GOD SE SKAT IN ONS
  "God wat gesê het: "Laat daar lig skyn uit die duisternis," het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie" (2 Kor. 4:6-7).
Die lig van God se heerlikheid skyn in die hart van al Christus se volgelinge. Maar: "Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek," sê Paulus, sodat almal sou besef die waarde lê in die inhoud, nie in ons (die houers) nie! - Handboek by die Bybel, Pat & David Alexander, Lux Verbi.BM, 2004.
Wat beteken dit om ‘n kleipot te wees? Dit beteken dat jy allerlei gevare moet trotseer. Al word die kleipot verdruk, verleë, vervolg en neergegooi, al lyk dit of hy vernietig is, gryp God telkens in om die kleipot te bewaar. Simbolies wys die breekbaarheid van die kleipot na Christus se lyding en sterwe ter wille van ons. Daarom moet ons ook lyding aanvaar en verduur met dieselfde heerlikheid waarmee Hy volhard het. Net soos God die Here Jesus opgewek het en aan Hom die ereplek by Hom gegee het, só sal God ons ook deur lyding heen laat triomfeer oor ons probleme.
Al sou ons uiterlike ook swaarkry, moet ons as verkondigers van die evangelie nie moedeloos word nie. Ons innerlike word daagliks versterk. Ons swaarkry in hierdie lewe is tydelik en is gouer verby as wat ons dink, en die heerlikheid wat voorlê, oortref alles en sal vir altyd bly. Daarom is ons toewyding en gerigtheid op die onsigbare, ewige dinge.
- Die Bybel A-Z, Jan van der Watt, CUM.

Indeks     Index