DIE KRAGTIGE WERKING VAN GOD SE GEES | |
  |
![]() (Die Ontstaan en Doel van Maranata Boekklub) Past. C.B. (Oom Chris) Venter 28/11/1929 - 22/11/2002 "Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig" 2 Tim. 4:7 Dawid het in Ps. 139:16-17gesê: “U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe, dae dat alles bepaal was toe nog geeneen van hulle daar was nie. Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!" Om by die ontstaan van Maranata Boekklub uit te kom, kan ek nie anders as om by die mens vir wie God afgesonder en geroep het vir hierdie taak, te begin nie. Op 28 November 1929 is Christoffel Bernardus (Chris) Venter op 'n plaas in die Oos-Tvl. (hedendaagse Mpumalanga) gebore. Op sewejarige ouderdom word hy ernstig siek aan maagkoors - die gevolg van treinwater wat hy gedrink het op pad skool toe. Ver van dokters en in baie armoedige omstandighede moes sy ouers maar op boererate staatmaak. Toe hy op sterwe gelê het en daar vir hom geen hoop meer was nie, het sy moeder, in haar toe nog onbekeerde dae, in desperaat-heid tot die Ware Geneesheer geroep om hom gesond te maak en ook 'n belofte aan die Here gemaak dat sy hierdie seuntjie aan Hom en Sy werk sou afstaan as Hy haar gebed verhoor. God het haar afhanklikheid van Hom geëer, hom opgerig en volkome gesond gemaak. Na twee jaar het sy ouers toe ook kragdadig tot bekering gekom. As negentienjarige, vasgevang in sonde en rebelsheid, begin die Heilige Gees met hom praat. "As jy vannag moet sterwe, waar gaan jy die ewigheid deur-bring?" Sy dierbare moeder het weer eens in desperaatheid ernstig tot God begin roep en 'n klompie vroue bymekaar gemaak om te bid vir die redding van haar seun se siel. 'n Onuithoudbare oortuiging van sy verlore toestand het hom een dag in desperaatheid uitgedryf om 'n diens by 'n interkerklike kamp te Goedehoop in die Oos-Transvaal hulp te soek en hy het die prediker genader om saam met hom te bid en aan hom die weg tot saligheid te verduidelik. Oukersdag 1948 bevind hy hom in die Bloekombos buite die kampterrein waar Banie Smit se tentjie opgeslaan was, oorweldig deur die innerlike wete dat hy, sonder God, verlore is! Banie het aan hom die weg tot saligheid duidelik gemaak en toe vir hom gesê dat hy, Banie, hom nie kan red nie. Hy moes by God uitkom en gewillig wees om sy sonde te bely en dit te laat staan. Banie het hom toe alleen gelos daar in die tentjie waar hy in opregte berou en trane sy sonde voor God bely het en om vergifnis gesmeek het. Na 'n tyd het Banie teruggekeer en weer saam met hom gebid. Daarna het hulle saam terug-gestap na die kampterrein en dit was toe hy deur die doringdraad klim dat die heerlike sekerheid van die Heilige Gees hom oorweldig het en hy geweet het dat soos hy deur die doringdraad geklim het, hy so uit die ou lewe in 'n nuwe lewe oorgegaan het. Die versekering dat sy sonde vergewe is en dat God hom sy eie kind gemaak het, ja, hom wederbaar het, het diep in sy hart anker kom gooi. Die las van sy verlorenheid was weg. 'n Nuwe lewe vol van die Here se blydskap en sekerheid van verlossing het sy deel geword! Nie lank daarna nie het hy baie diep bewus geword van 'n innerlike roeping van God om voltyds vir die Here te gaan werk. In gehoorsaamheid op die Here se roepstem bevind hy hom in die Bybelkollege waar hy hom vir die bediening bekwaam het. Na vele jare van gemeentewerk, woon hy in Pretoria die Suid-Afrikaanse Christelike Boekhandelaars-kongres by waar hy diep onder die indruk gekom het van die mag van die geskrewe woord en die invloed wat dit kan hê op mense se lewens. Hy sien die behoefte raak dat Andrew Murray se boeke in Afrikaans herdruk moes word. Nadat hy verskillende uitgewers genader het om hierdie boeke te druk en geen Christelike Uit-gewer op daardie stadium dit wou doen nie, het die Here een oggend, nadat hy baie ernstig in sy studeerkamer oor hierdie saak gebid het, vir hom gesê: "Wat is verkeerd met jou?" Na argu-mente soos: "Here, ek is nie bekwaam nie. Ek weet niks van uitgewery nie. Ek het nie die fondse nie. Wat van my gemeente?" het hy uiteindelik oorgegee en gesê: "Here, ék kan nie, maar my bekwaamheid is uit God" en hierdie roeping aanvaar as sy lewenstaak. Dit was ook toe dat die Here vir hom gesê het: "Ek het vir jou 'n geopende deur gegee met baie teëstand." Dit was nie baie lank hierna nie dat hy in die geloof uitgestap en die Here vertrou het om die nodige fondse te voorsien om hierdie nuwe roeping uit te voer. Na ongeveer drie jaar het hy sy emiritaat op vroeë leeftyd aanvaar, sodat hy hom voltyds kon toespits op die uitgewery wat as die Verenigde Gereformeerde Uitgewers tot stand gekom het. Sodoende is die eerste boek van Andrew Murry, naamlik "Die Krag van die Bloed" gedruk. 