GENADE ONBESKRYFLIK GROOT! | |
  |
Graag deel ek my getuienis met lesers van “Goeie Nuus”. Ek het in 'n normale huisgesin grootgeword. My pa het hard gewerk en goed vir ons gesin gesorg. My ma was altyd in die huis, besig met dit wat sy die beste kan doen - vrouwees en mawees! Ons het elke Sondag kerk toe gegaan en ons kinders was aktief in die Sondagskool betrokke. Op 18-jarige ouderdom het ek begin werk. Ek het verlief geraak op 'n ma se grootste nagmerrie - 'n getroude man! Hy was baie ouer en wyser as ek en sy kennis en wysheid het geen perke geken nie. Na jare van leuens, bedrog en ontrou teenoor myself, is my kind gebore. Ek was 22, ongetroud, met 'n baba, en my ouers wat my bygestaan het. Hulle was baie goed vir my en my kind. Geen verwyte nie, net liefde. Ek het saam met 'n vrou gewerk wat die Here gedien het, maar ek wou niks van haar hoor nie. Een middag het sy my egter oortuig dat God my liefhet en dat ek kosbaar is vir Hom ten spyte van my foute, mislukkings en sondige lewe. Ek het met berou die Here aangeneem en my hart vir Hom gegee. In 'n klein, bedompige stoorkamertjie het ek geboorte gegee aan 'n geloof in my Skepper en Saligmaker wat my met die wonderlikste vreugde denkbaar oor-weldig het! Dieselfde week vra ek die Here om aan my te toon hoe groot en magtig Hy is. Hy moet my verlos van hierdie groot liefde en verslawing van my - my kind se pa - waaroor ek skaam is, wat my hartseer, teleurgesteld en 'n mislukking laat voel. En God verrig die eerste groot wonderwerk in my lewe! Die einde van daardie week, maak ek een aand die deur vir hom oop met die groot besef in my hart en ook duidelik op my gesig sigbaar: Ek haat jou nie, ek verwyt jou nie, ek is nie kwaad vir jou nie, maar ek het jou beslis nie meer nodig nie, en het jou ook nie meer lief nie! Gaan terug na jou gesin wat nag na nag op jou wag. God het my vrygemaak! Wat 'n wonderwerk! Hierna het ek nog baie keer die wonderwerkende krag en liefde van God beleef. Die grootste wonder van almal vir my is dat my buite-egtelike kind se geloof nog groter is as myne. Hy is net 11 jaar oud, maar sy kennis van God is baie diep. Ek prys en eer die Here dat Hy my begenadig het, vir alles wat Hy vir my gedoen het - en steeds doen. Mag u bemoedig word deur my getuienis, want wat God vir my gedoen het, kan Hy ook vir u doen! |