"HERE, AS U 'NIKS' KAN GEBRUIK..." | |
  |
By geleentheid het Catherine Kuhlman gebid: "Lord, if You can use nothing, here am I." En dit is presies wat die Here soek. Hy is voortdurend op soek na nikswees-mense deur wie Hy Sy werk op aarde kan doen, want Hy deel Sy eer met niemand nie. In der waarheid is geen mens bevoeg om eer te hanteer nie. Daarom moet ons voortdurend die fokus op Hóm laat val. Bepeins die woorde van Jesus in Matt. 5:3: "Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele." In Luk. 6:20 staan: "Salig is die armes." Die Griekse woord wat hier vir "armes" gebruik word, is ptochoi. Hierdie woord beskryf ‘n persoon wat algeheel brandarm en hulpbehoewend is. Hy het glad niks nie! Daarom word hierdie woord ook gebruik vir "bedelaar". In die Ou Testament word die Hebreeuse woord ani gebruik, wat in sy betekenis deur verskillende ontwikkelingstadiums gegaan het, maar wat uiteindelik beteken diegene wat arm en getrou is, wat géén hulp op aarde het nie, en wat homself in volle vertroue aan God verbind het. Daarom sê die Psalmis: "Hierdie ellendige (ani - arme) het geroep en die HERE het gehoor, en Hy red hom uit al sy benoudhede" (Ps. 35:10; 40:17; 72:2). Bedoel Jesus in Luk. 6:20 letterlik arm mense (met min besittings)? Indien wel, sou dit beteken het dat alle arm mense hemel toe gaan! Armoede is egter geen waarborg vir redding of geestelikheid nie. Jesus bedoel hiermee ook nie swaksinniges nie. Bring die Grieks en Hebreeus bymekaar en "arme" beteken dié persoon wat sy eie onbevoegdheid, onwaardigheid, nietigheid en afhanklikheid van God besef en daarom sy volle vertroue in God stel. Dit beskryf die persoon wat tot die volle besef kom dat hy nie sy eie lewe kan hanteer nie - hy het God se hulp en krag nodig. Elke dag, oomblik na oomblik. Daarom kan hy slegs deur God se genade elke dag leef! Hy is ten volle afhanklik van God. Spr. 3:5 sê: "Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie." Om "arm van gees" te wees, beteken dus om van alle hoogmoed en selfverheffing gestroop te wees! Die Nuwe Vertaling stel dit so mooi:"Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel" (Matt. 5:3).'n Mens wat tot hierdie besef gekom het, word soos klei in die hand van die Skepper. God skep ex nihilo (Latyn vir "uit niks"). Wanneer ons niks word voor Hom, kan Hy geweldig baie deur ons tot stand bring. Jesus kan slegs daardie hart vul wat leeg is van die self. Die persoon wat homself verloën het, die "ek" gekruisig het, is arm van gees - daar is niks in homself waarop hy kan roem of vertrou nie. Hy sal slegs maar op Gód vertrou. God soek mense wat soos Catherine Kuhlman kan bid: "Lord, if You can use nothing, here am I." As ek dit saam met haar wil bid, moet ek ook in my eie oë en lewe niks wees nie! Slegs dan sal Gód alleen die eer kry wanneer Hy groot dinge deur my vermag en dan sal ek tot groot seën vir ander mense kan wees! |