GOD SE EKSAMEN | |
  |
Vernedering en skande is van daardie moeilike eksamens wat van tyd tot tyd deur Christene afgelê moet word. Hoe dikwels vind God dit nie nodig om ons deur uiterste vernedering te laat gaan nie - vir ons eie onthalwe. Vernedering en skande reken af met trots, hoogmoed, ‘n hoë dunk van die self en eie vermoë. Dit help ons om te verstaan dat daar in onsself niks goeds woon nie. Hendri Suso was ‘n bekende en beroemde prediker uit ‘n vorige tydvak. By geleentheid het hy gebid en God gevra om Hom beter te ken. God het hom geantwoord. ‘n Ruk later het ‘n vrou aan sy deur kom klop, ‘n paar weke oue babatjie in sy arms gesit en gesê: “Hendri Suso, dit is die vrug van jou sonde.” Daarna het sy omgedraai en weggeloop. Wat ‘n skande en vernedering! Hendri Suso was nie skuldig nie, maar hy het stilgebly en die kind grootgemaak. Sy kerk het leeggeloop. Mense het saggies gepraat as hy straataf loop. Sy bediening was geruïneer. Op ‘n dag het Suso by sy venster uitgekyk terwyl trane van vernedering en pyn oor sy wange loop en uitgeroep: “Waarom, Here?” Op die gras het ‘n hond met ‘n stuk lap gespeel. Die hond het vir die lap geblaf, dit in sy bek rondgeruk, oor sy skouer gegooi, dit verskeur en geknor - soos net ‘n hond met ‘n lap kan speel. Die Here het hom geantwoord: “Daardie lap is jou reputasie. Ek laat die honde van sonde jou reputasie aan flarde ruk ter wille van jou eie voordeel. Binnekort sal hierdie situasie verander.” Hendri Suso het dit aanvaar en sonder om homself te verdedig of om sy saak te probeer regstel, aangegaan. Sestien jaar later het dieselfde vrou gekom en voor die hele gemeenskap en gemeente verklaar dat sy in sonde gelewe het, dat Hendri Suso nie die vader van die kind is nie, maar dat sy iemand gesoek het wat haar kind kon grootmaak. Hendri Suso se eer is herstel, sy kerk het weer vol geword, sy roem as prediker het verder as ooit gestrek en sy bediening het groot geestelike vrug gedra, meer mense het sy boeke gelees en groot seën ontvang uit die liedere wat hy geskryf het. Laat ons nooit die Vader se maatreëls in ons lewe in twyfel trek nie. God weet wat Hy doen. Geen vernedering, vervolging, veragting, probleme of aanvegtinge is buite die soewereiniteit van God nie. Uit: ‘n Kruis vir ‘n Kroon - Bennie Mostert |