'N DANKIE-BOODSKAP
UIT DIE HEMEL

  Vir my, Emmanuel, het die laaste oomblik op aarde aangebreek. Op 14 April 2002 het die Here Sy engele opdrag gegee om my te kom haal. Ek ervaar die intense vreugde en blydskap wat my oorweldig met die wete: nooit weer sal ek trane stort oor jare se lyding, pyn en smarte van 'n gebroke, nietige liggaam nie. Spierwit geklee, is ek saam met ‘n engel deur die Pêrelpoort. Die asemrowende wonder wat voor my ontvou, kan julle op aarde maar net van droom. Dit is so onsettend mooi! Op strate van goud het ons geloop. Saffier, jaspis, smarag en baie ander edelgesteentes het 'n hemelse lig weerkaarts. Die skoonheid van die Hemel is onbeskryflik. Manie Truter
  'n Engel het gesê: "Aanskou die heerlikheid van God." My asem was weggeslaan! Sover as wat die oog kon sien, was daar kleurryke blomme, die groenste gras en die pragtigste bome. Alles is só volmaak! Dit móét so wees, want ons Verlosser is volmaak, alomteenwoordig, almagtig en ewig! Die Hemel was gevul met Goddelike musiek. Ek het ‘n vrolike, jubelende, dansende skare gesien. Saam met hulle het ek ook van vreugde gelag, gesing, gejubel, gespring en gedans. So het ons God se Troon genader. Die helderste lig, kleure wat skitter, het God se heerlikheid weerspieël. Ek was so bewus van God se Grootheid, Heiligheid en Majesteit! Ek het die einddoel bereik! Prys die Vader! My dierbare ouers, broer, suster, skoonsuster, swaer, familie en vriende - julle kan nou verstaan waarom ek na die Hemel moes gaan. Ek wil vir julle dankie sê met blydskap. Met vreugde! Dankie vir almal se liefde: dit was kosbaar. Dankie vir al die ruikers wat ek ontvang het, vir elke besoekie. Dankie vir julle teenwoordigheid by my graf om vir my “tot siens”, maar nie “vaarwel” nie te sê. Ons sien mekaar weer hier by die Troon van God die Vader.
Baie dankie aan my Hemelse Vader wat my kom haal het.
Ek groet vanuit die Hemel.
Emmanuel (Manie) Hendrik Truter

Indeks     Index