DELAREYVILLE!!
 
NET ÉÉN OPROEP KAN 'N WÊRELD SE VERSKIL MAAK! ‘n Persoon uit een van die kleiner dorpe waar “Goeie Nuus” aan elke huishouding versprei word, skakel ons een oggend en sê dat hy deur Delareyville gery het en dat die Heilige Gees aan hom gesê het dat die “Goeie Nuus” ook in hierdie dorp versprei moet word.
Aangesien daar nie straat-aflewering is nie, het hy by die Poskantoor navraag gedoen en uitgevind dat daar 1 200 posbusse is waar mense hulle pos kom afhaal. Hy het genoem dat hy in opdrag van die Here bereid is om die nodige fondse te borg sodat “Goeie Nuus” voortaan ook in Delareyville versprei kan word!
Daarom is dit ons wonderlike voorreg en vreugde om vanaf Augustus 2007 ‘n verdere 1 200 gratis eksemplare van “Goeie Nuus” in ons 11de dorp te versprei. Ons oplaag verhoog tot 36 200 koerante, d.w.s. ongeveer 145 000 lesers per maand, wat ons bevoorreg is om te bedien met die “goeie nuus” van die Evangelie van Jesus Christus. Prys Sy wonderlike Naam!
Die Here het ons die afgelope maand vreugde op vreugde laat smaak deur nóg seëninge oor ons uit te giet! ‘n Ander weldoener het aan ons ‘n bedrag beskikbaar gestel om ‘n nuwe rekenaar te koop wat natuurlik ‘n groot aanwins en hulp is in die werk wat ons vir die Here doen!
Om alles te kroon het ‘n onbekende dame op ‘n dag voor ons deur stilgehou en aan ons ‘n heerlike, varsgebakte brood oorhandig met hierdie woorde: “Net om vir julle baie dankie te sê vir die wonderlike lewensbrood wat ek elke maand ontvang!”
Ons is oorstelp deur die Here se seën wat op hierdie Bediening rus. Daarby ontvang ons gedurig briewe en oproepe van mense wat baat vind en bemoedig word deur die getuienisse en artikels wat deur “Goeie Nuus” gepubliseer word. En ons is nederig-dankbaar want ons kan onomwonde verklaar dat dit NET DIE HERE is wat dit alles moontlik maak. Indien u voel dat u ook hierdie Bediening wil ondersteun om die Here se Woord nog verder en verder te versprei, sal ons dit geweldig baie waardeer indien u onderstaande debiet-ordervormp sal invul en ons op hierdie wyse help om nog verdere dorpe te bereik met die Evangelie van Jesus Christus. Ons doen ook ‘n dringende beroep op al ons lesers om ons daagliks in gebed aan die Here op te dra. Baie dankie! Ons wil u verseker dat ons u vir u, as leser, asook vir al ons adverteerders, by die Here intree. Mag Hy elkeen van u ryklik seën!
- Uitgewers van “Goeie Nuus”

Indeks     Index