KRAG IN MY SWAKHEID | |
  |
Ek kyk onlangs na ‘n voertuig. ‘n 4x4. Ek gee my gedagtes vrye teuels. Hoe kragtig is hierdie voertuig werklik? Wat is sy vermoë? Watter ruwe terreine kan hy deurgaan? My oë gaan oor die rathefboom... Ek sien die kleiner rathefboom langs die groot een, en dit vertel vir my iets van die krag van die voertuig self. Ja, die kragtige masjien is daar, maar as die kleiner rathefboompie nie gebruik word om al vier wiele “in rat” te sit nie, kan dit nie naastenby die ruwe terreine oorkom waarvoor dit bedoel is nie. So gaan dit ook met elke gelowige. Daar is ruwe terreine wat ons moet bemeester. Het Jesus nie Self gesê nie: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Joh. 16:33). Verder lees ons in Hand. 14:22: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.” Voorwaar ruwe terrein! Sal ons dit ooit kan maak? Ja, want ons is “gebou” om hierdie terreine te betree - hoe moeilik ook al. Soos met die 4x4, moet ons net sorg dat ons “in rat” kom met die krag van die Heilige Gees. Dit is tog immers wat vir ons duidelik geskryf staan in Sag. 4:6 - “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.” Wanneer die 4x4 “in rat” moet kom voor die bergagtige of moeilik begaanbare terrein, moet dit eers tot stilstand gebring word. Dit is vir ons ook soms nodig om eers tot stilstand gebring te word, wanneer ons probeer voortstoom en voortploeter in eie krag, sodat ons sal besef dat daar ‘n groter Krag tot ons beskikking is. Dit is ‘n Krag waarvan ek gebruik kan maak wanneer ek my afhanklikheid van God bely. Dan beleef ek die krag van God soos Paulus ook ondervind het: “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” (2 Kor. 12:9). Kom, laat ons in die krisistye van ons lewens, ons swakheid en onvermoë op Hom werp. Sy krag is beskikbaar om elke onoorkomelike probleem te bowe te kom! |