NET GENOEG LIG
VIR MY VOLGENDE TREE!
 
Mense blameer God dikwels vir die tragedies in hulle lewe en sluit hulself dan juis af van die Een wat hulle pyn kan wegneem.

Ons sou egter nie hierdie fout maak as ons twee dinge onthou nie: God is goed, maar Satan kom om dood te maak en te vernietig. Dit is baie belangrik om nie hierdie twee feite in 'n tyd van verlies te verwar nie.

Dit maak nie saak watter soort verlies jy ly nie, jy moenie probeer om jou arms om die verlies te slaan nie. Laat toe dat God Sy arms om jou slaan. Hy ken jou lyding en sal jou die vertroosting van Sy Teenwoordigheid en die genesende salf van Sy Liefde gee!

As jy elke dag tree vir tree met God deur jou verlies stap, sal hierdie pyn wat eindeloos lyk, in werklikheid mettertyd bedaar en sal jy weer vreugde ervaar.

Geen medalje is op die spel as 'n verlies vinnig verwerk word nie. Dus hoef jy nie die proses van genesing te probeer versnel nie. Gee jou aan elke stadium oor. Golwe van smart kom en gaan en keer terug wanneer jy dit die minste verwag. Selfs wanneer jy begin vergeet, sal iets jou skielik herinner aan dit wat jy verloor het en jy sal opnuut die pyn voel. Moenie daardie tye vrees nie. Gryp die Here in daardie tye aan! Elke oomblik van die reis op hierdie pad sal 'n ander deel van genesing bring. Elke traan sal 'n lagie van die wond reinig. Elke herinnering sal 'n salf vir die siel word.

Tydens 'n tragedie is dit normaal om te voel asof die lewe heeltemal tot stilstand gekom het. Eintlik is dit die lewe soos jy dit geken het, wat tot stilstand gekom het. Jou nuwe lewe gaan voort sonder dit wat verloor is. Jy kan dit nog net nie insien nie. Selfs al is dit moeilik om jou die toekoms voor te stel as enigsins anders as wat dit op die oomblik is, is genesing en herstel besig om te gebeur. Jy sal nie altyd so voel nie, maar dit sal ook eindig. Die verlies kon dalk onverwags gewees het, maar die oorgang na jou nuwe lewe moet tree vir tree afgelê word.

Strek jou hand uit en neem jou Hemelse Vader se Hand in tye van nood en verlies. Hy wil jou vertroos en jou smart op Hóm neem. Hy wil saam met jou wandel en jou las dra.

Soek Sy ferm Arm elke oomblik en Hy sal jou nadertrek na Hom toe. Selfs al lyk dit of jou fontein van trane nooit sal opdroog nie, moet jy voortgaan om in die Lig van God se Teenwoordigheid te wandel en jy sal die ander kant van die rivier van smart bereik.

Dit maak nie saak as jy nie voor jou kan sien nie. God sal nie net genoeg lig vir jou volgende tree verskaf nie, Hy sal jou ook in staat stel om dit te gee!

[Net genoeg lig vir my VOLGENDE TREE, Stormie Omartian, Struik Christelike Boeke, 1999].


Indeks     Index