ONS STEL BEKEND...
Die Nederduitsch Hervormde Gemeente Potchefstroom-Suid
 
Ds. GJ Smit
Hierdie Gemeente is een van 7 gemeentes van die Hervormde Kerk in die Ring van Potchefstroom. Dit is ook die vierde oudste in die Ring.
Die Gemeente het sy ontstaantyd beleef in die era van leiwater en melkkoeie in die agterplaas soos baie mense dit onthou wat in die suidelike deel van die dorp grootgeword het.
Die Gemeente is op 24 Desember 1955 gestig. In daardie tyd is daar eers vir 'n geruime tyd in die Dirk van der Hoffsaal dienste gehou totdat die kerkgebou in November 1961 voltooi en in gebruik geneem is. Hierdie saal moes ongelukkig onlangs afgebreek word weens onherstelbare skade wat 'n lekkende waterpyp aangerig het.
Die Smit-gesin
  Vier van die vyf predikante wat die Gemeente bedien het, leef vandag nog. Na die stigting was ds. JH Naude die eerste predikant. Hy is opgevolg deur ds. WG Habig (oorlede), prof. PJT Koekemoer en di. JD Maloney en GJ Smit. Twee weermagkapelane (di. GJ Smit en F Nortje) het ook in die gemeente gedien.
Oor baie jare heen het vele lidmate 'n verbintenis met die gemeente opgebou en so kom hulle en hulle kinders van oral weer terug om hier te trou, te doop of begrawe te word. Die Gemeente bestaan tans uit 483 belydende lidmate en 167 kinders.
Gemeentelike aktiwiteite: weeklikse eredienste en kinderkerk op Sondae asook Bybelstudies op Woensdae.

WAT ONS AS GEMEENTE WIL BEREIK
Ons is deel van die Hervormde Kerk en ons grondslag is gebaseer op die Protestantse tradisie en gebruike. Die verkondiging van die Woord van God vorm die kern van gemeentelike byeenkomste. Daarom wil ons binne hierdie riglyne 'n geestelike heenkome skep waar lidmate opgelei en gemotiveer kan word om hulle plek as gelowiges in die wêreld te kan volstaan en om gereed te wees vir hulle Verlosser se Wederkoms.
Hierdie oortuiging deel ons graag met ander mede-gelowiges. Hiervan getuig die talle predikante van ander kerke wat reeds in die Gemeente gepreek het.
'n Boodskap aan ander gelowiges wat hierdie artikel lees: Die wêreld het Hom in Wie ons glo, dringend nodig. Kom ons verkondig Hom onbeskaamd aan hulle!

Indeks     Index