NUWE WYN KOM IN NUWE SAKKE... | |
  |
Skrifgedeeltes hier van belang is: Matt. 9:17; Mark. 2:22; Luk. 5:37-38. In die vroegste tyd is wyn in velsakke gehou, gemaak van diere se velle. Wanneer velsakke oud word, verloor dit hulle elastisiteit en kan dit bars wanneer wyn wat nog gis daarin gegooi word. Jesus gebruik hierdie beeld om aan te dui dat daar soms veranderinge kom onder die leiding van die Heilige Gees. Die Heilige Gees is altyd nuut en kan nie in 'n vorm gegiet word nie. Die Kerk kan ook nie die Heilige Gees in rigiede vorms of vormgodsdiens vaspen nie. Dit wat lewe, moet aanhou groei. Enige iets wat lewe en ophou groei, is besig om te sterf. So sal die Heilige Gees wat lewend is, aanhou om te beweeg en die rigting aan te dui vir Sy Kerk. Hy is die Een wat die pas aangee en ons moet bereid wees om te volg. Twee interessante Griekse woorde word in hierdie Skrifgedeeltes gebruik vir "nuut". In die geval van wyn is dit neos, en in die geval van wynsakke is dit kainos. Wyn is nuut (neos) wanneer dit nuut of pas gemaak is, d.w.s. dit het nog nooit voorheen bestaan nie. Die wynsak is nuut (kainos) omdat dit lankal bestaan, maar net weer nuutgemaak/gerestoureer/uitgevars is. Wynsakke moet gerestoureer word wanneer dit al oud en hard geword het en alle elastisiteit verloor het. Dit word skoongemaak en opnuut gebrei en met olie behandel sodat dit weer sag en soepel kan word. Dan, en dan alleen kan dit nuwe wyn, wat nog kan gis, bevat. Anders sal die wynsak oopbars en al die wyn sal verlore gaan. So is dit dan vir God nodig om ons soms met die olie van die Heilige Gees te behandel, sodat ons weer soepel kan word onder die leiding van die Heilige Gees om Sy wil te doen. Hy wil nie hê dat ons in rigiede vorme van Kerkleerstellings en Kerkrites verval waar ons Hom nie meer nodig het nie. Wanneer ons so verstar geraak het, moet Hy ons weer nuut (kainos) maak. Hy moet ons vernuwe. Hy moet ons as't ware restoureer, amper soos toe ons weergebore is (Vgl. Ook 1 Kor 5:17 waar ons "'n nuwe (kainos) skepsel" geword het deur wedergeboorte). In ons moderne lewe ken ons die chamois, 'n nuttige gebruiksartikel, wat ons in die huis gebruik en ook om ons motors mee te was. 'n Chamois of seemsleer word deur die Handboek vir die Afrikaanse Taal omskryf: "Sagte leer van skaap- of bokvel op 'n besondere wyse gelooi." Die leer word oor en oor gebrei om sag en bruikbaar te word. So sag dat dit besondere bruikbare kwaliteite verkry wat dit nooit gehad het nie. Omdat dit so 'n heerlike, sagte, bruikbare artikel geword het, is dit baie gewild en staan maar net bekend as 'n chamois. Die chamois se bruikbaarheid lê in sy sagtheid en sy soepelheid. Dit is ook baie absorberend. Wanneer God met ons werk, is Sy uiteindelike doel om ons sag en bruikbaar te maak soos 'n chamois. Wanneer ons aan Hom oorgee, sal Hy ons oor en oor brei om alle hardheid van die vlees uit ons uit te kry, asook die hardheid van die ou leersakke waar ons verstar geraak het in ons denke. Die "ek" (eie begeertes) moet oor en oor gekruisig word, sodat ons sag en bruikbaar kan word in God se hand. Sy doel met ons is bruikbaarheid onder die leiding van die Heilge Gees. Ons moet sag wees. Jesus het gesê: "Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want My juk is sag en My las is lig." (Matt. 11:29-30). Dan sê Jesus ook: "Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe" (Matt. 5:5). Nadat Moses 40 jaar in die woestyn deurgebring het, het die HERE hom geroep om Sy volk uit Egipteland uit te lei. Ten tye van opstand teen hom deur sy eie broer en suster, sê die Bybel: "Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem" (Num. 12:3). Sonder sagtheid of sagmoedigheid is dit moeilik om werklik 'n bruikbare instrument in God se hand te wees. Nog 'n goeie karaktereienskap van die chamois is dat dit absorberend is. Dit maak van die chamois 'n goeie gebruiksartikel. Dit sluit aan by sagtheid. Die gelowige moet baie kan absorbeer in God se diens. Ons moet altyd beskikbaar wees vir die Heilige Gees. Ons sagtheid absorbeer die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Ons moet drup van Sy olie. Maar, soos die chamois, het ons dalk te lank in die son gelê. Het dit dalk te maklik met ons gegaan? Die chamois moes in die houer klam gebly het. Klamheid verteenwoordig die teenwoordigheid en salwing van die Heilige Gees in ons lewe. In God se hand bly ons "klam" van die salwing, dan is ons sag en bruikbaar vir Hom. Miskien is daar tog hoop! Hoop om deur die moeilike tye weer ons God vas te gryp en ons sagtheid en soepelheid terug te kry sodat ons bruikbaar vir Hom kan wees. Dalk kan ons almal saam hande vat en by God uitkom. Ons moet net oorgee aan God, sodat ons weer sag en soepel en absorberend kan word soos 'n chamois. Die ou wynsakke moet weer nuutgemaak word, sodat ons die nuwe wyn kan bevat en bruikbaar kan wees vir God. |