ONS STEL BEKEND... | |
  |
Ds. Gerhard Strydom Evangelies-Hervormde Gemeente Potchefstroom Daar is geen Krag soos Liefdeskrag! Om in vandag se lewe volgelinge van die ware Drie-enige God te wees, is geen maklike pad nie. Elke dag weerklink die Stem van Jesus in die ore van Sy dissipels: "In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin" (Joh. 16:33 NV). Vanuit hierdie oorwinning moet die Kerk sy getuienistaak uitleef. 'n Skeptiese wêreld moet oortuig word van 'n Lewende Here! Hierdie oortuiging vind plaas slegs as die Kerk JESUS-LIEFDE doen en praat, want slegs dán word Jesus se woorde in Joh. 13:35 waar: "As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is." Wêreldlinge moet nie wonder of hoop oor jou dissipelskap nie. Hulle moet weet dat jy aan Hom behoort omdat 'n liefde, vreemd aan hierdie wêreld, jou hele bestaan kenmerk. Die begeerte by 'n groep gelowiges om tussen die liefdeswoorde en liefdes-dade van kerkmense 'n eenheid te vind, het gelei tot die stigting van ons gemeente op 4 Augustus 1996. Sedertdien het elke dag vir hierdie gemeente 'n avontuursoeke geword na die ware wese van godsdiens. Deur die Heilige Gees vrygemaak om nuwe lewe in Christus te beleef, het elkeen opnuut weer sy/haar identiteit voor God ontdek. Vry om lief te hê soos Jesus liefgehad het, vry om te dien, vry om te getuig, vry om te lewe! 'n Vryheid waarbinne lidmate geestelik groei sodat hulle in hierdie wêreld hulself kan verantwoord oor die geloof in God wat hulle bely. 'n Proses van denkvernuwing vind steeds plaas in nederigheid voor ons Leermeester Jesus Christus (Rom. 12:2). Slegs die wet van God se Koninkryk word die kern van alle beplanning. Die gemeente het 'n besondere band met mekaar. Hulle leef as een groot gesin liefde teenoor mekaar en hul naaste uit. Die opregte omgee vir mekaar is 'n belewenis, want delend in mekaar se vreugde, smart en swaarkry, word 'n eenheid gevorm waarin die Heilige Gees ons saambind tot eer van God. Verskeie selgroepe funksioneer sterk in die gemeente en wat 'n voorreg en vreugde is dit nie! Hier vorm ons mekaar om waarlik profete, priesters en konings in Sy diens te wees. "Hy wat sing, bid dubbel," het iemand gesê en as gemeente het ons hierdie waarheid ontdek. Geseënd met lidmate met besondere musiek- en sangtalent is die musiekbediening 'n fees en groei dit steeds sodat God ook daardeur verheerlik word. Die gemeente word reeds die afgelope twee en 'n half jaar bedien deur ds. Gerhard Strydom en streef daarna om nie "galmende simbale" te wees nie, maar ware instrumente in die Hand van God wat Sy LIEFDE kragtig uitleef in woord en daad. Want uit geloof, hoop en liefde is die grootste nog steeds die LIEFDE! |