werk nie. Terwyl ons vir Hom werk, help Hy ons om steeds geestelik te groei! Wie was Onésimus? Hy was 'n slaaf wat van sy heer (Filémon) weggevlug het. Uiteindelik het hy in Rome geland, sowat 1 600 km ver. Dit word nie vermeld waarom hy weggevlug het nie. Moontlik omdat hy, wat 'n ongelowige was, eintlik van God af weggevlug het. Maar onder Paulus se invloed kom hy tot bekering en word hy 'n bruikbare instrument in die Hand van die Here. Hy moes egter eers op sy lewenspad teruggaan en restitusie gaan doen. Dit was geen maklike taak nie! Paulus kon hom nie vergesel nie, want hy was op daardie tydstip self in die tronk vanweë sı geloof. Onésimus moes dus nou hierdie 1 600 km alleen aandurf! Wie was Filémon? Sy naam beteken "Hy wat liefhet" of "hy wat vriendelik is." Paulus noem hom: "die geliefde en ons mede-arbeider." Verder skryf Paulus oor hom dat hy hom verbly daarin dat hy hoor van sy "liefde en geloof wat jy met betrekking tot die Here Jesus en tot al die heiliges het ." Verder was hy 'n man wat deur sy liefde die harte van die gelowiges verkwik het. Sy huis was voorwaar 'n oase vir die moeë en afgematte gelowiges waar hulle geestelik verkwik en versterk en opgebou kon word. Hy het sy geloof in Christelike koinonia (gemeenskap, "fellowship") gedeel. Dit was wonderlik om by hom aan huis te kuier! Maar selfs by hom moes daar ook nog verdere geestelike groei kom: opregte vergifnis - 'n ware toets vir sy geloof en wandel met God! In Rome was die besit van slawe 'n algemene saak. Daar was na berekening sowat 60 miljoen slawe in die Romeinse Ryk. Filémon se slaaf het weggeloop nadat hy hom moontlik eers besteel het. Wat staan hom nou te doen? Onésimus was werklik sy slaaf wat hy gekoop het, en alhoewel sy naam "bruikbaar" beteken, het hy nou "nutteloos" (Grieks = achrestos) geword. Nou is daar 'n klop aan sy deur, en hier staan Onésimus voor hom en gee Paulus se brief vir hom in sy hand! Wat het deur sy gedagtes gegaan? Hoe moes hy nou optree? Maar eers lees hy hierdie kort persoonlike briefie. Kyk wat sê Paulus! Paulus dring daarop aan dat hy hierdie nuttelose slaaf terug moet ontvang as 'n nuttige slaaf! Paulus vra dat hy hom nie net as 'n slaaf ontvang nie, maar as 'n broeder in Christus. Want sien, hy het Jesus intussen as sy persoonlike Verlosser en Saligmaker aangeneem. Hy is nou 'n kind van God! Dan sê Paulus ook nog dat Filémon Onésimus moet vergewe, omdat God hóm vergewe het. En, sê Paulus, onthou dat ek ook eens jóú na Jesus toe gelei het. Paulus sê verder dat wat Onésimus ook al aan Filémon skuld, Filémon dit op Paulus se rekening moet sit. Kyk, sê Paulus, "Ek skryf dit met my eie hand!" (Hy skryf 'n "IOU" uit!) Miskien het Filémon vir 'n wyle sprakeloos gestaan. Dalk het hy tyd nodig gehad om éérs daaroor te gaan bid om sy hart voor God te gaan blootlê. Maar hy het die toets geslaag, want God het op die toneel verskyn en hom gehelp om die toets te slaag! Is jy bereid dat God tydens moeilike besluite ook vir jou op die toneel sal verskyn en jou van raad sal bedien? Gee oor aan Jesus en vra Hom om jou by te staan in jou geestelike groei-proses! © Dr. J J Venter |