SELFSUG
  SELFSUG en die duiwel is ‘n Siamese tweeling. Daarom is dit nie in jou mag om jou van selfsug los te maak nie. Maar Christus het selfsug die nekslag toegedien toe Hy sy alles gegee het… Nét in Christus is ons oorwinnaars oor selfsug. Gee eers jouself weg - aan Christus natuurlik. En dan begin gee jy van die res. Gee van jou geld. Vir die kerk. Vir bedieninge. Vir instansies wat minder-bevoorregte mense dien. Daar is nie net dowes en blindes nie. Daar word ook omgesien na bejaardes, kinders, serebraalgestremdes, alkoholiste, prostitute…
Word ‘n gee-mens. Dán is jy 'n Christus-mens. Wat nie net geld gee nie. Ook belangstelling, komplimente, hulp, vergifnis, meegevoel, erkenning, liefde.
GEE. En nie net sal ander ook vir jou gee nie. God sal steeds vir jou Sy goeie gawes gee…Want Hy het reeds Sy Seun gegee sodat jy die kosbaarste geskenk kan ontvang: die Ewige Lewe!
- Oorgeneem
“Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle Sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil Sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, 'n offer wat vir God aanneemlik was. Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle. Dit moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of 'n gierigaard is - want gierigheid is afgodery - het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie” (Efesiërs 5:1-5).
“MOENIE DIE DUIWEL VATKANS GEE NIE!” (Efesiërs. 4:27).

Indeks     Index