'n Tyd daarna het 'n leraar na hom gekom met 'n manuskrip wat hy wou laat druk. Tydens die gesprek het die leraar vir hom gesê dat dit tyd geword het dat hy met 'n Christelike Boekklub moes begin. Weer eens het hy, as gevolg van 'n gebrek aan kennis, die saak afgemaak. Uit die bloute het die Bestuurder van die Drukpers waar hy boeke laat druk het een dag vir hom gesê dat hy ernstig daaroor moet dink om 'n Afrikaanse Christelike Boekklub te begin, daar dit 'n groot leemte in Suid-Afrika is. Weer eens het hy nie daarvoor kans gesien nie. By geleentheid het 'n verteenwoordiger van een van die groot erkende uitgewers, wat op daardie stadium 'n paar groot sekulêre boekklubs gehad het, aan hom genoem dat daar baie navrae van Christene oor die hele Suid-Afrika is na 'n Christelike Boekklub en dat hy sodanige boekklub moet begin. Net toe hy dit vir die derde keer wou weier, het hy bewus geword daarvan dat dit God is wat met hom praat en dat dit die laaste geleentheid was om Sy roepstem te gehoor-saam. Hy het die Here gevra om wysheid, en ongeag sy gebrek aan kennis en fondse begin ondersoek instel hoe om so 'n Boekklub te bedryf. Sodoende ontstaan die Christelike Boekklub in 1974 wat later verander het na Maranata Boekklub en word die eerste boek aan ongeveer honderd en sewentig lede uitgestuur met groot vrees en bewing, maar met die versekering dat Hy wat geroep het, getrou is om te voorsien in Sy dienskneg se behoeftes. God self het ook voorsien vir die beste vertalers. Aanvanklik is daar begin met 'n hele paar Christelike romans totdat die Here duidelik vir hom gelei het om weg te breek daarvan, aangesien dit, alhoewel Christelik, met fiksie gemeng was. Die Here wou hê hy moes geestelike boeke druk wat diep tot mense se harte sou spreek en die Liggaam van Christus sou opbou en versterk sonder dogma of kerklike leerstellings. Die Here het dit ook vir hom moontlik gemaak om na die groot Christelike Boekhandelaars-kongres in Amerika te gaan waar hy persoonlik met die beste skrywers ontmoet en vertaalregte verkry het om hulle boeke in Afrikaans te laat vertaal. Sodoende word 'n deur geopen na meer en meer onderhandelings. God het hierdie roeping geseën en dit van krag tot krag laat gaan. Hyself het dit in Sy dienaar se hart gelê om nie homself te verryk nie, nie in eie krag besluite te neem nie, maar swaar op die Heilige Gees te steun vir insig en wysheid sodat daar elke maand teen boomskraapprys 'n boek na die man in die straat kon uitgaan wat daarop gemik is om Jesus te verhoog, mense by Jesus uit te bring, sy verhouding met God en sy medemens aan te spreek, te bemoedig, te versterk, en sonder om doekies om te draai, die waarheid van sy eie geestelike toestand bloot te lê deur die Woord van God oop te breek, sodat dit hom kan aanspreek. Ja, inderwaarheid die kinders van God vir Sy wederkoms voor te berei! Deur die krag van die Bloed van Jesus, wat 'n jongman se siel gered het, hom geroep het in Sy diens, en hom gewillig gemaak het om sy hele lewe onvoorwaardelik te wy aan die druk en verspreiding van geestelike lektuur, is Maranata Boekklub nou al vir byna 30 jaar besig om vir sy lesers en die Boek-handelaars deur die land, ons buurstate, asook oorsee, van geestelike leesstof te voorsien. Saamgestel deur Cecile Venter - eggenote van oorlede Past. Chris Venter. Maranata Boekklub is 'n geloof-sending met GEEN winsbejag nie. Saam met V.G. Uitgewers en Christian Literature Distributors, die twee Groothandelafdelings, geleë te Plantasieweg 36, Springs, gaan die besigheid voort soos in die verlede en word bedryf deur Cecile Venter en personeel. Alle navrae aangaande die Boekklub en die Uitgewerye kan gerig word aan: Posbus 40, Springs 1560 Tel: (011) 362 4060 of 362 6468 of Faks: (011) 815 3524 e-pos: cld.vgu@mweb.co.za Geborg: Maranata Boekklub |