WATTER SOORT POTPLANT IS JY? | |
![]() |
|
  |
Potplante bring vir vele mense baie vreugde. Dink maar aan jou ouma of ma wat getrou haar potplante natgemaak en mooi versorg het. Dink maar net hoe opgewonde sy en ander geraak het wanneer 'n nuwe blaartjie of blommetjie te voorskyn gekom het. Ek en jy is baie soos 'n potplant. Ons albei benodig verskeie hulpmiddele om goed te groei en mooi te wees. 'n Potplant ontstaan deur 'n saadjie wat ontkiem. Hierdie proses kan binne of buite die grond plaasvind. Net soos 'n saadjie buite die grond kan ontkiem, is dit ook moontlik vir ons om vir 'n rukkie sonder Jesus te probeer om geestelik te groei. Miskien probeer ons minder vloek of beter lewe, maar dit is egter van korte duur - al ons pogings eindig in frustrasie en verslaentheid. So groei die klein plantjie ook net vir 'n rukkie, dan het hy grond nodig. Jesus is ons Grond. Hy is die Een wat ons regop hou en ondersteun. Sonder Hom het ons geen groei en standvastigheid in die lewe nie. Grond hou nie net die plantjie regop nie, maar bevat ook baie voedingstowwe wat groei bevorder. Net so gee Jesus vir ons alles wat ons nodig het om te groei - liefde, vrede en wysheid. Ons hoef Hom net te vra en Hy sal voorsien. As ons in Hom lewe, is hierdie "voedingstowwe" vryelik aan ons beskikbaar. 'n Potplant het ook sonlig nodig. Die Woord van God is ons Sonlig. "U Woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad" (Psalm 119:105). Plante groei ná die sonlig toe. Hulle soek warmte en krag wat net deur sonlig verskaf kan word. Ons as kinders van God moet ook daarna streef om in die Lig te leef. Ons moet daagliks die Bybel lees en nie net lees nie, maar ook lééf. Die Woord van God gee vir ons warmte en krag wanneer ons dit nodig het en wys vir ons die pad aan wanneer ons nie weet watter kant toe nie. Net soos sonlig baie belangrik vir 'n potplant is, is die Woord van God baie belangrik in ons lewens! Water is ook noodsaaklik vir 'n potplant om te groei. Die plant moet gereeld natgegooi word. Net so moet ons ook gedurig met die Heilige Gees vervul word. Net soos water die potplant verfris en sommer weer nuwe lewe gee wanneer dit begin verdroog, troos en verfris die Heilige Gees ons wanneer ons hartseer of bang voel. Onkruid verstrengel die potplant. Dit neem die voedingstowwe uit die grond en maak dit moeilik vir die plant om te groei. Satan kom en plant onkruid in ons harte. Ons sonde is ook onkruid. Dit verstrengel ons en bemoeilik ons geestelike groei. Om van hierdie onkruid ontslae te raak, het die potplant 'n tuinier nodig. God is ons Tuinier. Ons moet Hom vra om onkruid uit ons harte weg te neem. Hy sal dit doen. Hy is ons liefdevolle Vader. Hy sorg so mooi vir ons! Nou bly die vraag, watter soort potplant is ek en jy? Wanneer mense na ons kyk, wat sien hulle? 'n Potplant vol lieflike blommetjies of een wat droog en amper dood is? Vra vir God om jou Tuinier te wees en jy sal altyd 'n pragtige potplant wees ongeag die weersomstandighede! © Cathrine Venter, 079 842 2588 |