DIE WOORD VAN GOD BLY EWIG STAAN! | |
  |
Dr. Lemmer du Plessis
Die Hawe, AGS Verwoerdburg JESUS KOPPEL ‘N grondliggende waarde aan die eenheidsgesag van die Bybel wanneer Hy vir die Jode sê dat die Skrifte nie gebreek kan word nie (Joh. 10:35). Paulus maak die aanspraak dat die hele Skrif deur God ingegee en nuttig is tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus (2 Tim. 3:16,17). Die Bybel is ‘n geseënde Boek. Dit is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard (Heb. 4:12). Dit bevat ‘n reinigende waarheidsgesag wat diepliggende veranderinge meebring by diegene wat dit liefdevol en gelowig lees. Hoeveel kritiek ook al daarteen uitgespreek word, die Woord sal tot op die laaste dag bly staan, want dit vorm deel van die basis waarop God sal regspreek (Joh. 12:48). Ateïsme verwerp dit * die Woord van God bly ewig staan... kritici versnipper dit * die Woord van God bly ewig staan... ongeloof bevraagteken dit * die Woord van God bly ewig staan... modernisme verag dit * die Woord van God bly ewig staan... die een eeu na die ander rol verby * die Woord van God bly ewig staan... konings word gekroon en sterf * die Woord van God bly ewig staan... wêreldryke kom en val * die Woord van God bly ewig staan... dinastie volg op dinastie * die Woord van God bly vir ewig staan... Daar word gesê dat meer as 40 verskillende Bybelskrywers oor ‘n periode van 1 600 jaar aan die Skrif meegewerk het. Onder genoemde omstandighede beskou ons die harmonieuse heilsboodskap van die Bybel en die eenstemmigheid van die profesieë as ‘n enorme, ja, ‘n bonatuurlike prestasie! Die Bybel is nie as sodanig ‘n geskiedenisboek, ‘n boek oor die aardrykskunde van die Midde-Ooste of ‘n boek met antropologiese feite nie. Dit is ‘n Boek wat die doelstellings van God met die sending van Jesus bevat. Die Bybel dra die heilsboodskap van God wat histories in die koms van Jesus gekulmineer het. Daarom is die toetrede van God tot ons wêreld en tot ons geskiedenis om sy doelstellings te realiseer, ‘n heilshistoriese toetrede. Jesus Christus vorm die finale Woord-openbaring. In die laaste dae het God tot ons gespreek deur die Seun (Heb. 1:1). Hy is die Woord wat vlees geword het (Joh. 1:14). Hy is die kanon of maatstaf van die Goddelike openbaring. Hy is die kulminasie van God se woorde. Hy is die klimaks van die eeue. Daar is geen hoër of heerliker openbaring as Jesus Christus nie! [Bestel dr. Du Plessis se boek ‘Die Belofte van Sy Wederkoms’ (012) 667 2326] |